Dwayne is ’n navorser wat sedert die vroeë 1990’s die Dakota Lakes-navorsingsplaas naby Pierre in die Amerikaanse deelstaat Suid-Dakota bestuur. Die plaas word deur 11 boere besit en geenbewerking word sedert 1991 daar toegepas.

Een van die interessante navorsingsvrae wat Dwayne op die plaas probeer beantwoord, is watter uitwerking verskillende gewasrotasies op grondgesondheid het. Sy navorsing het getoon dat dit ’n baie nadelige uitwerking op die totale koolstofinhoud van die grond het as meer as 25% van die gewasse in die rotasie met ’n lae koolstof-tot-stikstofverhouding het. Dit is ook nadelig vir die diversiteit van grondlewe en bring mee dat die siektedruk verhoog.

Dwayne is besig om ’n selfaangedrewe hoëdrukbeweidingtoestel te bou wat die gereelde verskuiwing van beeste vergemaklik. Sy plan is om ’n bewegende skadunetdak uit ’n ou spilpunttoring te maak waaronder die beeste kan wei. ’n Raam, wat die lengte van die toring en ongeveer 12m breed is, word ongeveer 1,5 m op die spilpunt bo die grond aangebring.

Plastiekpale met gewigte onderaan word aan die raam gehang en ’n elektriese draadjie word op die pale gespan om die beeste binne die raam te hou.

Die konsep is nog nie vervolmaak nie, maar Dwayne sê die eerste probeerslag het goed gewerk. “Ons moet net ’n ordentlike manier kry om die skadunet bo-op die raam te vestig, want die skadunet  het met die eerste probeerslag afgewaai.”

Die toergroep besoek volgende dr. Jonathan Lundgren by Blue Dasher Farm in Estelline, Suid-Dakota. Jonathan is ’n entomoloog wat al diep spore getrap het in die Amerikaanse graanbedryf. Hy is ’n voorstander van die gebruik van roofinsekte om van plae ontslae te raak.

Dr. Dwayne Beck van die Dakota Lakes-navorsingsplaas naby Pierre in die Amerikaanse deelstaat Suid-Dakota verduidelik die beperkinge wat gepaardgaan met verdigtingslae in die grond. Hoewel geenbewerking en bewaringsbewerkingpraktyke al langer as 25 jaar op die plaas toegepas word, is verdigtingslae steeds ’n probleem. “Die gronddeeltjies hier is almal dieselfde grootte. Dit is een van faktore wat dit moeilik maak om verdigtingslae op te hef in grond wat bykans honderd jaar lank geploeg is,” sê Dwayne. Foto: Johan van der Merwe