Boere en navorsingstegnici benut dekgewasse as weiding en deklaag om verskeidenheid in hul gewasstelsels in te bring en om onkruid in toom te hou. Daar is nog struikelblokke, soos watter gewasse om te gebruik, hoe om die gewasse voor die volgende kontantgewasjaar te beëindig, asook hoe om weiwaarde en ander voordele daaruit te kry, wat boere en navorsingstegnici aan die leer hou.

’n Paneel van boere en navorsingstegnici van die Wes-Kaapse departement van landbou het op die onlangse konferensiedag van die Bewaringslandbou Wes-Kaap Jack Human Bewaringsweek buite Stellenbosch van hul ondervinding met dekgewasse vertel.

Me. Lisa Smorenburg, navorsingstegnikus by die Wes-Kaapse departement van landbou, plant die afgelope paar jaar verskillende dekgewasmengsels in wisselbou met koring. Haar proewe is te sien op die navorsingsplase Tygerhoek en Langgewens en op kommer- siële plase by Caledon en Riversdal.

Sy plant die dekgewasse sonder kunsmis en plaagbestryding. Teen Oktober rol sy dit plat en plant die volgende jaar koring. Die koring word met kunsmis geplant, maar kry nie ’n kopbemesting nie. Sy oes die dekgewasse en weeg die hoeveelheid materiaal. In die koringjaar oes sy die koring en bepaal die opbrengs en graangehalte as ’n manier om te sien hoe die koring ná verskillende dekgewasmengsels vaar.

Mnr. MG Lötter van die plaas De Vlei by Caledon sê hy het dekgewasse begin plant om sy kontantgewasrotasies te “breek”, materiaal op sy grond te kry en hopelik die koste van graanboerdery te verlaag as hy mettertyd minder ingekoopte insette hoef te gebruik.

Oos van Caledon plant mnr. Hume Schönfeldt van die plaas Heuningneskloof dekgewasse om peulplante vir stikstofbinding in sy kontantgewaswisselboustelsel van kanola, koring en gars in te bring. Hy sê hy sukkel tot dusver om die peulplante te oes en iets daaruit te kry. “Ons gaan nou probeer om redelik vroeg in die seisoen kuilvoer van die dekgewasse te maak. Dan gaan ons die grasonkruid doodspuit en die peulplante laat uitgroei om ’n mat op die land te maak.”

Al sy diere word in die winter in die voerkraal gevoer om sodoende verdigting op die graanlande te beperk. In die somermaande benut die vee die stoppellande. Die enigste Swartlander op die paneel, mnr. JP Bester van UD Boerdery by Moorreesburg, sê hy en sy broer Cobus het ’n driejaarstelsel met een jaar koring en twee jaar medics vir weiding en hooi. Hulle plant dekgewasse in die eerste medics-jaar om koolstof in die grond te bou en materiaal op die grond te kry. “Ons kry 100% grondbedekking met die dekgewasse, iets wat ons nie met medics kon regkry nie.”

Die meeste boere in die Wes-Kaap laat hul dekgewasse deur skape bewei.

‘OPPORTUNISTIES IN DIE SOMER’

Mnr. Lourens van Eeden, wat op die plaas Vleitjie tussen Swellendam en Heidelberg boer, kry gewoonlik 40% van sy reën in die somer en plant somerdekgewasse “opportunisties” as hulle suidoosreën in oestyd kry. Hy wil koolstof in die grond bou. “Ons boer nou al 30 jaar en die koolstof wil nie vermeerder nie. Die enigste manier om dit in die grond te kry, is om wortels in die grond te hê.”

In die somer plant hy tef en in die winter ’n dekgewasmengsel op die lande wat uit die lusernfase kom om materiaal op die grond te kry voordat ’n kontantgewas die volgende jaar geplant word. Op die hoëpotensiaallande wat hy aanhoudend wil plant, maar waar daar ’n probleem met grasonkruid is, sal hy ook toepaslike dekgewasse plant.

