“Ek wil nie op tone trap nie, maar ek wil net vir die navorsers sê ek dink die Suid-Afrikaanse boere het hulle verbygesteek. Ek dink hulle moet met ons hande vat omdat ons die aanpassings self moes doen. Ons is nie navorsers nie, maar ons kan nie steeds by universiteite leer wat ons reeds 40 jaar gelede van grondkunde geweet het nie. Navorsing moet ook verander,” het mnr. Danie Slabbert, ’n boer van Reitz, gesê op die herlewingslandboukonferensie wat Landbouweekblad en die Riemland-studiegroep op Reitz aangebied het.

Lede van dié studiegroep het die afgelope dekade berge versit om herlewing in hul boerderystelsels te bewerkstellig. Hulle het nie geskroom om te leer van ander wat lank voor hulle daarmee begin het nie, en het self reeds skoolgeld betaal. Hoewel hul vordering duidelik is, gaan die leerproses aan, het Slabbert gesê.

Boere vorder self

Dié rebelsheid en vernuwende denke beteken nie boere wil amateuragtig aandruis nie. Die vordering wat boere op eie inisiatief maak, het hom opgeval, sê mnr. Jason Carter, ’n herlewingsboer van Eastover in die Amerikaanse deelstaat Suid-Carolina en ’n spreker op die konferensies op Reitz en Ottosdal.

“Ek was verstom oor die vlak van wetenskaplikheid waarmee Suid-Afrikaanse boere herlewingslandbou beoefen. Dit het my ook beïndruk hoeveel boere in Suid-Afrika reeds dié praktyk voluit beoefen. Ek vermoed selfs dat in Suid-Afrika, in verhouding gesien, meer herlewingsboere is as in Amerika.”

Toe lede van ’n boerepaneel op Reitz gevra is hoe boere met herlewingslandbou kan begin, het Carter aanbeveel dat boere seker maak hulle verstaan die wetenskap wat herlewingsboerdery onderlê vóór hulle begin. Slabbert stem met hom saam, maar voeg by dat boere deeglike planne moet beraam voor hulle die beginsels van bewaringslandbou op hul eie plase gaan toepas.

“Dít kan niemand anders vir jou doen nie, want dan is dit sy stelsel en nie joune nie.”

Verstaan die grond

Prof. Buz Kloot van die Universiteit van Suid-Carolina, hoofspreker op albei konferensies, sê een van die kenmerke van herlewingslandbou is hoe boere begin om die grond te verstaan omdat hulle nie langer kan wag vir advies nie.

Kloot, wat vanaf 2011 baie gedoen het om boere-vernuwing te dokumenteer en saam met boere herlewingsboerderypraktyke na te vors, sê mense beskou hom as ’n soort pionier, ’n soort kundige. “Eintlik is ek net bevoorreg om boere, die ware helde, se boodskap te verkondig.”

Maar wat beteken dit vir navorsers? Kloot sê boere vind uit wat in die grond gebeur, maar wetenskaplikes moet uitvind waarom dit gebeur. Wetenskaplikes kan dan breë beginsels daaruit ontwikkel. Kloot meen die beste navorsing sal na vore kom waar navorsers verhoudings met boere ontwikkel.

Me. Sheila Storey van Nemlab sê ook haar ondervinding in die vrugtebedryf is dat die beste navorsingsprojekte na vore kom waar die wetenskaplikes én boere saamstem oor die belangrikheid van die navorsing.

Nie universeel

Iets wat herlewingsboere goed verstaan en wat dr. Valeria Faggioli in haar oorsig oor 40 jaar van bewaringsboerdery in Argentinië uitgelig het, is dat daar nie ’n universele benadering tot herlewingslandbou is nie.

Boere kry dit goed reg om dit wat hulle by hul eweknieë in ander gebiede en lande leer, in hul eie toestande aan te pas. Boere dink dalk hulle pas herle wingslandboupraktyke toe om net die winsgewendheid en volhoubaarheid van hul eie boerderye te verbeter, maar hoe meer boere dit doen, hoe wyer kan die voordele strek.

Prof. James Blignaut, ’n hulpbronekonoom, meen die vaslegging van koolstof, bewaring van water en beperking van erosie as gevolg van herlewingslandbou kan die “lekplekke” of vermorsing in die ekonomie keer en die ekonomie volhoubaarder laat groei.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.