Dit was die mening van mnr. Ian Mitchell-Innes, ’n boer van die distrik Ladysmith in KwaZulu-Natal, op die Oppenheimer-De Beers-navorsingskonferensie wat in Johannesburg gehou is.

Mitchell-Innes het ’n voorlegging gelewer waarin hy gesê het energie is die ontwykende deel van die vergelyking tot volhoubare diereprestasie. “Grond is eenvoudig gesproke ’n sonpaneel wat energie vasvang. Ons het egter in die verlede hierdie sonpaneel verwoes deur die koolsuurgas in die grond toe te laat om in die lug op te gaan. Verkeerde praktyke het grond se vermoë om koolsuurgas vas te vang ook drasties verminder,” het Mitchell-Innes gesê.

Hy sê mense is baie goed daarmee om liniêre probleme op te los. “Ons kan mense op die maan sit, ons kan meganiese foute herstel en dies meer, maar sodra ons ’n probleem oor verskeie vlakke heen kry, soos klimaatsverandering, word dit moeiliker om die kwessie op te los. Om grond beter te bestuur, moet ons dus die hele kwessie verstaan,” het Mitchell-Innes gesê.

Die oplossing is om nader aan die natuur te werk en sodoende ’n beter kans te hê om suksesvol te wees.

Bo blink, onder blink.

“Alles wat bo-op die grond groei, is ’n regstreekse weerspieëling van wat onder die grond aangaan. In hierdie stadium kan plante nie dieselfde hoeveelheid energie uit die grond onttrek as wat hulle voorheen in staat was om te doen nie. Ons moet dus die omgewing letterlik op grondvlak begin verander. Wanneer ons daarna meer energie in die grond vasvang en dit in ons produksiediere plaas, verkry ons beter diereproduksie en dus maak jou boerdery meer geld,” het Mitchell-Innes gesê.

Een van die maniere om dit reg te kry is deur die veelading op beskikbare grond te verhoog. “Deur meer diere op die veld te plaas, word meer bakterieë in die grond gesit, wat op hul beurt meer stikstof uit die lug neem en in die grond terugplaas. Só groei daar meer gras wat meer koolstof opneem en grondgesondheid verbeter. Ons kan ook die swam-tot-bakterie-verhouding manipuleer om energie ten beste vas te vang.”

Mitchell-Innes het gesê wanneer ’n gram koolstof verbrand word, word 9 000 kalorieë per gram vrygstel. “Waterstof lewer sowat 25 000 kalorieë per gram en suurstof sowat 3 125 kalorieë per gram. Elke keer dat grond omgedolwe word, word die koolstof aan die lug blootgestel en energie word in die lug vrygestel. Deur eerder jou vee te gebruik, word hierdie koolstof in die grond vasgevang en word kweekhuisgasse beperk.

Vir Mitchell-Innes gaan dit alles oor tydsberekening. “Wanneer vee vir ’n bepaalde tydperk in ’n gebied beweeg, vreet hulle al die beskikbare plantmateriaal en dus energie. Dit is egter ook belangrik om plante op die regte tyd te laai bewei, wanneer hulle in ’n vegetatiewe stadium is en die meeste energie in die blare en sade is. “Ons kan die verkeerde bewerkingspraktyke van die verlede regstel, ongeag van die skade wat aangerig is, deur die oordeelkundige gebruik van herkouers. Alles begin en eindig met bestuur,” het Mitchell-Innes gesê. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.