Mnr. Wessel van Dyk van die plaas Kleinsoutrivier by Napier eksperimenteer al ’n paar jaar lank met winter- én somerdekgewasse. Laasgenoemde is by hom ook opportunisties, maar hy glo as hulle in Oktober of November “net genoeg reën kry om ’n somerdekgewas op te kry”, kan die plante se wortels die water wat dieper in die grond is, gaan haal. Hy maak kuilvoer van die dekgewasmengsel wat hy dié winter geplant het, en het ook goeie veeweiding gekry nadat hy hawer in lusernweiding ingeplant het. Verder ondersoek hy dekgewasse wat ’n alternatief vir kanola kan wees.

’n Boer wat lankal dekgewasmengsels plant nog voor dit “mode” geword het, is mnr. Boeta Wessels van die plaas Karsrivier by Bredasdorp. Hy boer met koring, gars, kanola, lusern, skape en beeste, en het meer as tien jaar gelede begin om hawer en bitterlupiene te plant (“Vee vind baat by wisselbou”, LBW, 2 September 2011).

Deesdae plant hy ’n mengsel van kanola en weiwieke om stikstof te bind en grasonkruid te bekamp. “En dan het ek mos kos vir my vee ook. Die kanola en wieke gee baie kos.” Benewens kanola en weiwieke plant hy ’n mengsel van hawer, bitterlupiene en medics. Hy pas drukbeweiding toe.

‘ELKE JAAR IS MOEILIK’

Dis moeilik is om te weet watter mengsel op enige plaas sal werk, en boere moet eksperimenteer om te sien wat by hulle werk. Soms is dit duur eksperimente. Mnr. Rens Smit, navorsingstegnikus by die Wes-Kaapse departement van landbou op Langgewens, sê ’n mens moet versigtig wees om sommer enigiets te plant.

“Die eerste mengsel wat ek geplant het, was baie duur. Ek sal nie sê dit het nie gewerk nie, maar dit was nie die geld werd nie. Ons pluk die vrugte van diverse mengsels, maar dit help nie jy plant iets wat nie op jou plaas aard nie. Peulgewasse groei byvoorbeeld in baie spesifieke grondsuurheidsgrade. As ’n mens dít nie weet nie, gaan dit nie help om peulgewasse te plant nie.”

Hy sê by beëindiging van dekgewasse is dit belangrik om noukeurig te monitor in watter stadium die onkruid in die dekgewasse is. “Onkruid glip maklik deur as jy nie op die regte tyd beëindig nie.”

Lötter sê die beste kontantgewasoeste wat hy behaal het, was ná dekgewasse, maar die swakste ook. “Die beste koringopbrengs was ná swarthawer wat ek met kunsmis ná lusern geplant het en ek het toe baie materiaal op die grond gekry. In 2017 het ek toe ’n dekgewasmengsel van 15 verskillende spesies gehad – onkruid ingesluit – wat ek noodgedwonge moes laat bewei.”

Vir Smorenburg is elke jaar ’n kwessie. “Elke jaar is anders. Elke jaar dink jy jy het die regte mengsel, maar dan kom net sekere gewasse op. Jy pas jou mengsel aan, en die volgende jaar kom daar weer ánder goed op. “Onkruid veroorsaak ook groot probleme. Jy dink jy saai dik genoeg om dit te onderdruk, maar die tipe jaar maak ’n groot verskil sodat die plantdigtheid dalk nie dik genoeg is om onkruid te onderdruk nie.”

’n Mengsel van rog, Saia-hawer en Japannese radys wat mnre. JP en Cobus Bester van Moorreesburg ná koring plant om ’n goeie deklaag op hul grond te kry. Hulle laat dit ook bewei.

DIT KOS TYD (EN GELD)

Schönfeldt sê dit duur ’n paar jaar voor die voordele van dekgewasse iets oplewer, en dis vir hom problematies terwyl dit nog net ’n uitgawe is. “Ons weet waar ons gelykspeel met koring, gars en kanola. Die beste stelsel is waar jy peulgewas-dekgewasse plant, dit net so los en op die regte tyd beëindig. Dan is daar stikstof in die grond gebind en die grond is bedek, maar jy het niks geld daarvoor gekry nie.”

