Die Noordoos-Vrystaat word al jare lank die Riemland genoem. En daar is ’n goeie rede hiervoor. Hierdie deel van die land was Suid-Afrika se eie Serengeti. Groot troppe wild het in die somer na die welige, groen grasvlaktes getrek. In die middel 1800’s het jagters saamgetrek om die diere vir hul velle te skiet. Die meeste van die velle is in rieme opgesny. Dit was daardie jare soos tou en is vir baie doeleindes gebruik.

In 1866 het een maatskappy op Kroonstad sowat 152 000 blesbok- en wildebeesvelle uitgevoer. In hierdie tyd het dié stuk Vrystaat as die Riemland bekend geword. Die wild is egter ná jare van jag uitgeroei en toe het die Riemland as belangrike landboustreek ontwikkel. Vir mnr. Danie Slabbert, wat in die hartjie van die Riemland (suidoos van Reitz) boer en herlewingslandboumetodes toepas, is hierdie geskiedenis belangrik.

Slabbert se Drakensbergers vreet sonder ophou nadat hulle na ’n nuwe strook geskuif is. Die mededinging om kos stimuleer hul inname en sorg dat alles wat in die veld is, gevreet word.

Boots die natuur na

“Die Riemland was ’n plek waar migrasies plaasgevind het. Miljoene diere het in die somer hier kom wei, want die veld was in ’n uitstekende toestand en daar was panne vol water. Ons gebied het swak bogrondse water, dus is hier in die winter nie sommer water nie en moes die diere weer wegtrek. Vandag probeer ek die natuur naboots.

“Om weer daardie trop-effek te kry, het ek drie jaar gelede na ultrahoëdrukstrookbeweiding (UHDSB) oorgeskakel. In die tyd van die migrasies is die diere in troppe gehou deur leeus, luiperds en jagluiperds.

“My roofdiere is die elektriese drade wat sorg dat my beeste in ’n trop bly,” het Slabbert aan ’n groep boere verduidelik wat op sy plaas na die beweidingstelsel kom kyk het. Die inligtingsdag op 1 Februarie is deur die Vrystaatse Drakensberger-studiegroep gereël. Die klem het geval op dié beesras in ’n UHDSB-stelsel. Slabbert boer ook met Drakensbergers.

Volgens hom het inheemse diere ’n baie beter trop-instink. “Die beeste vaar baie goed in ultrahoëdrukstrookbeweiding. Ek kan ook in my stelsel sien watter tipe koei die beste vaar. Korter, voller geboude diere met groot rumens vaar beter as rankerige diere. Met verloop van tyd kan jy jou trop só selekteer dat jy net die tipe hou wat binne jou stelsel presteer.”

Omdat Slabbert se beeste basies een keer per jaar vir ’n uur lank op ’n spesifieke plek loop, kry parasiete nie vatplek nie. “Omdat ons so vinnig skuif en die beweide veld dan ’n jaar lank rus, breek dit die parasiete se siklus. Die Drakensbergers is ook beter toegerus om parasiete af te weer. Hul velle wat geskud kan word, en die lang sterte help baie hiermee. Ek gebruik nie dip- of entstowwe nie en ondervind nie pro- bleme met bosluise op die beeste nie.

“Vandat ek so begin boer het, het ons ook ’n ontploffing van miskruiers beleef, omtrent 16 spesies op my plaas. Ek sê nie as jy miskruiers op jou plaas sien, is alles noodwendig in die haak nie, maar iets is definitief baie beter.”

Slabbert se dogter, Sariet, raak amper weg in die plate rooigras wat nou in haar pa se veld te sien is.

Beweiding het ’N hartklop

Slabbert het drie jaar gelede met UHDSB begin nadat mnr. André Lund, ’n oudboer en kundige op die gebied, hom gehelp het om ’n stelsel uit te werk. Hy bewei stroke van 100 m x 10 m en skuif elke uur.

Van Maandae tot Saterdae, van 08:00 af tot 17:00, word die drade tien keer met die hand geskuif. Om 18:00 gaan ’n outomatiese hek oop wat die diere toegang tot hul laaste strook vir die dag gee. Die volgende oggend om 06:00 gaan ’n outomatiese hek weer oop en begin die dag se skuiwe. Nog ’n skuif vind om 07:00 plaas. Op Sondae word net vier skuiwe in groter stroke gedoen.

