Die waarde van dié bedryf sal volgens DunhammTrimmer, die voorste inligting-konsultasiemaatskappy in die bedryf, ongeveer R180 miljard (US$11 miljard) sterk wees teen 2022. Mnr. Mark Trimmer, president van DunhammTrimmer, het op die onlangse aanlyn konferensie van BioSolutions gesê die wêreldwye biostimulantbedryf was teen einde 2018 ongeveer US$2 miljard (R33 miljard) werd en die biobeheerbedryf ongeveer US$4 miljard (R67 miljard). Albei bedrywe groei wêreldwyd teen ’n gemiddelde samegestelde jaarlikse groeikoers van 16%.

Trimmer glo dat die Suid-Afrikaanse mark ook teen hierdie tempo sal groei, maar dat die gebruik van bioprodukte in ander lande in Afrika suid van die Sahara oor die volgende vyf jaar eksponensieel sal groei.

“Tans is daar slegs ’n geringe gebruik van biostimulante en biobeheerprodukte in Afrikalande suid van die Sahara, uitgesluit Suid-Afrika. Ons glo dat die verbruik van bioprodukte deur hierdie groep lande teen 2025 die totale verbruik in Suid-Afrika sal verbysteek. Ons  voorsien dus ’n hoër groeikoers in die verbruik in bioprodukte. Hierdie streek bly egter ’n baie klein op die wêreldmark.”

Bioprodukte in akkerbou aangewend

Volgens Trimmer is Noord-Amerika en Europa die grootste verbruikers van biobeheerprodukte. “Die omgewingsbeskermingsagentskap in Amerika het ’n toegewyde registrasiekanaal vir biologiese beheermiddels geskep wat die bedryf se groei daar baie aangehelp het oor die afgelope dekade. Die Latyns-Amerikaanse streek is die derde grootste verbruiker van biobeheerprodukte, maar groei tans teen bykans 20% per jaar, die vinnigste van al die streke. Hierdie groei sal in die voorsienbare toekoms volgehou word soos wat biologiese beheermiddels in die verbouingspraktyke van akkerbougewasse ingesluit word.”

Europa, Asië en die Latyns-Amerikaanse lande is die grootste gebruikers van biostimulante, terwyl die Amerika en Kanada baie later as Europa biostimulante begin aanvaar en gebruik het. Lande in Noord-Afrika gebruik proporsioneel baie meer biostimulante as biobeheerprodukte omdat hulle groot uitvoerbedrywe het.

R800 miljard teen 2030

Trimmer glo die bedryf se groei sal ná 2025 begin afplat. Teen 2025 behoort die bedryf ongeveer US$18 miljard se verkope per jaar aan te teken. Teen 2030 sal die groei van hierdie bedryf gelykstaande wees aan die nominale groeikoers van die wêreldwye ekonomiese kragte.

“Tans is daar honderde klein en mediumgroot maatskappye wêreldwyd wat produkte vervaardig en bemark. Daar sal vir minstens nog ’n dekade lank turbulensie in die bioproduktemark wees soos wat die gefragmenteerdheid van die bedryf konsolideer. Ons sien al hoe meer belegging deur die groot tradisionele multinasionale landbouchemiese maatskappye in die bedryf, wat die konsolidasieproses aanhelp en ook groei sal bevorder.”