Toe die internasionaal bekende wynjoernalis Tim Atkin onlangs mnr. David en me. Nadia Sadie, die egpaar agter die handelsmerk David & Nadia Wines, as sy jong wynmakers van die jaar aangewys het, het hy hulle beskryf as ’n “briljante paartjie wat ongelooflike Chenin blanc op klein stukkies uitsoekgrond maak”.

Kort voor dié eerbewys hulle te beurt geval het, het ek saam met David gestap deur die wingerde van Paardebosch, ’n wynplaas van 16 ha in die Paardeberg by Malmesbury wat hulle sedert 2013 huur en dolgraag wil koop.

Die wingerde is voorheen “baie reaktief met ’n paar telefoonoproepe” bestuur, maar danksy die Sadies se bewaringsboerdery- benadering lyk die stokke deesdae beter, die tonnemaat styg en die arm verweerdegranietgrond word goed opgepas.

“Ek het my pa, en daarom ook my ouma, se geaardheid. Ek is baie beginselvas en nogal hardkoppig oor dít waarin ek glo. Daarom het ek al met baie mense koppe gestamp. ’n Wynmaker in Bordeaux, waar ek gewerk het, het my uit die kelder gejaag om in die wingerd te gaan werk, want ek het hom uit beginsel oor morele kwessies uitgedaag,” vertel David.

Ná net ’n maand in sy eerste heeltydse pos in Suid-Afrika het hy vir Nadia en sy skoonpa gesê hy is nie uitgeknip daarvoor om heeltyds vir iemand anders te werk nie.

’n Paar jaar lank het hy “hard gedruk” sodat hy en Nadia hul eie wyne kon maak – ’n droom wat in 2010 verwesenlik is toe albei nog elders in diens was. In 2013 het David die sprong gewaag en bedank, en Nadia het hom drie jaar later gevolg. Vandag speel hulle in die A-liga wat wynmakers betref – en hulle kry wêreldwyd erkenning daarvoor.

Hulle maak topwyne (met pryse van R400 tot R1 000 per bottel) sonder om ’n enkele wingerd te besit. Sowat die helfte van hul druiwe kom van Paardebosch af en die res koop hulle by boere reg oor die Swartland. Dis egter nie net ’n blote transaksie vir dié wynmaker-egpaar nie. Hulle is nou betrokke by elke wingerd en doen hul bes om die wingerdeienaars te oortuig van die waarde van bewaringsboerdery.

Dekgewasmengsels met tot nege verskillende spesies wat verskeie funksies verrig, word met ’n geenbewerkingsplanter op Paardebosch geplant. Dit word teen blomtyd met ’n rollerkrimper platgerol. Foto: LUCILLE BOTHA

Vra die vrae

David, wat verantwoordelik is vir wingerdbou en wynbereiding, en Nadia, ’n grond- en wingerdboukundige, het op hul reise al verskeie organiese en biodinamiese wyne gedrink.

“Dikwels proe ons wyn raak waarvan ons hou, maar besef nie eens dis organies nie. Die wyn is net spesiaal. Daar is so baie Europese wyne wat uit beginsel volgens organiese of biodinamiese prakyke gemaak word, sonder dat die etiket dit verkondig,” vertel hy.

Ongelukkig het hulle min blootstelling aan organiese of biodinamiese Suid-Afrikaanse wyne, bloot omdat daar so min is. Hulle koop wel druiwe by mnr. Billy Hughes van Nativo, ’n organiese en biodinamiese boer, en is gereeld in kontak met mnr. Callie Louw van Porseleinberg, wat ook organiese boerderybeginsels volg.

“Dan is daar die kwessies oor die koste van chemiese middels, die karsinogeniese effek van glifosaat … ’n mens móét vrae vra.”

Hulle boer in ’n warm, droë gebied. Die Paardeberg kry gemiddeld 350-400 mm reën per jaar. Biologiese praktyke help hulle om kosbare hulpbronne, soos water, doeltreffender te benut. “Franse produsente met wie ek hieroor gesels het, het my sterk aangemoedig, maar tot dusver was ons nog nie in ’n posisie om slegs organies te boer nie.”

Japannese radyse (Raphanus sativus) is deel van die Brassicaceae-familie. Dié gewas se bonkige penwortels is nuttig vir biologiese “bewerking” van die grond. Foto’s: LUCILLE BOTHA

Bedekking maak alles beter

In 2016 het hulle die eerste tree na ’n omgewingsvriendeliker benadering gegee. “Die grond was die belangrikste deel daarvan,” sê David. “Ons het tydens die droogte van 2016 tot 2018 gesien historiese bespuitingspraktyke is nie meer goed genoeg nie. Dit vernietig die gunstige grondmikrobes en ‘steriliseer’ dus die grond in ’n mate. Alles is droëland by ons. Ons moet dus redelik wees oor opbrengs.”

