Die syfers vertel die storie. Die gemiddelde mielie-opbrengs op Ottosdal se geenbewerkingsklub se proefperseel was 4,89 t/ha, vergeleke met Noordwes se gemiddelde van 3,79 t/ha in die ooreenstemmende tydperk.

Volgens dr. André Nel, akkerboukundige van Potchefstroom wat die proefresultate ontleed, is dié opbrengsverhoging van 29% ’n duidelike aanduiding van hoe doeltreffend bewaringsbewerking reënwater onderskep.

“Ons benut die neerslag doeltreffender as toe ons bewerk het.” Nel het soortgelyke bogemiddelde opbrengste behaal in ander proewe wat hy in Noordwes gedoen het. “Suid van Ventersdorp het ek ’n proef gehad wat ook oor ’n paar jaar geloop het. Die opbrengsverhoging net danksy geenbewerking en bedekking op die grond was 40% teenoor die bewerkte grond.”

Die Ottosdal-proewe se gemiddelde mielie-opbrengs van 4,89 t/ha vergelyk ook goed met die Vrystaatse gemiddelde van 4,46 t/ha. Nel wys daarop dat die Vrystaat oor besonder goeie saaigrond beskik, met sowat 1,5 miljoen ha watertafelgrond wat baie goeie mielie-oeste oplewer. “Ons proewe se vergelykbare resultate dui daarop dat ons iets reg doen hier.”

Vanjaar is die proef in die eerste week van Desember geplant, toe daar heelwat reën geval het. Later in die seisoen het dit ook gehael. Dit het breëblaargewasse, soos die sojabone (voor), se groei vertraag. Agter die sojabone groei voersorghum, waar ’n mens die uitwerking van wisselbou kan sien (ligter en donkerder dele).

MIELIES MAAK BESTE VAN REËN

Nel en sy span meet die verskillende gewasse se gebruiksdoeltreffendheid van reënval (RGD) op die betrokke proefperseel. Hulle beskou dit as ’n belangrike maatstaf in die beoordeling en vergelyking van gewasstelsels. Dit word gemeet in kg/ha geproduseer per mm neerslag vanaf 1 Oktober tot 30 April.

Die RGD word grootliks deur die hoeveelheid en verspreiding van die reënval bepaal, maar word ook deur bewaringslandbou beïnvloed. Hy wys op veral mielies se taamlik goeie vermoë om in ’n bewaringslandboustelsel met bewaringsbewerking reënwater te onderskep en in die grond te laat indring.

“In die meeste metings was dit 10 kg/ha/mm of meer, terwyl die waterverbruiksdoeltreffendheid (WVD) van gewasse in bewerkte grond in Noordwes gewoonlik onder hierdie vlak is.”

REËN KOM LATER

Een van die kenmerke van die afgelope vyf produksiejare se reënvalpatroon was dat daar nie noemenswaardige reën in Oktober geval het nie, en baie min in November. In Desember was daar een seisoen wat bogemiddelde reënval gekry het. “As ons na die totale reënval vir die seisoen kyk, was daar een seisoen wat bogemiddeld was, naamlik 2016-’17, terwyl 2018-’19 se reënval gemiddeld was. Laasgenoemde tel egter nie eintlik nie, want byna ál die reën het in April gekom.” (Sien die grafiek.)

Dit beteken dat gewasse dikwels eers in Desember of selfs later aangeplant word. In die 2019-’20-seisoen kon die proef in die eerste week van Desember geplant word. Nel sê dit het daardie week erg gereën. “ ’n Klomp van die materiaal wat op ons proefperseel was, het ongelukkig afgespoel. Die sonneblomreste, wat baie maklik afspoel, is weggevoer. Dis ongelukkig maar van die faktore wat die resultate kan beïnvloed.”

Daar het ook heelwat hael vroeg in die seisoen geval. Skade is aangerig, veral aan breëblaargewasse. “Sojabone is baie kwesbaar, veral as dit jonk is en as die groeipunt skade gekry het.”

Nel sê klimatoloë voorspel klimaatsverandering gaan in die toekoms ál meer wisselvalligheid in reënval bring, wat baie groter wisselvalligheid in die jaarlikse gemiddelde opbrengs gaan beteken.

