“Jy is die rentmeester van die grond waarop jy boer en dit is belangrik om te onthou dat die grond daar sal wees lank nadat jy weg is.”

So meen Harris, wenner van die 2018 Mangold-trofee, wat jaarliks deur die Bathurst-bewaringskomitee (BCC) aan die bes bewaarde plaas in die omgewing oorhandig word.

Harris en sy vrou, Anne, van die Langholm-boerdery, sê vanjaar se prys was heeltemal onverwags nadat hule ook in 1998 die trofee ontvang het.

Harris boer hoofsaaklik met pynappels, maar gebruik vleisbeeste (Bonsmara) in sy gewasrotasiestelsel.

'n Sagte hand

“Bewaringslandbou beteken vir my om met ’n ‘sagte hand’ te boer, om soveel moontlik van natuurlike produkte gebruik te maak en seker te maak die uitlegte van lande en die beheer van die waterafloop is optimaal om erosie te voorkom,” verduidelik Harris. “Ons roteer ook die pynappellande met grasse, en dit is waar die vleisbeeste inkom. Ons gebruik ook ’n deklaag en minimumbewerking waar moontlik.”

Volgens Anne is dit Harris se mikpunt om die beste praktyke toe te pas ten opsigte van bewaring, grond en erosie.

Hy wil ook die BCC loof vir die rol wat dié komitee in bewaringslandbou in die omgewing speel.

“Die lede daag nie net op om op jou plaas te kom rondry nie. Daar is altyd iets te leer uit die waardevolle raad wat hulle ná die tyd gee.”

Die Mangold-trofee word jaarliks op die Bathurst-skou deur die BCC oorhandig tesame met die trofee vir die plaas in die omgewing wat die beste herstel in die jaar getoon het. Dié trofeë word al vir meer as 50 jaar toegeken.

Mnr. Tshilidze Matshidzula, ’n jong, swart boer van die Little Barnet-deelmelkery naby Alexandria, het in 2016 landwyd opslae gemaak toe hy die eerste swart boer in die omgewing was wat met die trofee weggestap het.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.