Ons gaan minstens tien boerderye in Noord-Dakota, Suid-Dakota, Nebraska, Michigan en Kansas besoek. Gabe Brown en Jay Fuhrer se boerderye is op die lys van boerderye wat besoek gaan word. Die toergroep sal ook ’n werksessie oor bewaringslandbou bywoon. 

Hannelene Badenhorst, ’n doktorale student in entomologie aan die Universiteit van die Vrystaat, sien uit daarna om te sien hoe herlewingslandboubeginsels die inseklewe beïnvloed.

“Ek wil ook graag sien of daar tans enige navorsing gedoen word oor die die insekte in hierdie geweste,” sê Hannelene.

Vir André Naudé van die Dreyer en Dreyer-boerdery naby Vrede in die Vrystaat is die fyner nuanses van die volhoubare bestuur van lewende hawe binne ’n hoëdrukweidingstelsel die groot trekpleister van hierdie toer. “Ons gaan by onder meer Gabe Brown aan en dit sal lekker wees om spesifieke vrae vir hom te vra oor lesse wat ons nog moet leer met die integrering van al die verskillende aspekte van herlewingslandbou,” sê hy.

Willie wil graag sien hoe die vaslegging van nuwe koolstof en stikstof in die grond beter verstaan en gebruik kan word. “Die koolstof- en stikstofsiklus is die doeltreffendste manier om voedingstowwe terug te sit in die grond. Ek glo nie ons gebruik tans hierdie twee siklusse tot ons voordeel in Suid-Afrika nie.”

As jy enige vrae aan die groep wil stel, moenie huiwer om ons te kontak nie. Stuur ’n boodskap aan Johan van der Merwe op WhatsApp 082 529 3677, of per e-pos na johan.vandermerwe@landbou.com.

*Landbouweekblad bedank VKB en Pannar Saad wat Johan in staat stel om die toer te kan meemaak.