Hy besef dit duur lank voordat die voordele van so ’n stelsel begin blyk, maar dis moeilik om die eerste paar jaar se koste te dek. Hoewel dit ’n oplossing kan wees om in die winter kuilvoer van die dekgewasse te maak, verdig dit die grond te erg en sukkel ’n mens die volgende jaar met opkoms. Hy het sy stelsel verander en sal sien of dit werk. “Dis maar ’n leerkurwe. Ons probeer elke jaar beter doen.”

Bester sê medics is die peulgewas in sy wisselboustelsel. “Vir my is die kwessie om die plantdigtheid van die grasse (Saia-hawer en rog) en koolgewas (Japannese radys) in my dekgewasmengsel só te kry dat dit nie die medics doodgroei nie, maar nog genoeg materiaal op die grond laat.”

Hy sê dis moeilik om dekgewasse te vestig. “Verlede jaar het dit klopdisselboom gegaan, maar vanjaar het ons swak vestiging gehad. Ek sal dalk in die toekoms van die dekgewaskampe later vestig om risiko te versprei.”

Bester glo ook terwyl boere nog eksperimenteer om die regte gewasse, mengsels en plantdigtheid vir hul omstandighede te kry, moet dit nie te duur wees nie. “Dit moenie só ’n groot impak op jou koste hê dat dit nie ’n sukses is nie.”

HOE EN WANNEER OM TE BEËINDIG

Boere op die paneel is dit eens dat hulle van dekgewasse verwag om opbrengste van kontantgewasse te verbeter en toestande vir kontantgewasse te bevorder. Dit is waarom die beëindiging van dekgewasse, wat dikwels ’n mengsel van breëblaar- en grasgewasse is, so druk bespreek is.

Bester sê ’n mens moet deeglik bewus wees van die tyd wanneer die dekgewasse blom en saad vorm. “Jy moet versigtig wees om die gewasse nie te laat saadskiet nie. Ons het gedink ’n gewone roller gaan help om nie te spuit nie, maar in dié stadium is ek nie so seker daarvan nie. Ons sal maar onkruiddoder moet gebruik.”

Op ’n vraag van mnr. Jose de Kock van Napier oor wortelgroei van dekgewasse wat beëindig is, het Bester gesê hy wil nie sade laat oordra na die volgende kontantgewasjaar nie, en ook nie wortelgroei in die somer hê nie. “Ons spuit parakwat (reg.nr. L2215, Wet 36 van 1947). As jy dit met min water spuit, steriliseer dit die grasse in die dekgewasmengsel. Dit skroei die medics bo-op, maar die medics maak nog saad. Die medics se wortels hou aan met groei, maar die gras is dood.”

Smorenburg sê sy verkies om die dekgewasse net te rol en te los. As sy egter sien die gerolde gewasse staan te veel op, sal sy dit ook bespuit. “Ek wil hê die wortels moet deur die somer aan die lewe bly.” Sy wil ook verskeidenheid behou en sal eerder met onkruid hier en daar saamleef as om verskeidenheid in te boet.

Smit sê hy het gevind klippe en ’n roller “werk nie saam nie . . . dit maak nie saak hoe doeltreffend die roller is nie”.

Bester het beaam by hom werk die roller net in die lang gras. Bester sê in teorie wil hy die dekgewasplante se wortels behou. Tog beskou hy rog en hawer as onkruid in die volgende koringjaar. “Ons wil skoon medics hê in die jaar voor ons koring plant. Hoe minder goed ons dus in die grond het, hoe beter.”

BEWEIDING EN HERGROEI

Dr. Pieter Swanepoel van die fakulteit agriwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch en moderator van die paneel sê een van die knelvrae is hoe dekgewasse bewei moet word om hergroei moontlik te maak en genoeg bedekking op die grond te laat. Schönfeldt sê “omtrent 95%” van die besluite wat in hul boerdery geneem word, is tot voordeel van kontantgewasse.

