Die reeks Cluster-trekkers van die maatskappy Goldoni, wat in wingerdtrekkers spesialiseer, sluit ’n trekkertjie van 49 kW met ’n skerp draaisirkel van sowat 2,3 m in. Die reeks trekkers se turbo-aangejaagde driesilinderenjins is spesiaal ontwerp om brandstofdoeltreffend te wees en ’n lae geraasvlak te hê.

Terselfdertyd lewer die enjins sterk wringkrag teen lae omwentelinge. Die Cluster-trekkers is slegs 1,3 m breed by hul wielbasis, maar weeg 1 170 kg, wat dit ’n kompakte trekker maak met die regte gewig om stabiliteit en krag te verseker. Dit is ideaal vir bewerkings in nou rye, terwyl die vierwielaandrywing wielglip voorkom.

Die trekker kan ook teen steil hellings gebruik word danksy die voorste as wat 15 grade kan swaai, en dus die trekker stewig op die grond hou. Die bestuurdersitplek kan ook heeltemal omgeswaai word om bewerkings wat in trurat plaasvind, te vergemaklik. ’n Reeks toebehore, waaronder ’n slootgrawer, ’n laaigraaf, ’n bossiekapper, ’n snoeisaag en driepunt-laaibakke, kan ook aangebring word. Die trekkers in die reeks is ook beskikbaar met ’n toe kajuit.

PRYS: Vanaf R590 000

NAVRAE: Mnr. Donovan Ritchie, Razorback, e-pos: djritchie@telkomsa.net, sel 083 625 5893 of tel. 012 661 0863.