Maak egter seker jou boerderybeginsels is op feite gegrond en toets die oorsprong en geloofwaardigheid van alle nuwe inligting.

Dít is die boodskap wat sprekers op die jaarlikse konferensie van die geenbewerkingsklub van KwaZulu-Natal op Drakensville oorgedra het. Vanjaar het dié konferensie, waarvan Landbouweekblad ’n borg is, sy 21ste verjaardag gevier.

“Soek soveel kennis wat jy kan, maak seker dit is op die waarheid gegrond, en pas oplossings pragmaties toe,” het mnr. Bill Crabtree, ’n landboukonsultant en boer van Australië, gesê. Hy staan bekend as No Till Bill en is reeds sedert 1994 een van dié land se grootste kampvegters vir geenbewerking.

Op sy eie plaas in Wes-Australië, waar die gemiddelde jaarlikse reënval minder as 300 mm per jaar is, verbou hy al langer as ’n dekade koring en kanola in sandgrond. Hy skryf sy sukses toe aan geenbewerking. Hy beklemtoon egter dat ’n boer nie die beginsels slaafs moet aanhang nie.

“Slim boere verwyder die probleme met gesonde verstand en hou altyd ’n oog op koste en opbrengs. As dit beteken jy moet per geleentheid, soos ná ’n vloed, ’n ploeg in die grond steek, dan doen jy dit.”

Hy sê in Afrika, waar mense honger ly ondanks ’n jaarlikse gemiddelde reënval van meer as 500 mm, is die kwessie juis om meer boere op te lei om geenbewerking toe te pas.

“Daar word gesê die mense gaan dood van droogte, maar dit is ondenkbaar met sulke hoë reënval. Die probleem is nie droogte nie, dis bewerkingsmetodes wat onvoldoende is.”

Iemand wat al langer as drie dekades geenbewerking in Afrika toepas, is mnr. Brian Oldreive van Zimbabwe. Hy het op die konferensie gesê in sy jong dae is hulle geleer om te ploeg is die waarmerk van ’n goeie boerdery en hoe meer en dieper jy geploeg het, hoe beter.

“Maar ons het aanhou geld verloor en ek was desperaat. Ek het destyds gehoor van geenbewerking in Texas, maar toe ek plaaslike akademici daaroor gepols het, was hulle skepties dat dit ooit sou werk.”

Hy het egter volhard en teen 1995 het hy 3 500 ha mielies, sojabone, grondbone, katoen en graansorghum volgens dié metode verbou. Sedert sy plaas in 2002 deur grondbesetters afgeneem is, wy hy en sy vrou, Cath, hulle heeltyds toe daaraan toe om arm bestaansboere te leer hoe om hul opbrengs deur herlewingslandbou te verhoog. Hy vertel dat hy in 2001 ’n gemiddelde mielie-oes van 13,95 t/ha behaal het. Die grondbesetters wat oorgeneem het, het voortgegaan om geenbewerking toe te pas en hulle het verlede jaar ’n Zimbabwiese opbrengsrekord van 21 t/ha behaal.

Oldreive het ’n beroep op boere gedoen om hul grond en kennis met swart kleinboere te deel. Hoewel die lewensomstandighede in Zimbabwe baie moeilik is, het hy steeds hoop. 

“Die storie in Zimbabwe is hartseer, maar ons het baie hoop, want te midde van die moeilike omstandighede draai mense na mekaar en na die Here toe,” het hy gesê.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.