Moderne tegnologie, Landbouweekblad en die Wes-Kaapse departement van landbou kon help dat almal vinnig by die nuwe omstandighede aanpas om ’n suksesvolle bewaringsboerderykonferensie, kompleet met ’n praktiese dag, aan te bied.

Altesaam 272 mense het kaartjies gekoop om die aanlyn weergawe van die BLWK Jack Human-bewaringslandbouweek van 4 tot 10 Augustus te kyk. Boere wat die webinaar bygewoon het, was beïndruk met die gerief wat dié konferensieformaat moontlik maak.

Mnr. John Slabbert van die plaas Skilpadvlei by Moorreesburg sê die aanlyn konferensie werk baie goed. “Dit voel omdat daar meer tyd beskikbaar is, praat die sprekers meer en gee meer inligting deur. Dis ook gerieflik om die spreker te onderbreek om gou iets anders te gaan doen.”

Ook mnr. Adriaan Steyn van Wankie Boerdery tussen Swellendam en Heidelberg loof die gerief van ’n aanlyn konferensie. Die tien dae waartydens die lesings beskikbaar is, laat hom toe om te kyk soos en wanneer hy tyd beskikbaar het.

Die konferensie is nie net van waarde vir graanboere nie. Mnr. Johan Montgomery, wingerdboukundige by Hamilton Russell Vineyards by Hermanus, sê die aanlyn konferensie spaar baie tyd en dit het hom gepas om op die rekenaar te kyk op ’n koue nat dag soos 4 Augustus. “Die gehalte van die video’s is goed, en hoe meer ons dit doen, hoe beter word dit.”

Al produseer hy wyndruiwe, leer hy baie van die graanboere omdat hy, soos hulle, eintlik met grond boer.

Goeie moed vir digitale toekoms

Eloïse Pretorius, radiojoernalis en aanbieder van RSG Landbou, sê die konferensie is “meesterlik” saamgestel en “puik verpak”.

“Dit gee my goeie moed vir die digitale dinge wat nou ons voorland is. Dit staan my ook aan dat so baie bewaringslandboukundiges vroue is, veral Liza Smorenburg is ’n inspirasie. Ek vind haar navorsingsmetodes byna bonatuurlik en intuïtief.”

Die konferensie was ’n platform vir waardevolle stemme, en ’n goeie balans tussen ervaring, praktyk en navorsing, sê Nelia Richter, adjunk-redakteur van Landbouweekblad. “Ons is dankbaar vir die werk wat BLWK onder leiding van dr. Johann Strauss doen, asook vir boere en bedryfskundiges wat nie een ’n klip onaangeroer raak om veerkragtige landbou-oplossings te skep nie.”

Sy sê kennis, asook kritiese vrae wat bestaande praktyke bevraagteken, kom teen ’n stewige stroom in, en dié konferensie maak dit makliker om by antwoorde te kom en ook die finansiële implikasies te begryp.

Dr. Johann Strauss, navorser oor volhoubare gewasstelsels by die Wes-Kaapse departement van landbou, is tevrede dat die konferensie kon aangaan.

Hulle gaan vanjaar die tradisionele Riversdal-, Skog- en Hopefield-boeredae ook aanlyn aanbied. Al die dae sal van 7 September af op BLWK se webwerf – www.blwk.co.za – beskikbaar wees.