Boere kon die nuwe kultivars wat beskikbaar is, besigtig en ondersoek, en ook sien hoe verskillende mengsels van dekgewasse op die land vaar. Kundiges van die Wes-Kaapse departement van landbou en die saadmaatskappye Agricol, Barenbrug en K2 Saad was daar om vrae te beantwoord.

Me. Lisa Smorenburg van die Wes-Kaapse departement van landbou se proewe van die afgelope drie jaar met verskillende dekgewasse toon dat graanopbrengste hoër is ná dekgewasse. Sy spuit nie die dekgewasse dood nie, maar rol hulle. “As jy in dieselfde rigting plant as wat daar gerol is, werk ’n tandplanter maklik deur die materiaal.”

Sy het aanbeveel dat boere hul dekgewasmengsel aanpas volgens die grondontleding, maar gewoonlik werk ’n verhouding van 70:30 tussen grasse, soos hawer, korog of voergars, en peulgewasse goed. Die peulgewaskomponent moenie veel hoër wees nie, want die materiaal breek gou af en laat nie veel materiaal bogronds nie.

Mnr. Jaco Kellerman, landboukundige van Barenbrug, sê hy meen dekgewasmengsels met tien spesies of meer is nie die geld werd nie.

“Die gewasse wat egter in ’n mengsel móét wees, is voer- of graanerte en wieke as peulgewasse, ’n kleingraan soos voerrog of korog en ’n koolgewas soos radys.” Vir kuilvoer beveel hy mengsels van hawer, korog en erte, hawer, korog en bitterlupiene of hawer, korog en wieke aan.

Goeie mengsels vir veeweiding is wieke, voergars, hawer en enige radys. “Vir weiding is die pakkie redelik wyd. Jy kan hawer en wieke ook vroeg in die seisoen plant, en later kan jy gars en erte, wat koue kan weerstaan, plant."