Die Soil Health Solutions-groep het Scott tydens hul Amerikaanse toer op sy plaas besoek.

Scott was voorheen ’n vragmotorbestuurder wat tot 32 000 km per maand gery het. Nadat hy ’n ernstige ongeluk oorleef het, het hy besluit om eerder te boer. 

“Te veel boere is afhanklik van insette om ’n wins te maak. Hulpbronne is die belangrikste aspek van my boerdery en die geld wat ek daarmee verdien, rig al my besluite.

“My eerste stap is om te kyk wat my hulpbronne, grond, water en eie gesondheid nodig het. Dan bepaal ek met watter praktyke  ek daardie tekorte kan aanpak. 

“As my grond byvoorbeeld meer koolstof nodig het, sal ek C4-grasse aanplant. As ek dit bepaal het, gaan soek ek ’n mark vir die produkte wat ek moet lewer. Só sal ek byvoorbeeld besluit om sorghum en manna in ’n dekgewasmengsel te plant. Dan gaan soek ek ’n mark vir sorghum en manna.

“Dit kan die kaf wees, iemand wat die gedorste sorghum en manna vir voer wil gebruik, of ’n saadmaatskappy wat die saad van my wil koop vir herverkoop. As ek die mark gevind het, teken ek die kontrak. Die hele proses word egter bepaal deur my grond wat meer koolstof nodig het.

“Op hierdie wyse verbeter ek my hulpbronne se produksiepotensiaal, ek verdien ’n inkomste en ek leef baie meer gerus, omdat die geld basies in die bank is voordat ek nog begin boer het,” sê hy. 

Scott boer ook met verskeie ander gewasse. Hy het ’n ooreenkoms met ’n vriend om sy beeste op Scott se plaas te laat wei sodat hy die veefaktor ook kan inkorporeer in sy boerdery.

Volgende besoeke

Green Cover Seed in Bladen, Nebraska, is die mees gesofistikeerde verskaffer van dekgewassaad in Amerika. Die maatskappy het die afgelope sewe jaar gegroei van ’n maatskappy wat dekgewassaad vir 500 ha se aanplantings verskaf, tot waar hy vanjaar saad vir 500 000 ha kon verskaf.

Die maatskappy doen sy eie proewe op sy perseel om die produktiwiteit van mengsels te ondersoek en het ’n aanlyn stelsel ontwikkel wat ’n haarfyn mengsel van talle verskillende spesies vir sy kliënte met die druk van ’n paar knoppies bepaal. Die toergroep besoek ook Ward-laboratoriums in Kearney, Nebraska.

Ward-laboratoriums is een van slegs ’n hand vol instellings wat die Solvita- en Haney-grondtoetse kan doen om te bepaal hoeveel biologiese lewe en watter tipe organismes in die grond is.