Dit was deel van mnr. Gert Janse van Rensburg van die Langplaas-boerdery in die distrik Brits se boodskap tydens die herlewingslandboukonferensie op Ottosdal. Landbouweekblad het die konferensie met die samewerking van die Ottosdal-geenbewerkingsklub en Graan SA aangebied.

“As jy hom doodmaak, gaan jy sy werk erf,” het Janse van Rensburg gewaarsku oor die gebruik van chemiese middels. Hy boer sedert 2006 saam met sy pa en broers op sowat 1 200 ha met groente en beeste. Hy het ook voorheen met mielies geboer.

Hy het gesê hulle het 10 jaar gelede begin om herlewingslandboupraktyke toe te pas. Sedert 2015 pas hulle ultrahoëdrukbeweiding en ’n mengsel van dekgewasse op hul lande toe.

Janse van Rensburg se stelsel is so saamgestel dat die draad wat die beeste laat saambondel, elke 20 minute geskuif word. “Jy het derhalwe net een werker nodig om sowat 1 000 beeste te hanteer.”

Die stelsel stel hulle in staat om op ’n natuurlike manier urine en mis van die beeste in die grond ingewerk te kry. “Ons het nie meer mis wat in die krale ophoop en wat jy met groot koste na die landerye moet vervoer nie. Dis word alles nou direk in die land ingewerk.” 

Voordelige insekte

Janse van Rensburg het gesê hul chemiese spoor is baie laag. Die voorkoms van siektes en plae het afgeneem omdat hulle hul bemestingspraktyke beter bestuur. Geenbewerking is steeds vir hulle ’n kwessie vanweë die gewasse wat hulle verbou, maar met die korrekte toepassing van bemestigingspraktyke het hulle 16 ton mielies per hektaar geoes.

“As jy een van die outjies (voordelige insekte en organismes) in die grond doodmaak, dan erf jy sy werk. Jy gaan betaal vir dit wat jy doodmaak, want ons almal weet insetkoste styg al hoe meer, en vir dit wat jy doodmaak, moet jy weer op ’n ander manier opmaak.”  

Janse van Rensburg het gesê dis belangrik dat jy nie net aan die simptome in jou grond aandag gee nie, maar om die probleme te bestuur. Hy het onder meer opmerkings gemaak oor die bestuur van aalwurms in grond. “Deur net die aalwurms te probeer bekamp, probeer jy die simptoom van ’n probleem in jou grond aanpak. Identifiseer wat die probleem is en probeer die probleme oplos. Ons moet onsself af vra, bestuur ons simptome of bestuur ons probleme en probeer probleme oplos?”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.