“Maandagoggende kan ek sommer sien my diere lyk nie lekker nie. Ultrahoëdruk begin sy eie ritme kry. Ek sê altyd dit het ’n hartklop. Deur die week klop daardie hart sterk en dan op Sondae skielik swakker. Dit beïnvloed vir seker die diere. Ons het dus opgemerk daar is ’n groot verskil tussen hoëdruk en ultrahoëdruk. Die uurlikse skuiwe stimuleer die beeste se inname méér. Daarom verloor ons ’n bietjie daardie effek op Sondae. Met groter skuiwe is daar ook meer mis en urine op die veld.”

Waar hy vroeër volgens die plaas se drakrag van 4 ha per grootvee-eenheid met 100 koeie kon boer, boer hy nou met 500 koeie. Daar is steeds te veel kos en hy beoog om sy getal beeste tot 1 000 te vermeerder. Lande met mieliereste en dekgewasse word van Mei tot Oktober ingespan. Die vee op die lande is deel van sy plan om die uitgeputte saaigrond te verbeter. “Die mens het die natuur oor jare heen baie verniel. Ons het ingemeng met die natuur, nou is ons deel daarvan. Ons moet dus help om dit weer reg te stel.”

Hoewel dié klawer bloot as onkruid beskou word, besef Slabbert deesdae dat dit ’n groot rol in sy grondgesondheid speel.

Slabbert hou die toestand van sy grond en veld fyn dop. Die weidingkundige mnr. Frits van Oudtshoorn is een van ’n paar wetenskaplikes wat Slabbert van tyd tot tyd besoek. Op die inligtingsdag het hy boere op ’n veldstap geneem en die verskil uitgewys wat UHDSB in Slabbert se veld gemaak het. In ’n kamp waar Slabbert se beeste die veld verlede Oktober “tot teen die grond afgevreet en vertrap het”, staan die gras nou welig en in die saad.

Van Oudtshoorn is veral beïndruk met die diversiteit van spesies wat oor drie jaar hier gevestig is en hoe vinnig die slangbos verminder het. “Hier was drie jaar gelede geen rooigras nie,” het Van Oudtshoorn vertel. “Nou staan die plate heuphoogte in die saad. Daar is ook oral veldkruie, klawers, veldblomme, vingergrasspesies, paspalm, bul- en mannagras.”

Vir Slabbert is die mannagras ’n wenner. Van Oudtshoorn het selfs op ’n grassoort afgekom wat hy nog nie voorheen in dié gebied gesien het nie, naamlik Festuca longipes. “Daar is nie ’n gewone naam vir dié gras nie. Dit is skaars en kom eintlik net in ’n baie klein gebied in die Oos-Vrystaat en Lesotho voor. Ek reken die klimaat speel ’n groot rol in waar dit voorkom. Dié gras het nie ’n sterk mededingingsvermoë nie. Ultrahoëdrukbeweiding het hier waarskyn- lik sy groei gestimuleer en al die lang grasse skep die regte klimaat.”

Dié seldsame grassoort is nog ’n bewys dat ultrahoëdrukbeweiding diversiteit in die veld verbeter, het Van Oudtshoorn gesê. “Verskeidenheid is baie goed. Ons is geneig om monokulture te wil hê: net een soort gras. Dit is egter teen die natuur. In die natuur is daar diversiteit.”

Van Oudtshoorn sê rooigras se digte stand sorg vir kwantiteit en waar dit voorkom, is dit gewoonlik ’n teken van gesonde veld.

Hy het verder verduidelik dat UHDSB die speelveld gelyk maak vir grasse. “Waar diere met beweiding die keuse gegee word, vreet hulle die lekker grasse eerste. Smaaklike grasse ‘adverteer’ hulself om gevreet te word. Dit beteken hulle word uitgedun, terwyl die onsmaakliker grasse kans kry om te groei.

“Met ultrahoëdruk word alles egter gevreet en vertrap. Wanneer dit gebeur, groei die beter grasse onder die swakkeres uit omdat hulle beter toegerus is. Hulle het breë blare wat beter fotosinteer. Omdat hulle sagter is, weerstaan hulle die vertrapping ook baie beter. Die swakker, harder grasse en plante soos slangbos hou nie van vertrapping nie.”

