Laat die natuur vir jou geld maak

Herlewingslandbou is boere se kostedoeltreffende wapen teen stygende insetkoste en klimaatsverandering, deur natuurlike prosesse weer optimaal te laat funksioneer.

Landbouweekblad – met die samewerking van Graan SA, die Riemland-studiegroep, VKB, Elim Fertiliser en Agricol – bring vanjaar weer wêreldbekende sprekers, plaaslike kenners en suksesvolle Suid-Afrikaanse boere (wat reeds hul skoolgeld betaal het) byeen vir ’n Suid-Afrikaanse konferensie oor herlewingslandbou, om só hoop te bring vir honderde boere wat in ’n onverbiddelike kosteknyptang vasgevang is.

Internasionale sprekers

Dr. Jonathan Lundgren, ’n entomoloog en landbou-ekoloog, word beskou as een van Amerika se voorste landbouwetenskaplikes. Hy het in 2011 ’n eerbewys ontvang van oudpres. Barack Obama. Hy het 11 jaar lank as ’n landbouwetenskaplike vir Amerika se landbounavorsingdienste gewerk voordat hy die Blue Dasher Farm-navorsings-en-opleidingsinstituut gestig het.

Sy navorsing is toegespits op die vestiging en behoud van gesonde biologiese gemeenskappe binne landboustelsels deur versteuring te verminder en diversiteit binne veral saaigebiede uit te bou. Hy gaan praat oor biodiver siteit en hoe dit plase kan laat herleef.

Dr. Kris Nichols word beskou as ’n wêreldleier in die beweging om landbougrond te laat herleef om gesonder kos te produseer. As grondmikrobioloog met 25 jaar ondervinding, lê sy klem op die bou van gesonde grond en die ontwikkeling van landboupraktyke wat minder sintetiese insette nodig het en erosie en kweekhuisgasse verminder.

Sy was hoofwetenskaplike by die gesiene Rodale-instituut en ’n leidende navorser by die Amerikaanse departement van landbou. Sy gaan praat oor die belangrike funksie van grondmikrobes in herlewingslandbou en hoe dit bydra tot gesonde grond, plante en mense. 

Dale Strickler was eens op ’n tyd erg skepties oor die waarde van bewaringsbewerking, maar deesdae pas hy nie net bewaringsbewerking toe op sy plaas in die Amerikaanse deelstaat Kansas nie, maar ook ultrahoëdigtheidsbeweiding.

In sy rol as nasionale tegniese bestuurder vir Green Cover Seed, die voorste dekgewasmaatskappy in Amerika, werk hy nou saam met boere om herlewingslandbou op plase te vestig. Sy boek, The Drought Resilient Farm, is ’n samevatting van die lesse wat hy oor die jare geleer het oor hoe herlewingslandbou boere se veerkragtigheid merkwaardig kan verbeter.

Hoogtepunte

  • ’n Boerepaneel met van Suid-Afrika se beste boere gaan verskillende perspektiewe, lesse, uitdagings en suksesse deel.
  • Plaasbesoek – gaan kyk na praktiese veldproewe van die vernuwende Riemland-studiegroep.
  • Uitstallings van diens- en produkverskaffers.

Inligting

Datum en plek: Maandag 16 en Dinsdag 17 Maart 2020, Reitz-skouterrein, Sarel Cilliersstraat/R57, Reitz.

Verblyf op Reitz: Danie van Aswegen – e-pos: danie@agrixtreme.co.za; sel 082 534 8372.

Navrae: Jacolette Kloppers – e-pos: jacolette.kloppers@landbou.com; tel. 021 406 2594.

Program: Die volledige program is hierby aangeheg.

Taal: ’n Professionele tolkdiens in Afrikaans en Engels gaan beskikbaar wees.

Koste en kaartjies

  • R1 990 per persoon vir albei dae.
  • Bespreek teen 5 Februarie en betaal R1 850.
  • BTW, etes, verversings en ’n plaasbesoek (veldproewe) ingesluit.
  • Koop kaartjies aanlyn
  • Kaartjieverkope sluit op 2 Maart 2020.
  • Geen kaartjies is by die hekke te koop nie.
  • Geen toegang sonder bewys van die Quicket-kaartjie nie. Alle kaartjies word by die hek geskandeer. Geen kaartjie, geen toegang.
Health Squared