Buiten die opbrengsverliese wat dit kan meebring, is dit ook giftig vir diere en selfs kinders. Die groot genetiese diversiteit van amarantsoorte is bevorderlik vir die vinnige opbou van weerstand teen onkruiddoders.

Amaranthus-soorte (misbredies) kom wydverspreid in Suid-Afrika voor en is bekende onkruide in tuine, boorde en gewaslande.

Dit is kosmopolitiese onkruide wat wydverspreid in baie dele van die wêreld so algemeen en in sulke hoë getalle voorkom dat hulle onkruidstatus verwerf het, veral waar hul teenwoordigheid indruis teen menslike aktiwiteite, soos gewasproduksie en tuinmaak.

Omdat die misbredies almal eenjarige plante is, is hul groeitempo vinnig en daarom neem hulle groot hoeveelhede voedingselemente en water op. Dit lei tot sterk mededinging om hierdie groeifaktore met gewasplante.

Misbrediesoorte in Suid-Afrika

Vyf misbredies is endemies aan Suid-Afrika, wat beteken hul oorsprong en natuurlike verspreiding val binne die grense van Suid-Afrika: Amaranthus capensis subsp. capensis, subsp. uncinatus; A. dinteri subsp. dinteri, subsp. dinteri var. a (ook in Namibië en Botswana) en subsp. dinteri var. b (ook in Namibië).

Drie Suider-Afrikaanse soorte kom ook in Suid-Afrika voor: A. praetermisus, A. schinzianus en A. thunbergii. Na die beste van ons wete is daar sewe misbrediesoorte van Suider-Afrikaanse oorsprong wat nog nie in Suid-Afrika voorkom nie: A. dinteri subsp. brevipetiolatus, A. graecizans subsp. graecizans, subsp. silvestris, subsp. thellungianus, A. lividus subsp. lividus, A. sparganiocephalus en A. tricolor.

Vyftien soorte misbredies met oorsprong buite die Afrika-kontinent kom in Suid-Afrika voor: A. blitoides, A. caudatus, A. deflexus, A. dubius, A. hybridus subsp. cruentus, subsp. hybridus var. erythrostachys, subsp. hybridus var. hybridus, A. lividus subsp. polygonoides, A. muricatus, A. palmeri (Let wel: Dit is in Maart 2018 die eerste keer in Suid-Afrika aangeteken), A. retroflexus var. delilei, var. retroflexus, A. spinosus, A. stanleyanus en A. viridis.

misbredies verbaster

Nie net die uitheemse soorte verbaster onder mekaar in die Suid-Afrika nie, maar ook die inheemse spesies onder mekaar en ook met die uitheemse soorte (persoonlike mededeling deur Hans Vahrmeijer). Verbastering maak korrekte identifikasie moeilik. Dit kan nadele inhou vir die doeltreffende bestryding van misbredies met onkruiddoders.

Min van die soorte wat hierbo as aanwesig in Suid-Afrika aangetoon word, verskyn op die etikette van onkruiddoderprodukte wat plaaslik geregistreer is.

Amaranthus hybridus (oorsprong Noord-Amerika), wat in volksmond as Kaapse misbredie bekend staan, is so volop en wydverspreid oor Suid-Afrika dat min mense dit beskou vir wat dit in werklikheid is – ’n uitheemse indringerplant wat oor ’n lank tyd plaaslik genaturaliseer geraak het. Dit is waarskynlik die skadelikste onkruidmisbredie in Suid-Afrika.

Al hoe meer klagtes word ontvang van die swak werking van onkruiddoders wat voorheen hierdie onkruid maklik bekamp het. Is swakker bestryding met onkruiddoders te wyte aan die opbou van weerstand teen sekere onkruiddoders, of is daar weens verbastering tussen misbrediesoorte ’n “nuwe” misbredie?

Amaranthus palmeri is nuut in Suid-Afrika. Dit is in Amerika die skadelikste onkruid by mielies, katoen en sojabone. In Amerika is opbrengsverliese van 91% by mielies al aangemeld.

Amaranthus palmeri (Palmer amaranth; of carelessweed) se teenwoordigheid is eers onlangs (Maart 2018) die eerste keer in Suid-Afrika bevestig (sien ook “Só lyk VSA se voorste onkruid”, en “Amaranthus palmeri se opmars oor Amerika”). Hierdie soort misbredie het die vermoë om nie alleenlik in die skadelikste misbrediesoort in Suid-Afrika te ontaard nie, maar ook om die ergste onkruid van alle tye by eenjarige gewasse te word.

Navorsing oor hierdie “nuwe” misbredie word in hierdie stadium deur die Suid-Afrikaanse inisiatief vir onkruiddoderweerstand (SAHRI) aan die Universiteit van Pretoria gedoen.

In Amerika (waar Amaranthus palmeri oorspronklik vandaan kom) is bevind dat die plant weerstand teen verskillende soorte onkruiddoders, wat tot ses verskillende groepe meganismes van werking behoort, in ’n betreklik kort tyd (ongeveer tien jaar) in mielie-, katoen- en sojaboonproduksiestelsels opgebou het.

Toksisiteit vir vee

’n Minder bekende skadelike uitwerking van misbredies is die toksisiteit daarvan as gevolg van die hoë nitraatinhoud van plante (Van Wyk et al. 2005). Nitraatvergiftiging (ook na verwys as nitrietvergiftiging) word veral by herkouers, soos skape en beeste, veroorsaak, maar selfs kinders kan aangetas word.

