Meer as 92% van alle saaiboerderye in dié land pas geenbewerking toe, het dr. Valeria Faggioli, ’n navorser aan die Argentynse nasionale instituut vir landbounavorsing in Buenos Aires, op die herlewingslandboukonferensie op Ottosdal gesê.

Landbouweekblad het die konferensie met die samewerking van Graan SA en die Ottosdal-geenbewerkingsklub aangebied.

Sy het vertel veral in die 1990’s het al hoe meer boere geenbewerking begin toepas toe sojabone met verdraagsaamheid teen Roundup op die mark gekom het. 

Intussen het die staat ook intensiewe navorsing oor alle aspekte van bewaringslandbou in Argentinië begin doen. Só is sy navorsing oor sojabone, wat in 1977 onderneem is, vandag die wêreld se oudste sojaboon-eksperiment, met ’n magdom data wat beskikbaar is.

“Ons het in 1977 reeds gesien ons landbou is in die moeilikheid al was die opbrengste wat ons volgens die konvensionele metodes gekry het, steeds baie goed. Maar erosie en water wat van die lande afloop, het ’n sleutelprobleem geword. Ons het besef ons moet die grond teen erosie beskerm.”

Dit het gelei tot die eerste konferensie oor geenbewerking wat in September 1977 in die stad Marcos Juarez gehou is. Daarna is begin met navorsing oor dié stelsel.

Aanvanklik het die nasionale navorsing getoon dat daar nie noemenswaardig hoër opbrengste behaal is as met die konvensionele metodes nie, maar met verloop van tyd het navorsers gesien hoe ’n groot probleem opeenvolgende sojaboonoeste sonder wisselbou geskep het.

“Ons het begin sien ons het probleme met grondgehalte wat drasties agteruitgegaan het, selfs al het ons geenbewerking toegepas.”

Maar teen 2014, sowat 40 jaar nadat vir die eerste keer data oor geenbewerking ingesamel is, het navorsers vir die eerste keer ’n toename in koolstof in die grond gesien. “Dit was die gevolg nadat ons begin dekgewasse plant het saam met die geenbewerking.”

Faggioli het gesê geenbewerking het aanvanklik veld gewen onder gewone boere omdat dit soveel ekonomiese sin gemaak het. Maar die les wat boere toe moes leer, is dat ekonomiese dryfvere alleen nie volhoubare boerdery verseker nie.

“Ons moes die geenbewerkingstelsel herbedink. Winterdekgewasse was een manier om koolstof in die grond te kry en mettertyd het die gemiddelde koolstofvlakke aansienlik gestyg.”

Die navorsing in Argentinië het ook gewys dat dekgewasse wat toepaslik bestuur word, geen nadelige uitwerking op die opbrengs van die opeenvolgende kontantgewasse gehad het nie.

Faggioli beklemtoon daar is geen universele resep nie en dat elke streek die stelsel van geenbewerking en dekgewasse aanpas soos dit in daardie gebied die beste werk. 

“Maar ek het geen twyfel daaroor dat dekgewasse in die nabye toekoms deur hoofstroomboerdery as ’n standaardpraktyk beoefen sal word nie. Ekonomiese en omgewingsoorwegings maak dit noodsaaklik.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.