Die verskil, volgens mnr. Jay Fuhrer, is die feit dat die boerdery eerstens winsgedrewe is en, tweedens, dat dit ’n ontdekkingseksperiment is vir nuwe tegnologie en praktyke, terwyl dit ook ’n normale, kommersiële boerdery namaak.

“Ons doen dinge hier soos wat ’n boer sou moes doen, en ons moedig die boere in die omgewing aan om by ons te kom kuier. Ons wil ’n kultuur skep waar ons inligting met mekaar uitruil, waar ons praktyke verskil, maar ons oogmerke eenders is – ons wil die grond opbou, ons wil die koolstof- en stikstofsiklus verstaan en dit aanwend in ons boerderye om die vlakke van koolstof en stikstof in die grond te verhoog. Hoe elke boer dit op sy eie plaas regkry, gaan verskil, maar die oogmerk moet dieselfde bly.

"As ons boere kan oortuig om hier by ons te kom kuier en ons praat oor ons ervaring en lesse, gaan ons vinniger by gesonder grond uitkom.”

Jay het vir ons sy bekende toetse vir die gesondheid van grond gewys. Sy reënnabootser was ’n wenner en ons almal het oopmond gestaar na die visuele voorstelling van wat in die grond gebeur.

Mnr. Jay Fuhrer spog met sy Landbouweekblad-mes. Foto: Johan van der Merwe

Dit is duidelik dat blote geenbewerking nie die antwoord is as jy maksimum water in jou grond wil vasvang nie. Die stuk grond waar ’n diverse aantal plante gevestig is en waar ’n vee-komponent geïntegreer is, was die wenner wat betref waterbinnedringing en die beperking van afloop.

Ons het vinnig by ’n graan-en-beesboer, mnr. Dan Forgey van Cronin Farms net buite Pierre, Suid-Dakota, aangegaan. Hy boer op nagenoeg 800 ha en volg die afgelope 12 jaar herlewingslandboubeginsels en pas die afgelope 25 jaar geenbewerking toe.

Dan spits hom steeds daarop toe om ’n stelsel te skep wat die lewe in die grond tot elke prys bewaar.

“Ek gebruik steeds chemiese bemesting, behandelde saad, onkruiddoders en selfs swamdoders as ek moet, maar ek wil wegbeweeg daarvan. Soos wat ons die ekostelsel opbou, sal ons uiteindelik op die plek uitkom wat ons stikstof en koolstof uit die atmosfeer gebruik, die natuurlike roofdiere gebruik teen insekplae en die biologie in die grond gebruik teen swamme en bakteriese besmettings,” sê Dan. 

Daar is klaarblyklik verskillende idees oor hoe jy suksesvol met bewaringsmetodes kan boer.

Gabe Brown gebruik nie ’n enkele korrel kunsmis of druppel gif nie, Jay Fuhrer gebruik soms onkruiddoder, terwyl Dan steeds chemiese kunsmis en plaagdoders gebruik. 

“Daar is nie ’n resep nie en daar is nie ’n taboe nie – as jy die beginsels verstaan en weet waar jy wil uitkom, doen jy maar wat jy kan om elke dag ’n treetjie nader aan die einddoel te kom sonder om bankrot te gaan,” reken me. Hannelene Badenhorst, ’n doktorale student in entomologie aan die Universiteit van die Vrystaat.

Dan dien nie eens meer die helfte van die kunsmis toe wat hy tien jaar gelede gebruik het nie en hy oes meer as dubbel die opbrengste op elk van die meer as 11 vertakkings van sy boerdery. 

Op ’n vraag oor die winsgewendheid van sy boerdery lag hy net. “Ek het nog nie daardie som gemaak nie, maar ons maak nou geld en ons geniet ook die boerdery baie meer.”

Die toer se volgende besoekpunt is by dr. Dwayne Beck op die Dakota Lakes-navorsingsplaas. Hy bestudeer sedert 1983 die uitwerking van diverse, beweide dekgewas-spesies in ’n kontantgewasopset en is ’n groot voorstander van die rol wat vee in ’n gesonde boerdery kan speel.