Die konferensie en praktiese dag, wat met die samewerking van Landbouweekblad, LandCare Wes-Kaap en die Wintergraantrust gehou word, bring sprekers uit Wes-Australië, die Vrystaat en die Wes-Kaap byeen.

Die skakel wat jy moet volg om by die Quicket-aanlynbesprekingswebwerf uit te kom, is http://qkt.io/9bbSE5. Jy kan ook die QR-kode skandeer:

By die konferensie op 7 Augustus by Houwhoek Inn buite Grabouw val die klem op boere se ervaring met bewaringsboerdery. Mnr. Trevor Syme, ’n boer van Wes-Australië, praat oor die motivering vir beheerde spoorverkeer, en mnr. Hume Schönfeld, ’n boer van Caledon, bespreek sy ervaring met beheerde spoorverkeer.

Mnr. Clint Della Bosca, ’n boer van Wes-Australië en voorsitter van die Wes-Australiese geenbewerkingsboerevereniging (WANTFA) sal oor sy ervaring met boerdery in ’n laereënvalgebied praat.

Mnr. Izak Dreyer, ’n boer van Vrede in die Vrystaat, gaan oor dekgewasse en beweiding praat, en mnr. Andries van der Poll, ’n nuwegeslag-graanboer van Gouda, gaan meer oor sy vordering in die graanbedryf vertel.

Die dag word afgesluit met praatjies oor onlangse navorsing deur dr. Craig Galloway, navorser oor volhoubare landbou by Trace & Save, oor grondgesondheid by weidings, en dr. Hendrik Smith van Graan SA en me. Lorren de Kock van Blue North oor die koolstofspoor van koringproduksie in die Wes-Kaap.

Die praktiese dag word op 8 Augustus op die proefplaas Tygerhoek gehou. Verskillende proewe kan besigtig word.

Dit kos R800 per persoon om die konferensie en praktiese dag by te woon. Studente betaal R600. Mense wat net die praktiese dag wil bywoon, betaal R200, en studente R100.