Mnr. Isak Staats, hoofbestuurder van BKB se wol-en-bokhaarafdeling, het tydens sy voorlegging aan produsente, kopers en handelaars by BKB se hoofkantoor in Port Elizabeth voorgestel dat alle wolbale in Suid-Afrika geïdentifiseer word met ’n etiket wat ’n mikroskyfie, staafkode en unieke nommer bevat.

Alle inligting oor die wolbaal word dan aan dié unieke etiket gekoppel namate die baal deur die produksieketting beweeg en hanteer word – van die boer, makelaars en kopers tot die verwerkers. Die verskillende stappe van hantering vorm die blokke van die blokketting en verseker volledige naspeurbaarheid.

“BKB kan nou sê dat ons ’n betroubare stelsel het, en dat ons die skoolgeld betaal het om tot hier te vorder. Vir ons om egter die werklike waarde van die tegnologie te benut, moet dit reg deur die bedryf ingespan word,” het Staats gesê.

VERTROUE

Volgens mnr. Jaco Maass, hoofbestuurder van inligting- en kommunikasietegnologie by BKB, is die gebruik van die tegnologie noodsaaklik om vertroue by kopers aan te moedig deur middel van vertroue en naspeurbaarheid. Hy het gesê boere, handelaars en kopers het elkeen hul eie stelsels waarvolgens hulle data rakende wol aanteken.

BKB se blokkettingtegnologie skep die vermoë om al hierdie stelsels met mekaar te verbind, om só relevante inligting met belanghebbendes in die waardeketting te kan deel. BKB is reeds die afgelope paar jaar besig om radiofrekwensie-identifikasietegnologie (RFID) in te span om sy wolpakhuise te outomatiseer, en vir voorraadopname en sortering.

Met RFID- tegnologie word die inligting van elke baal se unieke etikette gelees. Die maatskappy werk saam met die inligtingstegnologiemaatskappy Dimension Data (https://www.dimensiondata.com/) om sy eie inligtingstelsel te ontwikkel. Volgens Staats is die maat- skappy bereid om wat hy tot dusver geleer het, oor te dra aan ander belanghebbendes in die bedryf sodat hulle nie dieselfde skoolgeld hoef te betaal nie.

Hy het gesê hoewel die blokketting op die plaas begin, sal die eintlike waarde van die teg- nologie in die pakhuise benut kan word. “Ons sal elke wolbaal in Suid- Afrika met ’n kenkaartjie moet toerus om te verseker ons kry ’n omvattende naspeurstelsel aan die gang.”

WÊRELDLEIER

Volgens Staats is BKB tans die enigste diereveselmaatskappy ter wêreld wat dié tegnologie gebruik, en sal Suid-Afrika wêreldwyd die voortou neem met die aanneem van die tegnologie.

Tydens die vergadering het Paul Lynch van Standard Wool SA genoem dat indien die tegnologie net binne Suid-Afrika se grense toegepas word, dit vir Suid-Afrika ’n verdere bemarkingsvoordeel sal gee. “Een van Suid-Afrika se groot-ste struikelblokke is biosekerheid en volhoubaarheid, en met hierdie tegnologie sal ons kopersekerheid kan aanpak en ons produk beter bemark.”

Die stelsel sal ook aangewend kan word in die naspeurbaarheid van wol wat ingevolge die verantwoordelike wolstandaard geproduseer is, wat al meer voorrang by kopers geniet.

VOORDELE

Staats het gesê dat die eerste stap op die plaas sal wees, waar boere hul woladvieskaart deur middel van ’n selfoontoepassing sal invul. Dié inligting sal onmiddellik beskikbaar wees by die makelaar en sal gekoppel word aan die baal se unieke etiket. “Dit sal die eerste blokkie in die blokketting wees, wat beteken daar is 100% naspeurbaarheid oor waar die wol vandaan kom.”

Hy het gesê die voordeel van die blokketting is dat verskeie bronne dieselfde inligting bevestig. Die volgende persoon in die ketting wat die bestaan van die baal sal bevestig, is die persoon wat die baal op die vragmotor laai, waarna die bestaan van die baal weer by die wolpakhuise bevestig sal word. “So kan ons ook diefstal verminder, want nou weet ons dié baal is op ’n spesifieke vragmotor gelaai en behoort aan ’n spesifieke eienaar.”

Nog inligting wat in die blokketting ingevoeg kan word, is die transaksies wat plaasvind, waaraan daar ook ’n tyd gekoppel word.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.