Die verskeidenheid veldblomme en kruie wat nou in Slabbert se veld te sien is, is ook baie goeie tekens, mits jy ’n bewaringsboer is, het Van Oudtshoorn gesê. “Kruie en blomme in die veld gaan baie boere nie opgewonde maak nie. Vir diegene wat die biodiversiteit van die veld wil bewaar, is dit fantasties om te sien. Daar is peulgewasse wat stikstof in die grond bind en blomme wat insekte lok.

“Hoewel ons nog te min van hierdie plante se voedingswaarde weet, verbreed dit vir seker die voedingstowwe wat diere inneem. Dit kan selfs sekere olies bevat wat ’n rol speel. Wat insekte betref, gaan dit ook oor bewaring. Plase beslaan die grootste gedeelte van natuurlike veld in Suid-Afrika. Dit is ons verantwoordelikheid om daarna om te sien.”

’n Voorbeeld van die outomatiese skuiwe as deel van Slabbert se ultrahoëdrukstrookbeweiding. Die “hek” het ’n alarm wat gestel kan word. Dit lig op die presiese tyd die elektriese draad op sodat die beeste kan deurloop.

Die veld ’n wonderwerk

Die verbetering in sy veld is vir Slabbert verblydend. “Dit het in ’n kort tydjie so baie verander. Ek kan nie wag om te sien hoe dit oor vyf jaar hier gaan lyk nie. “Die Here het die natuur so mooi geskape dat die goeie ouens altyd wen, maar dan moet die speelveld gelyk wees. “Die nuwe grasse wat by my opkom, is my heroes. Ek het nie gedink ons gaan hulle ooit hier sien nie.”

Vir mnr. AB Visser, wat ook in die distrik Reitz boer, is die verandering in Slabbert se veld “ ’n wonderwerk. Ek weet hoe dit in hierdie kamp van die slangbos gelyk het. Op ’n veldstap drie jaar gelede, toe Danie met die ultrahoëdrukstrookbeweiding begin het, het die ouens eintlik daaroor gespot. Kyk hoe lyk dit nou hier. Die goeie grasse groei sommer deur die slangbos wat nog oor is. ’n Mens kan dit amper nie glo nie. Dit wys jou hoe wonderlik die natuur is en dat dit self herstel as jy saamwerk.”

Is hy dus oortuig van UHDSB? “Ek weet nie hoekom ek nie lankal self daarmee begin het nie. Ek is konserwatief en deel van ’n familieboerdery, dus is dit nie maklik om wilde skuiwe te maak nie. Dit is waarom baanbrekers soos Danie nodig is. Hulle wys jou wat gedoen kan word, en help jou om die kopskuif te maak.”

ANDERS DINK MAAK wins

Slabbert weet dit is moeilik om anders te begin dink, maar dit is waar die proses begin.“ ’n Mens se kop is vol van die ou metodes wat ons oor jare geleer is. Dit is moeilik om dit skielik eenkant toe te skuif en iets heeltemal anders te doen. Dit is egter nodig. Die grond is heeltemal uitgeput en ons kan nie op die gewone maniere aangaan nie.

“Ek weet sommige boere is bang hulle gaan minder wins maak wanneer hulle herlewingslandboumetodes begin toepas. My kalfpersentasie is laer met ultrahoëdruk- vergeleke met selektiewe beweiding. Ek kry egter meer kalwers uit ’n laer persentasie met 500 koeie as uit die hoër persentasie met 100 koeie. Belading is die grootste winsdrywer in veeboerdery. Vir my gaan dit nie oor wins per dier nie, maar wins per hektaar.”

Wanneer die kopskuif gemaak is en ’n boer wil met iets soos UHDSB begin, moet sy voorbereiding goed wees, is Slabbert se raad. “Gesels met boere wat dit reeds toepas. Ons is nie skaam om te vertel wat vir ons gewerk het en wat nie. Ons dra graag ons kennis oor.”

Die stelsel moet goed opgestel wees. “Sorg dat jou drade, water en bestuur reg is. As jy sukkel, gaan jy ophou en almal vertel watter nonsens dié kamstige herlewingslandbou is. Dit is mos nie reg nie. Daar is nie ’n kitsoplossing nie. Jy moet dit ’n regverdige kans gee en dit moet deel van jou leefstyl word. Dan sal jy sien, die goeie ouens begin wen op jou plaas.”

Navrae: Mnr. Danie Slabbert, e-pos: danieslabbert7@gmail.com; 082 339 9018.