Dekgewasse is die nuutste stap in ZZ2 se reis na natuurboerdery. Mnr. Hendrik Pohl, bedryfsbestuurder van ZZ2- vrugteplaas by Ceres, sê die regte dekgewasse sal help om die boorde van hul afhanklikheid van sintetiese stikstofbemesting te speen en ’n deklaag oor die kompos op die bankies verskaf.

Pohl het op Landbouweekblad en die Soil Health Support Centre se konferensie oor herlewingslandbou op Joostenbergvlakte gesê dis nie reg om organiese materiaal van ander gebiede te bring nie. “Die deklaag van strooi kan tot my plaas se volhoubaarheid bydra, maar dis nie volhoubaar vir die boere by wie ek die strooi koop nie. En dis waarom ons dekgewasse plant.”

Die boerdery se landboukundiges beskou die dekgewasse as ’n plaasvervanger vir die deklaag van strooi of saagsels en as ’n manier om stikstof in die boorde te bind. “Ons moet wegkom van die 30 kg tot 40 kg suiwer stikstof wat ons per hektaar in ons boorde toedien. Ons moet dit uit ’n ander bron kry, en dis waarom ons peulgewasse op die bankie plant.”

Hulle het voorheen 45 kg stikstof per hektaar met behulp van medics gekry, maar het ’n plant nodig om kalium in die grond te bind of te roteer. “As ons voortgaan om organiese materiaal, wat baie kalium bevat, van elders te bring, vererger ons die kwessie met kalium.”

Dekgewasse sal ook help om plantbiodiversiteit in te bring en plantvoeding in die grond te ontsluit. “Plantdiversiteit bring mikrobiese verskeidenheid wat elemente uit die grond kan opneem.”

Hy meen ’n verskeidenheid dekgewasse kan insekverskeidenheid verhoog. “Ek dink die grootste impak sal op bestuiwers en roofinsekte in die boord wees.”

Dis egter nie maklik om die regte dekgewasse te kies wat in hul omstandighede sal groei en aan hul vereistes voldoen nie. Hulle het nietemin vanjaar proewe in die rye geplant. Hulle het ’n eg met ’n saadkas op gebruik om die grond op die bankie los te maak. Die meestal fyn saad is met ’n kunsmisstrooier geplant en daarna besproei. “Dit gee goeie saadkontak met die grond. Ons het die beste resultate gekry waar ons die saad op die bankie gestrooi het en verder niks gedoen het nie.”

KOMPOS EN DEKLAAG

ZZ2 het in 2001 met ’n proef begin om 20 m3 kompos wat hulle self maak, op die bankie te gooi en met ’n deklaag van graan- strooi of houtskaafsels te bedek. Hul boere- somme het getoon dat 20 m3 ’n “stroom voedingstowwe” gelykstaande aan ’n chemiese program sou lewer. Ná twee jaar het hulle dit op die hele plaas begin toepas.

Hulle het gedink hulle sou mettertyd die hoeveelheid kompos kon verminder, maar het gevind soos die natuurlike stelsel in die grond momentum gekry het, het die mikro-organismes die kompos vinniger afgebreek. Hulle het die kompos met ’n deklaag bedek om die omgewing in die kompos vir die mi- kro-organismes te stabiliseer. “Ons het met 270 bale begin en gebruik nou 370 bale per hektaar. Ek dink nie dis genoeg nie. In die begin was 270 bale genoeg en daar was nog strooi oor aan die einde van die seisoen teen Maart, maar vanweë die intensiteit van mikrobiese aktiwiteit verloor ons die deklaag baie vinnig. “Ons glo dis ’n goeie ding, want ons weet dit gaan in die grond in.”

Houtskaafsels hou langer as die strooi en sorg vir ’n ander biologie in die grond omdat dit swamme in die grond aktiveer. Dis egter nie altyd beskikbaar nie en nogal duur om na die plaas te vervoer. Pohl sê hulle het dit gewaag en opgehou om kunsmis toe te dien, maar deesdae gee hulle weer ’n bietjie stikstof om groei te be-stuur. “Ons bestuur ook kalsiumvlakke oor die verhouding tussen kalium en kalsium, omdat dit slegte nuus kan wees vir die voor- koms van bitterpit by appels.

