Die wêreldwye vraag na biologiese produkte het in 2017 met 18% gestyg. Die soeke na gesonder grond, asook die druk van die verbruiker op die voedselketting om minder chemiese produkte te gebruik, is die groot dryfkragte van hierdie groei.

Die biologiese bedryf is egter terselfdertyd besig om volgehou doeltreffender produkte vir voorheen onopgeloste boerderyprobleme te ontwikkel. Mnr. Jared Murphy, plaasbestuurder van Wittedrift net buite Redelinghuys in die Sandveld, gebruik tans die biologiese produk CalSap (reg.nr. B4543) in sy sitrusboorde.

“CalSap reguleer die pH en is ’n vloeibare kalsiumproduk. Dit word gemaak deur kalsitiese kalk met mikrobes en melasse te fermenteer en verhoog die doeltreffendheid van die kalk om die pH te reguleer.

“Die produk se betroubaarheid is met jare se navorsing bevestig, en ek gebruik dit dus met ’n geruste hart. Die produk is ook doeltreffend en die verskil wat dit maak in die groei en gesondheid, asook die doeltreffendheid van die kunsmis wat ons toedien, maak die koste van die produk oor en oor die geld werd,” vertel Murphy.

Die verskil in die groei van sy sitrusboorde is ooglopend sedert hy die pH met die biologiese produk beheer.

Nie meer ’n nisproduk

Murphy is een van vele boere wat sukses met biologiese produkte behaal. Volgens dr. Roger Price, die navorsingsleier vir insek-ekologie by die Landbounavorsingsraad, is al hoe meer boere bereid om biologiese produkte te gebruik.

’n Nephus-larwe en volwasse kewer wat op witluis in wingerde en vrugteboorde voed en dus ’n uitstekende natuurlike bestrydingsmaatreël is.
Die Cryptolaemus-larwe wat ook ’n kewer is in volwasse stadium, is ’n natuurlike roofinsek vir witluis.

“Die probleem is egter dat daar nog nie genoeg produkte op die mark beskikbaar is nie. Boere wil nie die een week ’n biologiese middel vir die bestryding van witluis en volgende week weer ’n chemiese middel teen dopluis toedien nie. Indien daar ’n spektrum van produkte beskikbaar was wat ’n volledige oplossing gebied het, sou die bedryf vir biologiese produkte al baie groter gewees het,” sê Price.

Die proses om die bedryf te ontwikkel, meer produkte beskikbaar te hê en te verseker dat die produkte doeltreffend en veilig is, is tweeledig.

“Eerstens is die registrasie uitgerek en langdradig, hoewel dit al baie beter is as tien jaar gelede. Die nuwe beleide vir die kommersialisering van biologiese produkte help al klaar en die registrateur van die Departement van Landbou is in dié opsig baie behulpsaam. Die burokrasie veroorsaak egter steeds ’n frustrasie.”

Price sê tweedens is dit baie duur om die produkte te ontwikkel, en niemand is verseker dat dit werklik ’n groot markaandeel sal hê en winsgewend sal wees nie. Dié twee aspekte maak die deur wawyd oop vir opportuniste, wat die bedryf ’n onverdiende swak aansien gee.

Fnuik die fopkonkoksies

’n Agent vir die een of ander wondermiddel besoek Murphy se plaas byna weekliks. “Hulle kan nogal oortuigend wees met hul syfers en beloftes. Sodra jy ’n paar vrae vra, soos watter organismes in die produk is en hoe die produk werk, val hul storie effens uitmekaar uit. Vir elke doeltreffende biologiese produk, is daar minstens twee hande vol fopprodukte,” sê hy.

Hoe kan ’n boer dan seker maak die doeltreffendheid en betroubaarheid van sy produk is gewaarborg?

Mnr. Jaco Marais

Mnr. Jaco Marais, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Bioproduk-organisasie (Sabo) en tegniese projekleier by Arysta Lifescience, sê geregistreerde produkte is die antwoord.

Indien die produk nie ’n amptelike registrasienommer het nie, moet boere dit nie gebruik nie.

“Om ongeregistreerde produkte (plaagbestryders of misstowwe) in Suid-Afrika te verkoop, is onverantwoordelik en onwettig. Ongeregistreerde produkte hou ’n groot risiko vir die verbruiker in. Nie net word doeltreffendheid gedurende registrasie bevestig nie, maar ook die veiligheid, gehalte, integriteit en betroubaarheid van die produk.”

Een van die probleme vir die vervaardigers van biologiese produkte met die registrasieproses, is dat dit nie voorsiening maak vir die unieke eienskappe van verskillende biologiese produkte nie en boonop beoordeel word volgens voorskrifte wat vir die chemiese bedryf ontwikkel is.