Hy wys ’n paar “blou kolle” kweek tussen die wingerd uit. “Kweek, met sy diep wortelstelsel, moet ongelukkig eers met wortel en al uitgeroei word om op ’n skoon bladsy te begin wanneer jy kafbale en kompos pak.

“Ons het in 2016 niks gespuit op die Skaliekop-blok nie, maar alles net mooi toegepak met bale. Net om ná die winter nie eens te kan sien waar die bale is nie, want die kweek groei toe welig danksy die lekker kompos. Ons moes alles met die hand uittrek. Dit het dae geduur. Dit is moeilik om oornag van die gifaspek weg te beweeg, maar sodra ons die kweek op die plaas uitgeroei het, wil ons geen onkruiddoder meer gebruik nie. Ek dink ons is nog so ’n jaar of twee van daar.”

Hy bespuit laat in Junie op die bankie en pak dan kafbale om elke wingerstok. Enige kweek wat steeds deurkom, word op die plek uitgehaal. “Dit kos sowat R20 000 vir ’n duisend bale en jy kan so drie stokke per baal doen. Jou materiaal kos dus R20 000 tot R25 000 per ha, en die arbeid maklik nog R15 000.”

Waar hoenders en tarentale skrop, vul hulle die kaf aan, maar die begroting laat hulle toe om omtrent elke drie jaar bale te vervang.

David laat bale (16-18 kg werk die maklikste) verkieslik eers oorwinter om goed nat te reën sodat dit nie maklik wegwaai as dit in gerwe gepak word nie. Sy droom is om bale op alle wingerde te pak, maar tans regverdig net die verkope van hul enkelwingerdwyne dié praktyk. Daarom gee hulle voorrang aan die Hoë-Steen-, Skaliekop- en Plat’bos-wingerde.

“Aanvanklik het ons nie geprioritiseer nie, maar toe besef ek dit help ook nie jy hardloop rond soos ’n hond wat jou eie stert jaag nie. Sodra die enkelwingerdblokke, en nog twee blokke Grenache waarin ons ook wil belê, op ’n program is, hoop ons om die res op dieselfde standaard te kry.”

Kafbale is dik gepak in die Skaliekop- wingerd. Dié bosstok-Chenin blanc is in 1985 geplant. Daar is planne om nuwe stokke in te plant om die dooie stokke te vervang.

Dekgewasse

Saam met die bale kan Paardebosch se sanderige en geloogde grond net baat vind by dekgewasse, meen David en Nadia. “Ons kla nie oor arm grond nie, want dit gee kompleksiteit aan wyn, maar ek dink as ’n mens die gisopneembare stikstof (YAN) ’n hupstoot kan gee, kan dit net goed wees. Goeie loofgroei is nodig om dit reg te kry.”

Teen parstyd was sowat 40-50% van die plaas se oppervlakte “met ietsie” bedek. “Dis byna ’n standaardpraktyk in die Paardeberg om lupiene te saai en weer met ’n skotteleg terug te werk in die grond om stikstof te bind en organiese materiaal in te werk.”

Sy studentevriend, mnr. Stoney Steenkamp van Stoney Steenkamp Landboudienste, het hom egter in die rigting van dekgewasmengsels gestuur. Hulle plant nou ’n mengsel met nege spesies, waaronder lupiene, gars, Japannese radyse, kanola, voererte en fababone.

“Ons het vanjaar alles met Stoney se tienry-geenbewerkingsplanter van Piket Planters geplant. Dit het twee skotteltjies (wat ’n slootjie maak) en drie saadkaste. Jy kan die groter saad (soos lupiene) en fyner saad (soos mosterd) skei en kunsmis in die derde kas sit as jy wil. Jy kan dus die planter lekker aanpas by wat jy wil doen.”

Aangesien hulle op droëland met wingerd boer, is die groot vraag wanneer die dek- gewas platgerol moet word. “Daar is mense wat sê jy gaan tussen bot- en blomtyd meer vog op kaal grond verloor as wanneer jou dekgewasse ook water gebruik. Ek het geleer teen September wanneer die wingerd bot, moet alles dood wees, maar ons gaan vanjaar ’n eksperiment doen en die dekgewasse langer laat staan.”

Hulle gebruik Steenkamp se rollerkrimper met groot sukses om die dekgewasse te knak en plat te rol. Die gemiddelde gewas word drie tot vier keer geknak. Plante wat daarna weer opstaan, word met randsnyers gesny. “Ná twee weke behoort alles bruin te wees, maar dit fotosinteer nog terwyl dit lê.”