Vanjaar gaan hulle kuilvoer maak van ’n mengsel van medics, wieke, erte, gewone en Saia-hawer. Hy het begin Augustus ’n proefdeel gesny. “Die medics was nog só laag dat ek dit amper nie kon sny nie, maar die wieke het teen die hawer opgegroei. Ek glo as daar vog in die grond is en die medics en wieke kry son, sal dit weer uitgroei vir bedekking op die grond. Ek skat ons gaan sowat 10 ton nat materiaal per hektaar afoes.”

Smit sê hergroei is nie ’n gegewe nie weens wisselvallige reën. “Dit gaan oor balans in beweiding. Jy wil nog bedekking op die grond hê, maar die onsekere reënval maak dit moeilik.” Van Eeden voeg by ’n mens wil ná die tyd ’n kontantgewas plant. “Jy wil nie hawer- of rogsaad op daardie lande hê nie. Jy moet dit só bewei dat jy dit kan afwei, maar iewers moet jy dit beëindig.”

Bester sê hy laat tot September twee skape per hektaar wei. Daarna word dit doodgespuit. “Ons wil hê die dekgewasse moet hoog uitgroei, want ons wil die grond heeltemal met plantmateriaal bedek. Dit klink na min skape, maar verlede jaar het ons hoëdrukbeweiding in die winter toegepas en die skape het die grond erg vertrap.

“Ons laat tot op ’n punt bewei dat daar genoeg bedekking is. Dis vir ons belangrik. Die diere bly in die dekgewasse tot die grasse begin saadskiet. Dan skuif ons hulle na ander kampe en rol die dekgewasse plat of spuit dit dood.”

Wessels het verlede jaar vir twee tot drie weke 20 skape per hektaar op die dekgewasse laat wei. Hy het daarna reën en hergroei gekry sodat hy nog 10 tot 12 bale hooi per hektaar vir kuilvoer kon sny. Hy pas redelike hoëdrukbeweiding toe sodat daar nie veel materiaal op die grond bly nie. “Die wortels wat in die grond bly, is genoeg lewe in die grond. Dalk moet ek dit oorweeg om die lusern met meer dekgewasse te vervang om meer materiaal op die grond te kry.”

Van Eeden sê beweiding, bedekking en hergroei hang af van wat in die dekgewasmengsel is. “Van die gewasse is baie smaaklik. Die skape vreet die fyn goed eerste en grawe omtrent die radyse uit die grond uit voor hulle korog sal vreet.” 

DEKGEWASMENGSEL VAN OUDS

Wessels en Van Dyk sê lusern vaar nie meer so goed in hul stelsels nie. Wessels meen dis omdat die afgelope paar jaar so droog was. Hy wonder of dit nie beter sal wees om die lusern met dekgewasse te vervang nie, terwyl Van Dyk vanjaar hawer in sy lusern ingeplant het vir materiaal en lewende wortels in die winter.

Van Eeden reken lusern kan weer werk as dit in ’n mengsel met ander gewasse groei. “Toe ek begin boer het, het al die boere-ooms daar lusern gehad, maar daardie lusern is nie skoongespuit nie. Daar het turknael, mosterd, ramenas en raaigras in die lusern gegroei. Dit was ’n fantastiese mengsel. Die lusern het stikstof in die grond gebind, koolstof en stikstof was in balans en daar was baie kos, sodat jy meer vee kon dra.”

Ongelukkig het mense toe “slim geraak, miskien te slim” en metribusin (reg.nr. L6517, Wet 36 van 1947) begin spuit, ’n onkruiddoder vir die bekamping van gras- en breëblaaronkruid in lusern. Die meeste van die vorige voordele het toe verlore gegaan.

Navrae: Mnr. Boeta Wessels, e-pos: boetawessels@omail.co.za; mnr. MG Lötter, 082 871 6588; me. Lisa Smorenburg, 082 885 5029; mnr. Wessel van Dyk, 082 838 0737; mnr. Rens Smit, e-pos: rensagri@gmail.com; mnr. Hume Schönfeldt, 072 997 5308; mnr. JP Bester, jp@udb.co.za; mnr. Lourens van Eeden, 082 416 3635; dr. Pieter Swanepoel, e-pos: pieterswanepoel@sun.ac.za

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.