Daar word na grond verwys as die oppervlak van die planeet Aarde se lewende (biologies aktiewe) “vel” en ’n lewegewende natuurlike hulpbron. As sulks is dit heel waarskynlik ’n land se grootste bate. Namate die wêreldbevolking toeneem en voedselproduksie moet verhoog, is grondgesondheid en -produktiwiteit deurslaggewend.

Grondgesondheid is die vermoë van die grond om as ’n lewende ekologiese stelsel te werk. Dit kom eerstens daarop neer dat plant en dier onderhou word deur die beskikbaarheid van onderskeidelik voedingstowwe en voedsel te verseker en in te stand hou. Tweedens dien grond as die grootste natuurlike filter op aarde.

Deur fisieke en chemiese prosesse filtreer dit onsuiwerhede uit water. Derdens dien grond as ’n buffer wat voedingstof- en pH-verandering by wyse van absorpsie en selektiewe vrylating verhoed. Vierdens verbeter gesonde grond grondoppervlakintegriteit en fisieke stabiliteit en bied dit ondersteuning vir menslike strukture.

Grondgesondheid en biodiversiteit is belangrik vir die volhoubare verhoging van opbrengste. Laastens bied dit ’n habitat vir biodiversiteit. Die begrippe “grondgehalte” en “grondgesondheid” word meestal uitruilbaar gebruik. Grondgehalte verwys gewoonlik na funksionele eienskappe, soos tekstuur en diepte, wat plant-en dierproduktiwiteit beïnvloed. Grondgesondheid verwys weer eerder na dinamiese eienskappe, soos die organiese materiaalinhoud, grootmaatdigtheid en totale stabiliteit.

Dit kom daarop neer dat grond die volgehoue vermoë moet hê om as ’n lewenskragtige ekostelsel te funksioneer. Gesonde grond is meer veerkragtig (geneig om te herstel) en weerstandig teen afbrekingsprosesse. Grondgesondheid het dus te doen met ’n lewende ekostelsel, terwyl grondgehalte meer te doen het met risiko-aanduiders.

In enige gewasverbouingstelsel is dit belangrik dat die prosesse verstaan word wat lei tot die volopheid en diversiteit van die organismes wat ’n impak op plantgesondheid en uiteindelik oesopbrengste het. Daarom moet daar onder meer verstaan word hoe die betrokke omgewing die dinamika van byvoorbeeld insekbevolkings bo en onder die grond, asook hul interaksies met die onmiddellike omgewing, natuurlike vyande en beheermiddels, beïnvloed.

’n Groot ekologiese dryfveer is die verskil in fundamentele planteienskappe tussen spesies wat vrugbare stelsels met ’n hoë herbivoorbelading (A) oorheers en onvrugbare habitatte met stelsels met ’n lae herbivoorbelading (B). Planteienskappe bepaal die gehalte en hoeveelheid bronne wat die grond binnegaan en die belangrikste ekologiese prosesse in die ontbindingsubstelsel, wat deur die grondlewe gedryf word. Die skakel tussen die bo- en ondergrondse stelsels voer terug na plante (die stippellyn) — gunstig in die geval van A en ongunstig in die geval van B.

Laer insetkoste, meer wins

Biodiversiteit is uiteindelik die sleutel tot die sukses van enige landboustelsel. ’n Gewasstelsel wat arm is aan biodiversiteit, beperk die potensiaal van die stelsel wat opbrengs en weerstand teen siektes en plae betref. ’n Baie sterk drywer van grondgesondheid is ’n verskeidenheid ten volle funksionerende voedselwebbe.

(’n Voedselweb is ’n opeenvolging van organismes wat verband hou met mekaar deur interaksies tussen roofdier en prooi en tussen verbruiker en hulpbron, soos op die skets hiernaas.)

Sulke webbe bied optimale voeding-, energie- en watersiklusvoordele wat toelaat dat grond sy volle potensiaal bereik. Byvoorbeeld, wisselbou en dekgewasverbouingspraktyke bevoordeel die grondbiodiversiteit en gepaardgaande voedselwebbe. Dit alles verhoog grondgesondheidsindekse en grondfunksionering, wat uiteindelik insetkoste verlaag en winsgewendheid verhoog.

Grondbiodiversiteit is noodsaaklik vir grond-ekostelselfunksies en -dienste, soos voedingstofsirkulering en bogrondse plantdinamika, wat dus lei tot gesonde grond en voedselsekerheid. Ten spyte van die beduidende bydrae wat grondfauna tot die interaksie tussen die bogrond en ondergrond, diversiteit en ekostelselfunksionering lewer, is daar veral in Suid-Afrika ’n baie swak begrip van die grondfauna.

Dit is verbasend, aangesien die belangrikheid van grond selfs in die bio-ekonomiese strategie van die Departement van Wetenskap en Tegnologie (2013) in afdeling 4.3.10 duidelik uiteengesit word. Dit lui: “Soil conservation is critical to the sustainability of agriculture. Investment is required to ensure that soil conservation and optimal practices are researched and implemented by commercial and emerging farmers.”

Volledige ontledings nodig

In Suid-Afrika word ’n groot deel van die grondoppervlak en bewerkbare grond in ’n mate versteur en verwaarloos. Daarby verloor die land jaarliks ongeveer 300-400 miljoen ton grond aan erosie, wat ’n groot bedreiging vir die volhoubaarheid van landboupraktyke inhou. Tans plaas die impak van klimaatsverandering, landskapomvorming, biologiese indringing en besoedeling toenemende druk op Suid-Afrikaanse gronde en dus op voedselvoorsiening en -sekerheid aan ’n groeiende menslike bevolking.