Die grondbedekking help om uitermatige swaaie tussen dag- en nagtempe- rature in die grond te beperk en organismes te laat floreer.

Eie kompos vir verskeidenheid

David sê Paardebosch se sanderige grond lewer van “die armste, armste druiwe vanuit ’n gistingsoogpunt” wat YAN en vrye-amino- stikstof (FAN) betref. Daarom speel orga- nies verrykte hoendermiskorrels en kompos ’n belangrike rol om beter wyn te maak (sien ook die kassie “LBW vra . . .”).

Een van Paardebosch se eienaars is gek na perde, en David en Nadia gebruik die perdemis saam met kelderafval, soos druiwedoppe, om kompos te maak.

Teen middel Maart is die laaste doppe beskikbaar. Dan gaan alles komposhoop toe – sowat twee maande voor die Swartland sy eerste reën kan verwag. Omdat dit ’n droë gebied is, moet water met sorg gebruik word. David het verlede jaar dus ’n plan gemaak om sy kelderafloopwater in ’n tenkie op te vang en oor die kompos te spuit.

“Dis dalk teen die grein, maar die ontledings wys die gehalte lyk goed. Die belangrikste is om nie té veel water toe te dien sodat dit afloop en die voedingstowwe begin loog nie.”

Die kompos word ontleed om die stikstof- en fosfaatvlakke te bepaal voor die kompos toegedien word. “Ons het albei ’n BSc-graad en wil alles kwantifiseer voor ons verder gaan. Ons stuur ook grondmonsters weg vir ontleding.

“Daar is swakker kolle in sekere blokke wat makliker is om met verrykte hoendermis, wat stikstof stadig vrystel, reg te stel. Ons gee een graaf kompos by elke stok as ’n beginpunt. Dit gee verskeidenheid en voedingswaarde aan die grond.”

Waar kweek steeds deurslaan ten spyte van onkruiddoder, word dit met rand- snyers bekamp.

Oortuig ander

Die druiwe vir die gesogte Hoë-Steenwyn koop hulle by mnr. Hennie Rossouw, wat wes van Malmesbury boer. Die wingerd is in 1968 geplant.

“Oom Hennie is ook al keelvol vir che- miese middels wat nie werk nie. Ek hou daarvan dat hy ook vrae vra oor byvoorbeeld dekgewasse. Ná sewe oeste kon ons vir die eerste keer kaf en ons eie kompos in die wingerd sit en dekgewasse met ’n geenbewerkingsplantertjie plant.”

David en Rossouw inspireer en moedig mekaar aan op dié pad. “Oom Hennie het my byvoorbeeld gevra hoekom ek dinge wil verander, want ek het in 2014 die eerste keer ’n ton druiwe uit die Hoë-Steen-blok gekoop en ’n vyfster-wyn daarvan gemaak. Die wingerd is nooit voorheen biologies bestuur nie en die druiwe was uitstekend. My antwoord? Ek dink ons blokke gaan in die algemeen ouer word as ons op dié manier daarna kyk.”

Saam met die nuwe boerderykultuur wil David ook dooie wingerdstokke in ouer blokke vervang om hul lewensduur te verleng en blokke, soos Skaliekop (geplant in 1985) en Plat’bos (geplant in 1981) volledig te maak. Minstens 25% van die stokke in dié wingerde is vrek. “Ons het einde Julie ’n massale seleksie van die Skaliekop-wingerd gemaak. Ons sal dié stokke tussen-in plant om dooies te vervang.”

Plat’bos is een van die spesiale wingerde waarvan hulle enkelwingerd- wyn maak. Dié wingerd se opbrengs was verlede jaar maar 0,9 t/ha (weens blomskade), maar het vanjaar sowat 2 t/ha opgelewer. “Ons boer in ’n droëlandgebied en ’n mens moet dus redelik wees oor wat jy produksiegewys kan verwag,” sê mnr. David Sadie. Tog meen hy biologiese praktyke gaan help om produksie te verbeter. Foto: LUCILLE BOTHA

Hektaar- eerder as tonprys

Hoewel bykans die helfte van hul druiwe van elders kom, glo David en Nadia nie daaraan om boere per ton te betaal vir die druiwe nie. Hulle maak eerder ’n hektaarprys vas.

“Ons besef ons praktyke kos meer. Om te spuit, kos byvoorbeeld R550/ha, teenoor R5 000/ha as jy moet skoffel. Dit is dus nie maklik om iemand te oortuig daarvan nie, veral nie vir ’n kommersiële boer nie. Daarom moet die boer vir my sê wat dit hom kos om my droom ’n werklikheid te maak.”