DINK ANDERS OOR ONTLEDINGS

Die veranderinge maak dat hulle nou grond- en blaarontledings anders moet benader. Hulle doen steeds die gewone blaar- en grondontledings, meer dikwels en anders, omdat hulle nou met ’n hoërisiko-onderneming besig is. Tog kon hulle nie enige neiging in die ont- ledings sien nie. “Toe begin ons ’n bietjie boere-chemie. Ons het op ons sintuie – wát ons kan voel, sien en aanraak – begin staatmaak. As jy in die boord ’n verskil kan sien, voel en aanraak, is dit gewoonlik ’n groot verskil.”

Deesdae stap hulle twee keer per jaar deur die boorde en doen ’n jaarlikse blaarontleding en driejaarlikse grondontleding. Hulle kyk na blaarkleur, die groeikragtigheid van die boord, hoe die bome groei en die algemene toestand van die grond en die deklaag op die boordvloer. “Ons gee ’n punt van 1 tot 4, nie 1 tot 5 nie, want dan eindig jy gewoonlik met ’n gemiddelde van 3, wat skaflik is. Ons wil nie gemiddeld wees nie. Op ons skaal is 2 ondergemiddeld, 3 bogemiddeld en 1 en 4 is uiterstes. Dit help ons om belangrike besluite te neem.”

Om dekgewasproewe te plant, is ’n eg met ’n saadkas op gebruik om die grond op die bankie los te maak en die meestal fyn saad met ’n kunsmisstrooier te plant. Daarna is dit besproei.
ZZ2 maak sy eie kompos, wat hy op die bankie gooi en met strooi bedek om sodoende kos en huisvesting aan mikro-organismes te voorsien. FOTO: LBW-ARGIEF

VELE VOORDELE

Pohl sê hul benadering het ’n groot im- pak op hul boerdery. “Die grootste ver- betering is die verhoogde grondgesondheid wat betref mikrobiese en swamakti- witeit. Die voedingsbehoeftes van die plante word eerder deur mikrobes verskaf, as deur ’n bemestingsprogram. “Die kompos en deklaag dien as ’n tuiste en kos vir die mikrobes, en die uitskeidings van die wortels bepaal watter bevolking mikrobes in die grond is. Hulle verskaf wat die plant nodig het, pleks van die geforseerde voeding wat ’n bemestingsprogram verskaf.”

Groter grondgesondheid het die waterindringingskoers en deurlugting van hul grond “drasties” verhoog. “Ons het watertoedie- ning van 12 000 m³ per hektaar verlaag tot 9 500 m³. Ons vermoë om suurstof en water in die grond te bestuur, het makliker geword. “Ons gebruik ook nou meer van ons grond. Vroeër het ons net die boonste 30 cm gebruik, maar nou het ons wortels tot 80 cm diep, en dit is in ou gevestigde boorde wat van standaardpraktyke na natuurboerdery oorgeskakel is.”

’n Verdere meetbare maatstaf van grondverbetering is die verhoogde koolstofvlakke in hul grond. Dit het van 0,4% in 2001 toegeneem tot die huidige 3,8%. Hulle is baie tevrede met die verbetering in boomgesondheid wat hulle waarneem. “Dis moeilik om te definieer, maar ons meet dit aan die gesondheid en ontwikkeling van die wortels wat dieper en meer gedifferensieer is. Ons het nie meer net die tipiese groot, dik wortels nie, maar ’n groot hoeveelheid fyner wortels wat die werk vir die boom doen om water en voedingstowwe te verskaf.”

Hy sê daar is ook aansienlik meer sigbare swamme. Nog ’n maatstaf van boomgesondheid is die feit dat hulle sedert 2003 nog nie weer nodig gehad het om vir appelbloedluis te spuit nie. “Ons het mytbestryding verminder en kon deur die afgelope paar jaar se droogte kom met een rooispinmytbespuiting per jaar in drie jaar, terwyl ander boere meer dikwels gespuit het.”

