Voëlkykers spot graag dat baardaasvoëls (Gypaetus barbatus) “grimering” gebruik, want die voëls vryf graag hul koppe en nekke in rooi, ysterryke grond in die kranse om hul wit vere na helderrooi-oranje te verander. Die baardaasvoël is onmiskenbaar. Die “baard” maak verwarring met ander aas- voëlsoorte onmoontlik, maar ’n mens moet naby aan die voëls wees om die oog en baard te kan sien.

Die volwasse voëls se vlerkvere en stert is donker en hul voorkant is bruin en gelerig. Jong voëls is oorwegend donker, met ’n kop wat byna heeltemal swart is. Die oog van volwasse én jong voëls is geel, met ’n rooi ring rondom. Die bene met hul dik veredos is ook tipies van die voëls. In vlug is die lang, gepunte vlerke en lang, wigvormige stert kenmerkend.

Beenvreters

Die baardaasvoël kom in die Drakensberge van KwaZulu-Natal, Lesotho, die Oos-Vrystaat en die Oos-Kaap voor. Hulle broei in dié bergagtige gebiede in gate in kranse by ’n hoogte bo 1 800 m. Hulle vlieg egter ook oor die voetheuwels rond op soek na kos. Die voëls se dieet bestaan 70% uit been, 25% uit vleis en 5% uit vel.

Hulle kan heel bene insluk wat 250 mm lank is en met ’n deursnee van 35 mm. Groter bene word weggedra en van groot hoogtes op rotse laat val sodat dit versplinter – met die murg as ’n lekker meevallertjie.

Bevolking daal vinnig

Die baardaasvoël is in Suid-Afrika as kritiek bedreig geklassifiseer. Oor die afgelope 50 jaar was daar ’n afname van 82% in hul bevolking en na raming is daar slegs 250 volwasse voëls in die streek oor. Teen 2050 sal daar waarskynlik nie meer ’n lewensvatbare bevolking wees nie.

Die kransaasvoël, wat ook in die Drakensberge voorkom, word as bedreig beskou en hul getalle het die afgelope vyf dekades met 50% gedaal. Vergiftiging, vervolging en botsings met kragdrade kry die skuld vir die dramatiese dalings. Dit is baie moeilik om die broeigewoontes van baardaasvoëls te bestudeer omdat hulle in sulke onherbergsame gebiede voorkom.

Navorsers moet na die neste stap en in die berge kampeer om die aasvoëls se gedrag en broeipogings te bestudeer. In 2011 is 25 baardaasvoëls by voerplekke gevang en met satellietsenders toegerus. Dit verskaf veral belangrike inligting oor die voëls se beweegpatrone.

Slegs vyf van die senders werk nog. Tien van die baard- aasvoëls met senders is vergiftig, een het met kragdrade gebots en een is geskiet. Die ander senders se batterye het waarskynlik met verloop van tyd pap geword.

Dink oor windplase

Vergiftiging in landelike gemeenskappe moet bekyk word, maar omdat aasvoëls maklik in windlaaiers se lemme kan vasvlieg, is die moontlike ontwikkeling van windplase, soos die voorgestelde plaas naby Letšeng-La-Terae in Lesotho ook problematies.

Dit kan lei tot die uitwissing van die Maloti-Drakensberg se bevolkings van baard- en kransaasvoëls, want tragies genoeg is die voorgestelde windplaas net wes van die Maloti-Drakensberg-oorgrenspark – in die middel van hierdie voëls se broei- en vreetgebied.

BirdLife Suid-Afrika steun die ontwikkeling van alternatiewe, volhoubare energiebronne, soos windplase, maar swak beplande liggings kan katastrofiese gevolge vir aasvoëls en ander natuurlewe inhou. Die konsensus is om windkrag-aanlegte weg van bedreigde voëlsoorte se belangrike habitatte te bou.

Dit sluit in areas waar hulle broei, vreet en rondvlieg. Maar wat kan verder gedoen word om die toekoms van hierdie skaars voëls te probeer verseker? ’n Program is begin om baardaasvoëls in aanhouding te teel nadat beslag gelê is op ’n volwasse voël wat deur iemand aangehou is.

Tot dusver is ses eiers ook al uit natuurlike neste verwyder om deel te word van die kunsmatige broeiprogram. Die doel daarvan is om 20 broeivoëls aan te hou en jong voëls vry te laat in die gebiede waar hulle tradisioneel voorgekom het. Dié program word beskou as ’n versekeringspolis om baardaasvoëls van algehele uitwissing te red.

Boere kan help om hierdie skaars voëls te bewaar deur bewustheid oor hul weerloosheid te help skep. Die artikel is geskryf met erkenning aan navorsing en verslae deur BirdLife Suid-Afrika en die Trust vir Bedreigde Natuurlewe. Dit is belangrik dat die werk van die bogenoemde organisasies ondersteun word.

Dr. Anton Odendal is die voorsitter van BirdLife Overberg. Hy woon op Hermanus.

Navrae: ’n Groot aantal voëlkykklubs is aktief in Suid-Afrika. Kontak Shireen Gould by membership@birdlife.org.za vir die kontakbesonderhede van ’n klub in jou geweste.

Oor die afgelope 50 jaar was daar ’n afname van 82% in hul bevolking en na raming is daar slegs 250 volwasse voëls in die streek oor.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.