Sterftes kan volg op die inname van groot hoeveelhede plantmateriaal (vars of droog) binne ’n kort tyd. Honger diere is meer blootgestel daaraan (Vahrmeijer, 1981). Misbredies kom veral voor by krale (nuut en oud) en rondom veesuipings en -krippe waar daar konsentrasies van mis is, wat hoog is in ammonium, nitrate en nitriete.

Verskeie ander plantsoorte, soos beet, kanola, soedangras, sorghum, hawer, gars, koring en mielies, kan toksiese vlakke van nitraat binne-in plante opbou (Kellerman et al. 1988). Laasgenoemde outeurs wys daarop dat plante betreklik min nitrate bevat vergeleke met besoedelde water.

Nitraatvergiftiging is te wyte aan die omskakeling van nitrate (nie-toksiese NO3) in die rumen van herkouers na nitriet (toksiese NO2), wat akkumuleer wanneer omskakeling na ammonium (nie-toksiese NH4) nie vinnig genoeg plaasvind nie, soos wat gebeur as ’n groot hoeveelheid plantmateriaal met ’n hoë nitraatinhoud binne ’n kort tyd ingeneem word.

Wanneer nitriet in die bloedstroom beland, benadeel dit die vermoë van rooibloedselle om suurstof te vervoer. Dit veroorsaak die tipiese donkerbruin verkleuring van bloed in die karkas wat opvallend is in nadoodse ondersoeke (Vahtmeijer, 1981; Kellerman et al. 1988).

Amaranthus palmeri in ’n katoenland in die distrik Douglas op 26 April 2018.

Voedselbron vir mense

Dit is ironies dat ’n hoogs voedsame plantsoort, soos die misbredies, die oorsaak is van dodelike vergiftiging van herkouers. Amarant word eeue lank reeds deur mense benut as graangewas en as blaargroente.

In Amerika is amarant in navorsing in 1975 deur die nasionale akademie van wetenskappe geklassifiseer as die voorste kandidaat onder 36 plantsoorte wat betref belofte as toekomstige gewassoort.

Voordat Columbus die “Nuwe Wêreld” van die Amerikas bereik het, was amarantgraan een van die stapelvoedsels van die Asteke en Inkas – feitlik net so ’n belangrike gewas as mielies en bone.

Volgens oorlewering is 20 000 ton amarantgraan vanaf 17 provinsies gestuur na die hoofstad Tenochtitlan (hedendaagse stad Mexiko) as jaarlikse geskenk aan die Asteekse heerser Montezuma. Amarant is verweef met legendes en rituele van antieke tye – dit is gebruik in godsdienstige rituele waartydens mense die slagoffers was (Plucknett et al., 1984, “Amaranth – Modern prospects for an ancient crop”).

Nadat die Spanjaarde die nuwe heersers geword het, het amarant as gewas grootliks van die toneel verdwyn, maar in moderne tye is die potensiaal daarvan as gewassoort as’t ware herontdek en word dit vandag as “nuwe” gewas in verskeie dele van die wêreld beproef en selfs kommersieel verbou.

Amarantsade is baie klein (1 000 tot 3 000 sade per gram) en kiem en semel maak 26% van saad uit; die meel 74% – ongeveer dieselfde as vir koringgraan. Amarant-saadkiem kan tot 30% proteïen bevat en ongeveer 20% olie. Die semels is hoog in vesel, proteïen, vitamiene en minerale.

Die meeste amarantsoorte se blare is eetbaar en word vir millennia algemeen gebruik as kookgroente (die Sotho-woord daarvoor is “marog”). Vanaf antieke tye is die plante geselekteer vir smaaklikheid, vinnige groeitempo en aanpasbaarheid by warm, droë klimate.

In sekere Afrikalande word gereken dat amarantblare in tot 25% van die daaglikse proteïeninname van mense voorsien (Plucknett et al., 1984).

Geen wonder dus dat amarantsoorte in die algemeen onkruidstatus verwerf het nie – hierdie plante is deur mense geselekteer vir dieselfde eienskappe wat “onkruid” definieer, waaronder vinnige groeitempo, aanpasbaarheid by “harde” omgewings, produksie van groot hoeveelhede saad, en insek- en siektebestandheid.

’n Onderliggende faktor in hul onkruidstatus is die groot genetiese diversiteit in amarantsoorte wat onder meer bevorderlik is vir die vinnige opbou van weerstand teen onkruiddoders. Die skrywer se navorsingsfokus is tans op Amaranthus palmeri, wat ’n ontluikende skadelike onkruid in Suid-Afrika is.

Aanmelding van die teenwoordigheid van hierdie plant is noodsaaklik om die impak daarvan op Suid-Afrikaanse landbou te beperk, en ideaalsgewys dalk selfs in die kiem te smoor. Lesers wat die plant gewaar, of dit selfs net vermoed, kan sulke gevalle by die skrywer aanmeld vir verdere ondersoek.

Dr. Charlie Reinhardt is projekleier van die SAHRI-navorsingsprogram (http://www.up.ac.za/Sahri) by die Universiteit van Pretoria, en buitengewone professor in onkruidwetenskap by die Universiteit Stellenbosch.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.