Hulle het sedert 2003 ook nie nodig gehad om hul grond teen aalwurms te behandel nie. Die grootste oorkoepelende voordeel is dat hulle die herstelvermoë van hul boerdery in so ’n mate verhoog het dat hulle ’n stresbuffer het. Hulle kon die afgelope paar droë jare oor die weg kom met minder water, sonder dat hul opbrengste te veel gedaal het.

BEMARKERS GLIMLAG BREED

Pohl sê dis nie net in die boorde dat verandering sigbaar is nie, ZZ2 se bemarkers glimlag ook breed. Hul opbrengste het verbeter. In 2001 is 65 ton tot 70 ton per hektaar geoes. Die vrugtegroottes was swak, en die uitpakpersentasie laag. “Die afgelope vyf jaar oes ons meer as 90 ton per hektaar. Vanjaar se finale oessyfers is nog nie be- skikbaar nie. Ons sien deurlopend goeie produksie, sonder aan en af jare.”

Hulle het ook nie kwessies met gehalte, soos krake en interne verbruining, nie. “Ons vrugte se interne gehalte het drasties verbeter, asook die opbrengs en vruggrootte. “Ons bemarker gebruik ons vrugte strategies in die tye wat goeie inkomste verwag kan word, omdat dit so goed opberg en verskeep.”

DIE BESTE VAN DIE NATUUR, TEGNOLOGIE EN WETENSKAP

Landbouweekblad het in die uitgawe van 13 April 2018 in die artikel “ZZ2: Die vele voordele van volhoubare vrugteboerdery” (http://152.111.1.45/argief/berigte/landbouweekblad/2018/04/13/LB/38/01.html), geskryf hoe ZZ2 “natuurboerdery” ontwikkel het as teenvoeter vir die “opmerklike agteruitgang van die grond met die gebruik van kunsmatige bemesting, die ewige soeke na maniere om koste te besnoei, asook die onvolhoubare ekonomiese, maatskaplike en omgewingstoestande waarin die industriële landbou homself bevind”.

Aangesien die grond op ZZ2 se plase swakker geraak het, het dit ál meer gekos om dit te onderhou. Daarom pas die boerdery nou landboupraktyke en -prosesse toe wat daarop gemik is om die beste tegnologie in harmonie met die wette van ’n lewende natuur te gebruik.

In die praktyk pak hy jaarliks, gewoonlik net ná oestyd, 20 m3 kompos per hektaar op die bankies uit en bedek dit dan dadelik met strooi of houtskaafsels. Kompos word meganies in ’n band op die bankie of met die hand in ’n hopie om die sproeier geplaas – nie om die boom se stam nie. “Ons glo daaraan om die biologie te voed, maar ook om dit ’n huis te gee. Dink aan die kompos as kos vir ons grondlewe en die bedekking as ’n huis daarvoor.”

SOVEEL MEER AS GESONDE GROND EN BOORDE

Uiteindelik bied natuurboerdery soveel meer as net ’n manier om die bome en grond gesond te maak, sê Pohl. “Ons hele stelsel het verander. Besluitneming is nou meer inklusief as voorheen. Dit beïnvloed alle aspekte van die boerdery omdat ons anders dink oor wat ons van die natuur kan leer.”

Dit het hulle gehelp om te fokus. “Ons is terug boord toe getrek, sonder om die maklike pad van programgedrewe, industriële boerdery te volg. Natuurboerdery het ons die vermoë gegee om veranderinge waar te neem en met ’n nuwe sin vir dringendheid op te tree, maar ook die geduld om die natuur ’n kans te gee om haar werk te doen.”

Hy sê hulle het ook begin om verhoudinge te bou met die mense en die omgewing rondom hulle. Daarbenewens het hulle hul “mojo” behou, dit is hul kreatiwiteit om ’n emosionele verbintenis met hul produk, hul verbruikersgemeenskap en werknemers te hê

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.