Gabe is ’n beskeie boer wat al harde lesse geleer het sedert hy die boerdery in 1984 oorgeneem het. Hy is effens omstrede en is nie op sy bek geval nie. Sedert hy sy boerderypraktyke in 1986 begin aanpas het met die doel om grondgesondheid te bevorder en die natuur as ’n hulpbron eerder as ’n teenstander te gebruik, het hy al heelwat sukses behaal.

Hy behaal nie die grootste opbrengste in sy omgewing nie en het ook nie die grootste plaas nie, maar vir hom is groot opbrengste en baie grond nie die maatstaf van sukses nie. 

“Hoeveel wins maak jy per hektaar? As jy dit kan verhoog, terwyl jy steeds die grondgesondheid as eerste voorkeur behou, dan doen jy iets reg. Jy gebruik jou hulpbronne optimaal, lewer produkte waarvoor daar ’n mark is en jy lewe ’n lekkerder lewe – dit sal ek jou waarborg,” het hy gesê.

Ná die besoek was die gesprekke in die bus vol lof vir die nederige man, hoewel nie almal dieselfde doelwitte in die lewe het nie. Al die Suid-Afrikaners was dit eens dat die beginsels van grondgesondheid eerste, ’n lewendehawekomponent in jou boerdery en maksimum benutting van jou hulpbronne sonder om die eerste beginsel in te boet, nie onderhandelbaar is nie, ongeag wat jou doelwitte en bestuurvoorkeure is.

’n Insiggewende aanhaling van Gabe: “As jy ’n klein verandering wil aanbring in jou lewe, verander die manier waarop jy dinge doen. As jy ’n groot verandering in jou lewe wil aanbring, verander die manier waarop jy dinge sien.”

Volgende op die besoeklys is Jay Fuhrer en Darrell Oswald op die Menoken-navorsingsplaas.