Die slagspreuk wat my die meeste getref het, was: “Thank the farmer.” Dit is net so waar soos een van die ander slagspreuke wat ek ook langs die pad gesien het: “No farmer, no food, no future.”

Dit eggo die wyse woorde van mnr. Kofi Annan, voormalige sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, wat gesê het: “Dit is tyd dat ons ons manier van dink verander. Boere is nie die rede vir Afrika se armoede nie; hulle is die potensiële oplossing.”

Elke boer in Zambië bring sy kant, of dit nou die bestaans-, tradisionele of kleinboere óf die kommersiële boere met hul groot plase en meganiese besproeiing is. Daar het ek weer gesien hoe hard hierdie mense moet werk vir ’n klein bietjie geld, maar hulle doen dit elke dag. Hoe basies is jou lewe as jy in ’n modderhut met ’n grasdak bly, water uit ’n put met ’n tou en emmer moet trek, geen elektrisiteit het nie en as jy jou stukkie grond met ’n handskoffel of -ploeg moet bewerk?

Hierdie boer kweek net genoeg vir hom en sy familie, en lewe van die hand na die mond. Die tradisionele boere in Zambië dink anders en produseer meer as wat hulle nodig het. As daar ’n oorskot groente of mielies is, word dit met ’n fiets, donkiekar of per voet na die naaste dorp of nedersetting geneem.

In die algemeen gaan dit goed met Zambië se landbou en is daar ’n groot oplewing in die produksie van groente en mielies. Die 1,6 miljoen tradisionele boere speel die grootste rol in dié suksesstorie. Die regering meen as hulle gehelp kan word om op ’n meer kommersiële grondslag te funksioneer, sal armoede en werkloosheid bekamp kan word.

Kleinboere Verenig

Baie min groente of vrugte word uit Suid-Afrika ingevoer omdat dié produkte plaaslik goed groei. Die Suid-Afrikaanse kettingwinkels wat reeds flink sake doen in Zambië – soos Shoprite, Spar en Pick n Pay – plaas ál meer plaaslik geproduseerde aartappels, boontjies, kool, tamaties, uie, pampoen, rys, vleis en eiers op hul rakke.

’n Tradisionele boer woeker met sy handploeg en osse om sy lappie grond te bewerk.
Klein landbouwinkeltjies, soos dié een naby Choma, gee aan kleiner boere toegang tot brood­nodige produksiemiddele.

Mnr. Sam Sikadzwe, ’n tradisionele boer met wie ek naby die dorp Kapiri Mposhi in Sentraal-Zambië gesels het, sê hulle probeer saamwerk om kettingwinkels op ’n bestendiger grondslag van groente te voorsien. Op sy eie kan een boer nie in byvoorbeeld Shoprite se vraag voorsien nie, maar sáám kan hulle.

Rys (bekend as mongu-rys), wat op die vloedvlaktes van die Zambezirivier in Barotseland gekweek word, is in winkels reg oor die land beskikbaar en word ook na buurlande uitgevoer. Die tradisionele boere bewerk hul lande op die chetemene-manier. Dié Bemba-woord beteken “die plek waar takke gekap is om tuin te maak”. Bosse en bome word dus uitgekap en verbrand om plek te maak vir landbougewasse. Die plasies wissel van so groot soos 2 hektaar (60% van die boere) tot so klein soos 200 m².

helpende hand

Hoe het hulle Zambië se suksesstorie begin skryf? Die antwoord lê in regeringsubsidies vir kunsmis en saad, “propaganda”-slagspreuke, die vestiging van goeie infrastruktuur, en die beskikbaarmaking van plaaswerktuie, soos handploeë en -skoffels. Die groot verspreiders van kunsmis, saad en landbouchemikalieë het ’n groot rol daarin gespeel. Boere in elke nedersetting op die platteland het deur klein winkels toegang tot hierdie produksiemiddele.

Die Zambiese regering het reeds in 1995 die Voedselreserwe-agentskap ingestel, wat belangrik was om groei in die landbou aan te moedig. Die agent- skap moet jaarliks bepaal hoeveel graangewasse nodig is om die land se voedselreserwes te onderhou. Die agentskap gee dan voorkeur aan tradisionele, plattelandse boere as hy mielies aankoop.

Elke tradisionele boer wat ’n oorskot mielies lewer, gooi dit in sakke en los dit langs die grootpad vir die distriksraad om op te laai en na ’n sentrale opbergingsaanleg te neem. Niemand steel daai sakke mielies nie! Die boer los sy naam en besonderhede op ’n brief by die sakke, en ’n paar dae later gaan haal hy sy geld by die distrikskantoor. Dit verseker die boere van ’n inkomste aan die begin van elke oesjaar. 

Jurie van der Walt is ’n oud-joernalis wat tans ’n heuningbosteeprojek in die Langkloof bedryf. Hy was einde verlede jaar deel van ’n safarigroep wat 5 500 km deur Botswana, die Caprivi en Zambië gereis het.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.