’n Oplossing vir bogenoemde probleem bestaan nog nie, maar word tans ontwikkel. “Sabo werk saam met die Departement van Landbou en ander belanghebbendes, onder meer groot individuele vervaardigers, multinasionale gif- en misstofmaatskappye en selfs kettingwinkelgroepe, om oplossings te vind,” sê Marais.

‘Kyk na die beperkings’

Mnr. Stephan Honiball

Mnr. Stephan Honiball, bestuurder van Vital Bugs, sê heelwat geleenthede gaan verlore weens die beperkinge van die huidige registrasieproses.

“Die insekte wat in die bedryf vrygelaat word, is gewoonlik reeds natuurlik in die landbou-ekostelsel teenwoordig. Dus is dit baie moeilik en soms onmoontlik om betekenisvolle verskille tussen behandeling en kontroleblokke te kry en dus die nodige data vir regulering en registrasie in te samel.

“As die lae risiko wat die vrylating van inheemse insekte wat in massas geteel is, vir mense en die omgewing inhou, kan aangevoer word dat geen beperkings nodig is op die gebruik van inheemse biologiese bestrydingsmiddele nie. Regulering moet dus slegs betrekking hê op uitheemse biobestrydingsmiddels.”

Hierdie konidiofoor is ’n swam wat parasitiese organismes in die grond aanval en dus die plantwortels veilig hou. Alle foto’s verskaf
’n Jong Rhizobium-draaitjie aan’t ontwikkel. Hierdie swamme speel ’n belangrike rol om die beskikbaarheid en opneembaarheid van stikstof vir plante te bevorder.
Hierdie Trichoderma harzianum, wat onder ’n mikroskoop afgeneem is, help om die ontwikkeling van skadelike swamme te voorkom en beskerm dus die plant.

Mikro vs. makro

Vir die mikrobiologiese produkte, soos voordelige virusse, swamme, mikrobes en bakterieë, is die situasie egter anders, juis omdat dit gevaarlik kan wees. Organismes, soos antraks en die MIV, is biologies en hou enorme gevaar in, maar is nie herkenbaar met die blote oog nie.

Enigeen wat ’n sonbesie sien, weet dit is ’n goeie teken en hy hoef nie daarteen beskerm te word nie. Vervaardigers, soos Madumbi, ’n maatskappy van KwaZulu-Natal wat biologiese plaagbestrydingsprodukte ontwikkel, invoer en bemark, het dus die las om eerstens te bewys dat sy produk doeltreffend is en tweedens veilig is.

Mnr. André Fox

Mnr. André Fox, uitvoerende hoof van Madumbi, sê hierdie proses kan die besigheid enigiets vanaf R1,5 miljoen en meer per produk uit die sak jaag. Fox is egter nie teen die beginsel om produkte te registreer gekant nie.

“Om so baie geld aan ’n enkele produk te bestee, beteken dat jy baie seker moet wees dat daardie produk op lang termyn ’n mark sal hê en dat dit doeltreffend sal wees sodat jy ’n opbrengs op jou belegging kan kry. Die finansiële las om ’n produk te laat registreer, dien dus as gerusstelling vir die boer dat die maatskappy wat die produk ontwikkel, vertroue in die produk het. Dit verseker integriteit en geloofwaardigheid vir die bedryf.”

Toe biologiese produkte begin opgang maak het, was die regulasies vir chemiese produkte die enigste proses wat bestaan het. Daar was dus aanvanklik geen ander keuse nie as om biologiese produkte aan hierdie vereistes bloot te stel. Marais sê Suid-Afrika is nie alleen in hierdie penarie nie.

“Wêreldwyd is tot dusver geen standaard of stelsel gereed waarvolgens biologiese produkte geklassifiseer en gestandaardiseer kan word nie. Ons is nog ver van ’n stelsel of standaard vir biologiese produkte, soos wat die ‘Global Harmonized System’ (GHS) vir chemikalieë beoog.”

Die probleem om stelsels gereed te kry vir die biologiese bedryf het dus nie net probleme op eie bodem nie, maar moet terselfdertyd ook inskakel by die internasionale gemeenskap.

“GHS is ’n internasionale stelsel gemik daarop om die kategorisering en etikettering van chemikalieë in alle bedrywe (mynbou, verwerking, bouery, landbou en ander) te standaardiseer. Voorbereiding vir die toepassing van GHS in Suid-Afrika is tans in werking en die integrasie van biologiese produkte in hierdie stelsel is van die uiterste belang.

