Hy was een van verskeie internasionale gassprekers wat by Landbouweekblad se herlewingslandbou-konferensies op Reitz, Ottosdal en die Wes-Kaapse Joostenbergvlakte sy kennis oor herlewingslandbou gedeel het.

Kloot, wat herlewingslandbou as die oplossing vir die landbou op die konferensies bespreek het, het met Landbouweekblad gesels oor wat sy belangstelling in grond geprikkel het en die rol wat herlewingslandbou in die moderne landbou speel. 

Jy is eintlik 'n opgeleide chemiese ingenieur. Hoe het jy in grond begin belang stel?

Toe ek die mynbedryf verlaat het, het ek Amerika toe gekom om vir die graad MBA te studeer. Ek het uiteindelik by die Universiteit van Suid-Carolina as ’n kontrakteur beland. In die proses het ek ’n doktorsgraad in akwatiese wetenskappe verwerf. Met hierdie vakgebied het ek gou bitter gefrustreerd geraak, want al wat ek gedoen het, was om te verduidelik “hoe hierdie stuk water doodgegaan het”.

Toe ek Ray Archuleta (nog ’n Amerikaanse grondgesondheidkenner) in 2010 ontmoet het, was dit die eerste keer in my lewe wat ek gehoor het ons kan grond verander.

Ek was binne twee uur oortuig dat ons die gesondheid van riviere en mere kan herstel as ons grondgesondheid herstel. Daar was in my gemoed geen meer gewonder oor bewaringstrategieë soos bufferstroke wat die simptoom probeer oplos, maar nie die aanvanklike oorsaak nie.

Wat het jou die heel meeste oor die herlewingsvermoë van grond verras?

Ek het vroeër gedink grond is net grond – sand, leem en klei. In die handboeke is dit bloot beskryf as ’n medium waarin plante groei. Die klein hoofstukkies oor biologie het in die handboeke die boodskap oorgedra dat biologie belangrik is, maar dat ons ons in die praktyk nie daaroor moet bekommer nie. Ek was verstom toe ek die eerste keer ’n blus-toets (slake test) gesien het waarmee grond waarop dekgewasse verbou word, vergelyk word met grond waarop konvensioneel geboer word.

Hoekom het dit ons so lank geneem om die kompleksiteit van grondfunksie te besef?

Dis ’n ou chemiese ingesteldheid. Ek moes myself eers leer om ontslae te raak van wat die “kundiges” geleer het, en her-leer. Dié proses het my nederig gemaak.

Hoekom dink jy party boere bytsteeds langtand aan herlewingslandbou, selfs om dit net te probeer?

Want hulle is menslik. Om dít wat jy geleer is opsy te skuif, maak ’n mens bang, en dit is moeilike om te sê “ek was verkeerd”. Hou in gedagte dat daar in die bedryf en onder akademici baie is wat baie suksesvol volgens die ou paradigma gewerk het.

Party van die dinge wat ons (met herlewingslandbou-praktyke) doen, vind hulle mal, en daar is baie mense in landboukolleges en reg oor my distrik wat dink mense soos ek en boere wat daarmee begin, is onnosel.

Dink jy dis ’n probleem om navorsing oor herlewingslandbou op die plaas gedoen te kry en hoekom?

Natuurlik. Maar ek dink dit word bietjie makliker namate die ouer geslagte aftree. My gevoel is dat die jonger boere baie meer oop is vir ’n ekologiese en herlewingsbenadering tot die landbou. Ek meen sosiale media het ’n groot rol gespeel.

Omdat ek verbonde is aan ’n universiteit wat nie ’n landboukollege het nie, en in die fakulteit vir openbare gesondheid werk, was ek verstom om te sien hoe relatief maklik dit was om met crowd-funding (op die internet) onder die vaandel van die webtuiste experiment.com rondom $28 000 (amper R400 000) bymekaar te skraap vir projekte soos om te toets of boere met kunsmis oorbemes, en of daar goedkoper opsies is.Ek glo mense is gereed vir ’n nuwe bestel.

Dink jy herlewingslandbou het ’n rol te speel om klimaatverandering teen te werk?

Ek kan nie ’n wetenskaplike mening daaroor gee nie, maar my instink is baie sterk dat dit wel so is. Kom ons veronderstel ek is verkeerd, staan die feite steeds dat dit vir die boer goed is om koolstof en vog uit die atmosfeer te onttrek, en dít is ook vir die omgewing en verbruiker goed. Ek is dus tevrede om vir boere se welsyn aan te hou werk.

As dit klimaatsverandering teenwerk, is die wonderlik vir ons almal. In die wêreld en omgewing waar ek werk, is die kwessie van klimaatsverandering steeds die agteros in die kraal.

Wat is die grootste tegniese kwessies vir boere wat vandag dekgewasse en ultrahoëdrukbeweiding in ? konvensionele stelsel wil integreer?

Ek meen boere is super-innoverend. Sodra hulle ’n konsep verstaan, maak hulle vinnig hul eie planne (“met bloudraad en kougom”) wat werk. Die grootste kwessie is om ’n boer te help om dinge af te leer waarmee hy of sy vanaf ’n baie jong ouderdom gebombardeer is, en om hulle te help om eerder die basiese beginsels van grondgesondheid te begryp en te aanvaar.

Dekgewasse met multispesies is waarskynlik die heel doeltreffendste manier om boere op die grond te laat sien wat die moontlikhede is. Dít kan byvoorbeeld tot die byvoeging van ’n paar gewasse in die wisselboustelsel lei, of dalk om op klein dele van die plaas organiese gewasse te beproef, hul eie dekgewassaad te verbou en te oes, vee in die stelsel in te bring, of vee vanaf buurplase op kontrak in te bring.

Om ’n lang storie kort te maak, verbeterde grondgesondheid open deure om wins per hektaar te verhoog. Daarop volg groter vryheid, en nog belangriker, groter lewensgehalte. Daar is ’n aanhaling van wyle Harrington Emerson, die Amerikaanse ingenieur en sake-kundige, wat lui: “Sover dit metodes aangaan, is daar miskien ’n miljoen of dalk meer, maar beginsels is min. Die man wat beginsels verstaan, kan suksesvol sy eie metodes ontwikkel. Die man wat metodes probeer en beginsels ignoreer, gaan sekerlik moeilikheid optel.”

VKB
VKB
Standard Bank
Standard Bank
InteliGro

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.