Dit was die mening van ’n paneel wat die toekoms van bewaringslandbou op die tweede Afrikakongres vir bewaringslandbou in Johannesburg bespreek het.

Mnr. Patrick Kormawa, substreekdirekteur vir Oos-Afrika van die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie, het gesê bewaringslandbou is nie net beperk tot boere nie, maar sluit die hele voedselwaardeketting in. “Ons moet besef dat bewaringslandbou ’n groot rol het om te speel, nie net op finansiële vlak nie, maar ook ekonomies en vanuit ’n omgewingsinvalshoek. Die landbou is per slot van sake ’n besigheid en ons moet onsself afvra hoe ons kan verseker dat bewaringslandbou sy rol vervul.”

Dr. Majola Mabuza, beleidsprogrambestuurder van die Suider-Afrikaanse konfederasie van landbou-unies (Sacau), het gesê klimaatsverandering is reeds ’n werklikheid en boere gaan die ergste daardeur geraak word. “Ten spyte daarvan word van hulle verwag om hul produktiwiteit deurentyd te verhoog om aan ’n groeiende bevolking genoeg voedsel te verskaf. Dit is dus uiters belangrik dat hulle die eerste groep moet wees wat die konsep van bewaringslandbou aangryp.”

Mabuza het gesê grond moet die boer se beste vriend wees. “Die voordele moet egter nie net op die omgewing ’n impak maak nie, want as ’n boer nie die voordele aan sy sak voel nie, gaan hy die praktyk verruil vir iets wat dalk minder omgewingsvriendelik is, maar meer besigheidsin maak. Ons moet dus die resultate en voordele van bewaringslandbou uitbou, terwyl ons boere ook toelaat om hul eie ervaring te gebruik.”

Hy het daarop gewys dat nie alle boere dieselfde is nie. “Ons werk met ’n hele vasteland se boere met verskillende behoeftes en wat in verskillende kategorieë val. Ons kan hulle dus nie oor dieselfde kam skeer nie, maar ons moet hulle toelaat om ook uit hul eie ervaring te wys wat werk. Op hierdie manier kan ’n raamwerk vir bewaringslandbou opgestel word wat vir verskillende boere kan werk.” 

Dr. Debisi Araba, streeksdirekteur vir Afrika by die Internasionale Sentrum vir Tropiese Landbou, het gesê daar is nog baie min navorsing oor bewaringslandbou gedoen. “Die boere is in hierdie stadium die kampvegters vir bewaringslandbou. Terselfdertyd is daar toenemende politieke wil om bewaringslandbou reg oor die vasteland toe te pas. Almal sal dus hul rol in hierdie praktyk moet erken en aanvaar. Navorsers sal hul resultate moet kommunikeer, terwyl nie-regeringsorganisasies die praktiese toepassings van hierdie navorsing in die regte omgewings toepas. Regerings moet deur middel van finansiering en beleid die rol van bewaringsboerdery verstewig.” 

Araba het beklemtoon dat regerings in Afrika hul besteding op die landbou sal moet verhoog. “Ons het tien jaar gelede reeds gepraat van staatsfinansiering van sowat 10% van die jaarlikse begroting. Dit was egter net ’n riglyn. Dit blyk dit het nou ’n plafon geword waarvolgens regerings bepaal hoe om in die landbou te belê. Daar sal egter heelwat meer begroot moet word vir die landbou as ons in die toekoms die groeiende Afrikabevolking wil voed.” 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.