“Dis ’n taamlike probleem om GHS op alle biologiese produkte toe te pas. Produkte met nie-lewende aktiewe bestanddele pas oor die algemeen betreklik maklik by die GHS-toepassings in, maar lewende organismes kan nie onder GHS geklassifiseer word nie,” sê Marais.

Wie gaan in die toekoms belê?

Dit is aan hierdie kwessies wat Sabo saam met al die ander betrokkenes timmer, maar hy sê dit gaan ’n ruk duur voordat die regte stelsels bestaan. Intussen worstel maatskappye, soos Madumbi, deur die huidige stelsel met sy beperkings, en ontwikkel produkte wat wel by die huidige stelsel inpas, al duur die registrasieproses self minstens twee jaar.

Price benadruk dat die groot multnasionale chemiese maatskappye wat ’n paar jaar gelede in biologiese produkte belê het, nou ’n al hoe groter rol begin speel. “Hierdie maatskappye het in die ‘groen’ produkte belê net om die sosiaal aanvaarbare snaar te tokkel, maar hulle begin nou sien dat ’n finansiële voordeel in hierdie produkte opgesluit is.

“Sodra hulle hul gewig en geld agter hierdie produkte gaan ingooi, sal die ontwikkeling vinniger plaasvind. Ons is nog nie daar nie, maar biologiese produkte is die pad vorentoe. Nie noodwendig in afsondering van chemiese produkte nie, maar in ’n goed geïntegreerde stelsel wat die doeltreffendheid van chemiese en ook biologiese produkte sal bevorder en dus die produktiwiteit van alle hulpbronne en boerderye in hul geheel sal bevorder.”

Met al hierdie aspekte in gedagte, sê Marais, is die praktiese reël dat ’n maatskappy wat die moeite gedoen en geld bestee het om sy produkte geregistreer te kry, waarskynlik betroubare produkte bied waarvan die inhoud akkuraat op die etiket weergegee en waarvoor die vervaardigers volgens wet verantwoordelik gehou kan word.

Hoewel die registrasieproses dus gesien kan word as ’n handrem vir die ontwikkeling van nuwe produkte, is dit ’n proses wat die doeltreffendheid van die produkte waarborg, die veiligheid van die produk verseker, die boer beskerm en ’n versekering gee dat hy nie ’n fopproduk op sy plaas gebruik nie.

‘Ons is nog nie daar nie, maar biologiese produkte is die pad vorentoe.’

Bioproduk-mites

Mnr. Jaco Marais, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Bioproduk-organisasie (Sabo) en tegniese projekleier by Arysta Lifescience, sê benewens die mite dat biologiese produkte skadelik vir die mens is, moet ander wanopvattings ook uit die weg geruim word.

Biologie is slegs vir organiese boere.

“Baie boere meen biologiese produkte is slegs vir organiese boere geskik. Biologiese en chemiese produkte kan doeltreffend saam aangewend word en word reeds met groot sukses in landboupraktyke toegepas. Met voortdurende vernuwende tegnologie aan albei kante, gaan die gebruik van biologiese en chemiese produkte net aanhou waarde bied tot produktiwiteit en dus voedselsekerheid.”

Biologiese produkte is ondoeltreffend.

“ ’n Algemene opvatting is dat biologiese produkte ondoeltreffend is of te lank duur om doeltreffende vlakke te bereik. Dit hang af van die soort biologiese produk, gewas en aanwending van die produk. Indien ’n sojaboon-entstof korrek toegedien word, is die werking van die produk binne weke sigbaar deur die ontwikkeling van pienk nodules wat stikstof aan die plant verskaf. ’n Biostimulant wat op ’n avokadoboom toegedien word om vruggrootte of vrugset te ondersteun, bied soms eers ná ’n paar seisoene goeie resultate.

“Baie biologiese produkte word as waardetoevoeging gebruik en vervang nie noodwendig die konvensionele praktyk nie. In só ’n geval bied dit ondersteuning.

“Dieselfde geld biologiese plaagbestryding. Met biologiese produkte word nie altyd volkome beheer verkry nie, maar wel die onderdrukking van die plaag en ’n vermindering in bevolking, wat ekonomies belangrik is. Hierdie onderdrukking van die plaag, saam met die res van die geïntegreerde plaagbestuurstrategieë, kan dan die plaag volkome onder ekonomiese drempelwaardes beheer.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.

Navrae: Mnre. Jaco Marais, e-pos: jaco.marais@arysta.com; André Fox, e-pos: andre@madumbi.co.za; Stephan Honiball, e-pos: info@vitalbugs.co.za; dr. Roger Price, e-pos: PriceR@arg.agric.za

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.