Danksy Paardebosch het die Sadies ’n taamlik goeie idee hoe die koste daar uitsien. “Kom ons sê ons kom by R50 000/ha uit. Die produsent moet dan die marge wat hy wil verdien, daarby sit. Dís my hektaarprys. Ja, dis duur en daar is ’n groot risiko in vir my. Maar as ons nie die risiko loop nie en ’n tonprys betaal en die oes is net 1 t/ha weens droogte- of windskade, gáán die boer oor ’n paar jaar sy plaas verkoop of die wingerd uithaal. Dan sit ek sonder druiwe,” sê David.

“Ons sê ook vir die produsente as ons hulle deur die jaar moet help met die produksiekoste, doen ons dit. Hulle stuur dan vir ons ’n faktuur en ons help met die betalings.”

Hulle maak hul eie kompos van perdemis en druiwedoppe en -stingels wat uit die kelder kom. Die kompos word ontleed sodat hulle weet wat hulle toedien.

David sê spesifieke wingerde het hulle al báie geld gekos het – meer as R100 per liter vir die wyn. “Plat’bos is ’n goeie voorbeeld. Dit het jou mismoedig gemaak hoe min druiwe daar verlede jaar was weens blomskade as gevolg van wind. Ek dink ek het 0,9 t/ha gekry. Die mense moes baie ver stap om ’n kissie vol te pluk.

“Vanjaar het ons 2 t/ha gekry. Dis steeds laag, maar die groei was ongelooflik.”

Dis hoekom wynliefhebbers moet besef ’n topwyn is meer as net ’n mooi etiket en slim handelsmerk. Dit gaan ook daaroor om boere op hul plase te hou. “Ons moedig ál die boere by wie ons koop aan om na hul hele besigheid te kyk. Al gebruik hulle die inkomste wat hulle van ons verdien om ander wingerde of vertakkings op die plaas te kruissubsidieer, is dit steeds gunstig.”

As jong mense met groot drome vir hul wynbesigheid was finansiering ’n stryd. “As die banke maar net wou luister … Dis baie sleg vir enige jong onderneming sonder grond, want ons kan nie vir hulle sekuriteit bied nie. Ons het ’n paar miljoen rand se wynvoorraad, ja, maar hulle aanvaar dit nie as sekuriteit nie.”

Uiteindelik het een van Paardebosch se eienaars vir hulle geld geleen om die ou kelder op die plaas, wat uit 1795 dateer, op te knap. David se pa en ’n kliënt in Kaapstad het ook geld voorgeskiet. “Ons het goeie ooreenkomste gesluit en betaal alles terug.”

Intussen hou hulle by hul filosofie om ’n sterk besigheid te bou, spesiale wingerde te “red” en momentum te skep om beter te kan boer.

Die Sadie-egpaar se wyn word wêreldwyd as uitstekend beskou. Foto: VERSKAF

Oor die wyne

Die David & Nadia-reeks (’n Chenin Blanc, ’n wit versnit met die naam Aristargos, ’n Grenache en ’n rooi versnit genaamd Elpidios) word gemaak van druiwe wat die Swartland se grond, wingerde en mense weerspieël. Die hoogtepunt is egter die Sadies se enkelwingerdwynreeks, bestaande uit uiters spesiale Chenin Blancs — Skaliekop, Hoë-Steen en Plat’bos.


Namate hulle met hul biologiese aanslag vorder, word ál meer lewe op die plaas opgemerk. Foto: LUCILLE BOTHA

LBW vra . . .

Mnr. David Sadie

Wat is die belangrikste les wat jy al geleer het?

’n Mens sou dink grond gaan oor op-brengs, maar grond beïnvloed ook die gehalte van die druiwe wat kelder toe gaan en hoe goed die gisting is, wat weer bepaal hoe goed jou wyn is. Dít het ek eers besef toe ek in 2010 met natuurlike gis begin wyn maak het, en lekker gesukkel het met steekgisting.

Natuurlike gisting ontbloot watter tekorte daar in die grond is. As jy baie lae gisopneembare stikstof (YAN) het vanweë sandgrond of ’n afgeskeepte boerdery, moet jy ammoniak, enso-voorts, bygooi om dit reg te stel. “Veiligheidsnette” soos steriele filtrasie, geïnokkuleerde gisting en ensieme ska-kel eintlik die waarde van jou grond uit.

Wie is jou mentor?

Daar is verskeie mense na wie ek opkyk. My skoonpa, Johan (Blokkies) Malherbe, is ’n ingenieur wat sê balans in die lewe is alles. Ek het ook baie te doen met Francois Rautenbach, die hoof van Singita se premiewyne, en ons albei het ’n waardering vir presisie en geen verdraagsaamheid vir sekere dinge in die lewe nie.

Navrae: Web: www.davidnadia.com; 072 375 4336.