Dr. Saskia Keesstra, ’n omgewingsnavorser aan die Nederlandse Universiteit van Wageningen, sê volhoubare omgewingsbestuur beteken nie net die beskerming van die omgewing en grondgesondheid nie, maar ook die maatskaplik-ekonomiese interaksie met die mense wat die grond bewoon.
Keesstra en dr. Henk Wösten, haar kollega van Wageningen, was twee van die buitelandse deelnemers aan ’n werksessie by die Universiteit van die Vrystaat (UV) in Bloemfontein waar stappe bespreek is om die vrystelling van kweekhuisgasse te beperk.
Volgens Keesstra sal ’n stelselbenadering gevolg word wat al dié aspekte in ag neem. “As wetenskaplikes weet ons reeds baie van omgewingsbestuur vanuit ’n biofisiese perspektief, maar meer aandag moet aan ’n maatskaplike benadering gegee word om die volhoubare ontwikkelingsmikpunte aan mense oor te dra.”
Prof. Linus Franke van die fakulteit natuur- en landbouwetenskap aan die UV het gesê dit is duidelik dat diereprodukte ’n baie groter koolstofspoor as plantaardige produkte het. Die werksessie se bespreking is ook op bewaringslandbou toegespits met die rol wat goeie beweidingsbestuur kan speel om landbougrond te laat verander van ’n bron van koolsuurgas tot ’n opbergplek daarvan. “Die ryker deel van die wêreldbevolking sal minder diereprodukte moet eet. ’n Wisselwerking tussen produsente, verbruikers en beleidsmakers is nodig om die koolstofspoor te verklein.”
Mnr. Jack Vera, landbouattaché by die Nederlandse ambassade, het die samewerking tussen instansies in Nederland en Suid-Afrika in sy openingsrede bepleit om die vakkundige kennis en die toepassing daarvan ten bate van omgewingsbestuur te verbeter. “Een van die belangrike aspekte daarvan is die verbetering van die grondgehalte. Die onderskeie wetenskaplikes kan maklik saamwerk, maar die toepassing is van groter belang.”
Een van die mikpunte is die instelling van ’n gesamentlike navorsingsprojek waarby verskeie belangegroepe en beleggers uit albei lande betrokke sal raak.
Teken in en kry onbeperkte toegang tot 11 Afrikaanse tydskrifte en 35 koerante. Alles op een plek.
KIES JOU PAKKET
LANDBOUWEEKBLAD EN NETWERK24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier