Die konferensie en praktiese dag, wat met die samewerking van Landbouweekblad, LandCare Wes-Kaap en die Wintergraantrust gehou word, bring sprekers uit Wes-Australië, die Vrystaat en die Wes-Kaap byeen.

Op die konferensie op 7 Augustus val die klem op boere se ervaring met verskillende aspekte van bewaringsboerdery. Mnr. Trevor Syme, ’n boer van Wes-Australië, praat oor die motivering vir beheerde spoorverkeer, en mnr. Hume Schönfeld, ’n boer van Caledon, vertel van sy ervaring met beheerde spoorverkeer.

Mnr. Clint Della Bosca, ’n boer van Wes-Australië en voorsitter van die Wes-Australiese geenbewerkingsboerevereniging (WANTFA) sal vertel van sy ervaring met boerdery in ’n laereënvalgebied.

Mnr. Izak Dreyer, ’n boer van Vrede in die Vrystaat, gaan oor dekgewasse en beweiding praat, en mnr. Andries van der Poll, ’n nuwe-era-graanboer van Gouda, gaan meer oor sy vordering in die graanbedryf vertel

Die dag word afgesluit met ’n praatjies oor onlangse navorsing deur dr. Craig Galloway, navorser oor volhoubare landbou by Trace & Save, oor grondgesondheid by weidings. Dr. Hendrik Smith van Graan SA en me. Lorren de Kock van Blue North gaan praat oor die koolstofspoor van koringverbouing in die Wes-Kaap.

Praktiese dag

Proewe wat tydens die praktiese dag op 8 Augustus op die proefplaas Tygerhoek besoek word, sluit in dekgewasse en opvolggewasse, die gebruik van vooropkomsonkruiddoders saam met ’n skyfplanter, ’n skyfplanterproef met verskillende saaidigthede en kunsmistoediening met plant, ’n lusern-insaaiproef, ’n proef oor mikrobiese funksionele groepe en proewe oor ’n biologiese benadering tot gewasbeskerming en die opbou van grond. Die dag word afgesluit met ’n gesprek met mnre. Trevor Syme en Clint Della Bosca.

Die konferensie word vanjaar by Houwhoek Inn, naby Grabouw, gehou. Dit kos R800 per persoon om die konferensie en praktiese dag by te woon. Studente betaal R600. Mense wat net die praktiese dag wil bywoon, betaal R200 en studente R100.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.