’n Drastiese toename in fundamentele kundigheid oor grondbiodiversiteit is ’n noodsaaklike eerste stap om die interaksie tussen abiotiese, biotiese en maatskaplik-ekonomiese faktore en hul spesifieke en gesamentlike invloed op grondgesondheid te verstaan. Uit ’n biodiversiteitsoogpunt is Suid-Afrika belangrik vir baie grondlewende groepe.

Ten spyte van die baanbrekerswerk van RT Lawrence so lank terug soos 1953, is die kennis van Suid-Afrikaanse grondfauna steeds grootliks beperk tot sekere bekende taksonomiese groepe, soos miere, termiete, sommige mytgroepe, erdwurms, aalwurms en miskruiers. Dit behoort dringend aandag te kry, aangesien die begrip van die funksionering van ’n ekostelsel breedvoerige kennis van alle betrokke spesies vereis om ’n volledige ontleding te kan doen.

’n Groep navorsers wat deel is van die Soil Ecosystem Research Group (SERG) het bereken dat daar meer as 24 000 grondlewende spesies in Suid-Afrika voorkom. Dit wissel van mikro-organismes, soos swamme, tot makrofauna, soos molle (lees meer hieroor by https://goo.gl/sMoL6v). Hulle het ook gevind dat die meeste daarvan endemies in Suid-Afrika is. Dit is veral die geval by erdwurms, miere, aalwurms en miskruiers.

Die meeste groepe is egter steeds heeltemal of gedeeltelik onbekend, meestal omdat hulle so klein en moeilik bekombaar is, maar ook omdat finansiering vir benamingswerk onvoldoende of afwesig is. Daar heers wye onkunde oor grondlewende organismes by mense, daarom verstaan hulle nie hoe belangrik hulle is nie. Wie het immers al van ’n proturan of selfs ’n springstert gehoor?

Die SERG wil dié onkunde verander deur die belangrikheid van grondbiodiversiteit by wyse van meer geïntegreerde navorsing te bevorder. Daardeur sal hierdie organismes se rol in ’n groter ekostelselkonteks, spesifiek landbou-ekostelsels, beter verstaan word.

Voordele vir die landbou

Ekostelseldienste is die voordele wat die samelewing van ekostelsels verkry. Die landbou en die verskillende grondsoorte in landbou-omgewings verskaf ook verskeie noodsaaklike ekostelseldienste. Die suksesvolle bestuur daarvan is onderhewig aan die erkenning van die verhouding tussen die prosesse en die strukture wat ’n gesonde stelsel onderhou.

Hoewel die wetenskap voortdurend nuwe omgewingsvriendelike landboupraktyke en -tegnieke oplewer, sal die volhoubare ontwikkeling van ’n stelsel uiteindelik afhang van die boer se vermoë om hierdie vooruitgang te verstaan en te benut.

Dr. Charlene Janion-Scheepers is ’n ekoloog en fisioloog wat in springsterte spesialiseer en is verbonde aan die Iziko Suid-Afrikaanse Museum. Prof. Schalk Louw is ’n insek-ekoloog verbonde aan die departement dierkunde en entomologie, Universiteit van die Vrystaat.

In ’n volgende artikel word bespreek hoe om grondgesondheid en biodiversiteit te meet en te verbeter.

Voorbeelde van organismes wat onder jou voete in die grond voorkom. ’n Teken van grondgesondheid is die teenwoordigheid van ’n uiteenlopende verskeidenheid organismes. As die balans versteur word, word belangrike ekostelselskakels gebreek. 1 Swamme (Aspergillus clavatus). FOTO: M. TRUTER 2 Aalwurms. FOTO: M. MARAIS 3 Protosoë. FOTO: VERSKAF 4 Potwurms (Enchytraeidae). FOTO: VERSKAF 5 Traaglopers (Tardigrada). FOTO: R. GOLDSTEIN & V. MADDEN 6 Grondmyt (Tectocepheus velatus). FOTO: L. COETZEE 7 Microcoryphia. FOTO: B. MARLIN 8 Diplura. FOTO: A. MURRAY 9 Protura. FOTO: A. MURRAY 10 Springstert (Isotomurus maculatus). FOTO: CHARLENE JANION-SCHEEPERS 11 Erdwurm. FOTO: S. SHEPHERD 12 Amfipode (Talitroides topitotumbest). FOTO: C. GRIFFITHS 13 Slak (Achatina immaculata). FOTO: D. HEBERT 14 Naakslak (Chlamydephorus sexangulus). FOTO: D. HEBERT 15 Isopode (Porcellio scaber). FOTO: C. GRIFFITHS 16 Duisendpoot (Centrobolus sp.). FOTO: M. HAMER 17 Spinnekop (Galeosoma planiscutatum). FOTO: P. WEBB 18 Skerpioen (Opisthacanthus sp.). FOTO: J. MEASEY 19 Hooiwaens. FOTO: LEON LOTZ 20 Valsskerpioen. FOTO: LOUIS DEHARVENG 21 Miskruier (Scarabaeus cupreus). FOTO: SCARAB RESEARCH GROUP, UP 22 Termiet (Hodotermes mossambicus). FOTO: J. MITCHELL 23 Mie