“Dit was heelwat meer as wat ons verwag het,” sê mnr. Hendrik Jordaan van Laurik International, ’n private konsultasie-onderneming wat in Buenos Aires, Argentinië, gesetel is en die boeredag namens die ambassade gereël het.

“Ons het gereken sowat 100 mense sou dit bywoon. Die opkoms wys dat die boere van die omgewing baie belangstelling het, nie net in Argentinië nie, maar ook in die bewerkingsmetodes.”

Mnre. Manuel Ferrari en Carlos Galarza, albei van die Argentynse nasionale landbou-instituut, het boere van die omgewing op mnr. Hendrik Odendaal se plaas by Standerton toegespreek oor geenbewerkingsmetodes wat in Argentinië toegepas word.

’n Dekade

Argentinië doen al vir meer as tien jaar besigheid met Suid-Afrika, maar daar was nog nooit geleentheid vir Suid-Afrikaanse boere om werklik te sien waar en wat alles van Argentinië vir hulle beskikbaar is nie. “En ongelukkig is Argentinië altyd om verkeerde redes in Suid-Afrika in die nuus. Wat ons dus deur die boeredag vir die boere wou wys, is dat daar baie Argentynse produkte vir hulle beskikbaar is. Daarom het ons van die Argentynse maatskappye in Suid-Afrika genooi om deel van die boeredag te wees sodat boere aan die produkte blootgestel kan word,” sê Jordaan.

Mnre. Manuel Ferrari en Carlos Galarza, albei van
Mnre. Manuel Ferrari en Carlos Galarza, albei van die Argentynse nasionale landbou-instituut. FOTO: Marieke Snyman

Hy meen daar is ’n groot ooreenkoms tussen die produksietoestande in Argentinië en Suid-Afrika met ’n groot gedeelte van Suid-Afrika wat ook droog is. “In Argentinië het hulle ook met waterbesparing gesukkel en om ’n deklaag op die land te kry, was ’n kwessie. Argentynse boere het dit egter die afgelope 40 jaar reggekry. Die idee is om daardie selfde metodes in Suid-Afrika bekend te stel, maar met 40 jaar se ervaring daarby sodat Suid-Afrikaanse boere nie voor hoef te begin en dieselfde foute te maak wat die Argentyne gemaak het nie.”

Die algemene terugvoer wat boere op die dag gegee het, is baie gunstig. Elke boer wat die geleentheid bygewoon het, het vasgenael gesit terwyl Ferrari en Galarza hul aanbiedinge gedoen het. “Die grootste verskil tussen Suid-Afrika en Argentinië is die diversifikasie met beeste wat Suid-Afrikaners toepas,” sê Ferrari. “Moenie ophou daarmee nie. Dit is baie goed vir grond se gesondheid en uiteraard die volhoubaarheid van jou boerdery.”

Jordaan sê die boere het gehou van die nuwe sienswyse wat die twee landboukundiges gebied het. “Boere het wenke gekry oor hoe om ’n boerdery meer volhoubaar en ekonomies te bestuur in ’n tyd dat koste styg. Dit was baie insiggewend.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.