Ja, mits jy dit reg bestuur deur ’n strategie van ultrahoëdrukbeweiding, sê dr. Peter Ardington, veearts en beesboer van KwaZulu-Natal. 

Hy het op Landbouweekblad en die Riemland-studiegroep se Herlewingslandbou-konferensie op Reitz na verskeie voorbeelde wêreldwyd verwys waar honderdduisende migrerende diere die grasvlaktes van Afrika en Amerika feitlik stomp teen die grond afgevreet het. Tog het die veld in die jaar daarna genoeg herstel om tydens die volgende migrasie-seisoen weer voldoende voeding vir die menigtes te verskaf.

Hy noem as voorbeeld die Serengeti-park in Tanzanië met ’n gemiddelde jaarlikse reënval van 500 mm, maar waar die gras ná die jaarlikse migrasie weer lowergroen van kant tot wal uitspruit.

Hieruit is 'n les te leer, het Ardington gesê.

“Voor die koms van mans met gewere, ploeë, beeste en grensdrade was daar ’n balans tussen die veld, die grond wat dit voed, en die diere wat daarop gewei het. As ons nie daardie balans herstel nie, en nie die verlore bogrond vervang nie, gaan daar groot moeilikheid wees,” het Ardington aan die 500 kongresgangers gesê.

Hy het vertel dit duur sowat 1 000 jaar om tussen 30 mm en 70 mm bogrond te vorm. In daardie tyd het 480 geslagte verbygegaan. Een geslag kan deur goeie bewaringspraktyk slegs sowat 1 mm bogrond byvoeg, het Ardington verduidelik. 

“Dit moet eintlik die regering se vernaamste voorrangsaak wees om grond te bou. Ons benodig ’n ander soort revolusie oor grond: ’n stadige, maar standvastige en verstandige revolusie om oor die volgende 12 000 jaar weer biodiversiteit en lewe te herstel.”

Die enigste manier om dit te doen, het Ardington gesê, is deur herlewingslandbou te beoefen, maar ook deur ultrahoëdrukbeweiding toe te pas as deel van die herstelproses. Hy het groot bewondering vir die ultrahoëdrukbeweidingstelsel wat deur mnr. André Lund in die Karoo vervolmaak is.

Hy het Lund die “Veldheld van die Groot-Karoo” genoem en gesê sy stelsel van ultrahoëdruk-strookbeweiding is die beste nabootsing van die natuur se eie beweidingstelsel wanneer reuse-migrasie plaasvind. Lund se stelsel gebruik skokdrade om weistroke te span sodat die beeste gedwing word om in daardie strook alles voor die voet te vreet en nie selektief te wei nie.

Op dié wyse kry die smaakliker grassoorte behoorlik kans om te herstel, terwyl die minder smaaklike grassoorte ook afgewei word en nie naderhand die veld oorneem omdat hulle nooit afgevreet word nie. Dis noodsaaklik dat die stroke wat bewei word, behoorlike hersteltyd kry sodat die gras die son en die reën voluit kan benut en weer ’n behoorlike wortelselsel en behoorlike bogrondse groei kan ontwikkel. 

“Die Suid-Afrikaanse veld is taai, maar as jy hom lank genoeg op die verkeerde manier bewei, gee dit moed op en die grond begin wegkalwe. Ons moet nou dringend die diere weer terugbring na die veld toe,” het Ardington gesê. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.