“Die wisselvalligheid is reeds baie groot, wat kommerwekkend is. Dit is een van die dinge wat ons moet probeer versag en teenwerk. Bewaringslandbou het reeds getoon dat dit die impak van ’n Januarie- of Februarie-droogte op die opbrengs van mielies kan versag. Bewaringslandbou is dus in staat om die produksierisiko te beperk, ’n aspek wat in die toekoms waarskynlik al hoe belangriker gaan word,” sê Nel.

SÓ LYK OPBRENGSTE

Opbrengste wat in die wisselbouproef behaal is, word in die tabel getoon. In die vyf produksiejare van die proef het mielies ná sonneblomme en mielies ná mielies taamlik goed presteer. “Hierdie resultate is in teenstelling met wat ’n mens vroeër by konvensionele bewerking bevind het. In bewerkte grond het kundiges altyd gesê mielies ná sonneblomme kan maklik droogteskade opdoen.”

Nel sê die plantdatum kan ook ’n verskil maak. “Sonneblomme word dikwels laat geplant, gewoonlik hier in Januarie. Dan kan dit die daaropvolgende mielie-opbrengs benadeel. In die huidige proef is die sonneblomme gewoonlik saam met die mielies geplant – in die meeste gevalle darem in Desember.”

Graansorghum het goed ná mielies en akkerbone presteer. Sojabone het weer goed ná akkerbone, mielies en sojabone presteer. Graan- en voersorghum het in die meeste jare ’n onderdrukkende invloed op ander gewasse gehad. Soos mielies het sonneblomme die beste gevaar in monokultuur of ná mielies. Dit is teen die verwagting in, sê Nel. “Die plantpatoloë sal sê dis moeilikheid soek, ons gaan siektes kry. Maar hier het ons dit nog nie gekry nie.”

DEKLAAG

Die bedekking van die grond deur oesreste is ’n verdere beginsel van bewaringslandbou wat gehandhaaf moet word, sê Nel. “Dit beskerm die grond teen erosie, demp temperatuuruiterstes en verdamping, en bevorder die indringing van water. Hoe meer bedekking daar is, hoe groter is die invloed daarvan op hierdie aspekte.”

Hy stem nie saam met die siening dat ’n betekenisvolle bedekking nie in ’n marginale somerreënstreek met lae reënval en ’n betreklik lae opbrengs behaal kan word nie omdat genoeg plantmateriaal kwansuis nie geproduseer word nie. “Die hoë waardes wat behaal is, toon dat dié siening nie korrek is nie.”

Die persentasie grondbedekking wat op elke miniperseel deur die vorige gewas agtergelaat is, word direk ná planttyd gemeet. ’n Lyn met eweredig gespasieerde merkers (byvoorbeeld knope in die lyn) word dwars oor die land op die grond geplaas. Merkers wat oor kaal grond en oor plantmateriaal is, word afsonderlik getel. Die bedekking word dan bereken as die aantal merkers wat oor plantmateriaal is, gedeel deur die totale aantal merkers. Dit word as persentasie uitgedruk.

Die bedekking wat deur ’n gewas gelaat word, wissel baie van jaar tot jaar. Die gemiddelde bedekking (onbewei) ná akkerbone was 69%, ná graansorghum 69%, ná mielies 80%, ná sojabone 44%, ná sonneblomme 53% en ná voersorghum 83%. Al die gewasse is in 52 cm-rye geplant, wat belangrik is om hoë bedekkingswaardes te behaal.

Sonneblomme wat ná mielies geplant is of in monokultuur-persele is, het teen die verwagting in goed presteer.

Hoe werk die proef?

Op die geenbewerkingsklub se proefperseel word wisselbou met ses gewasse – akkerbone, graansorghum, mielies, sojabone, sonneblomme en voersorghum – getoets.

Hierdie gewasse word in stroke van 18,7 m breed langs mekaar geplant. Die volgende jaar word die stroke dwars oor dié van die vorige jaar geplant. Dit skep ses persele waar ’n spesifieke gewas dan voorafgegaan is deur elkeen van die ander vyf gewasse, asook ’n monokultuur-perseel. Alles word met geenbewerkingsplanters geplant in rye wat 52 cm uit mekaar is.

“Vanjaar is die sewende jaar van die proef. Daar is reeds vyf jaar se resultate versamel. As ons nou oes, sal dit jaar ses wees. Hoekom is daar sewe jaar se verbouing, maar net ses oeste? Onthou, die eerste jaar plant jy net om die wisselbou-effek te skep. Jy verloor dus altyd ’n jaar. Dis wat proewe soos dié so duur maak,” sê dr. André Nel.