Die Parysooreenkoms oor klimaatsverandering beveel aan dat aardverwarming tot minder as 2 °C bo voor-industriële vlakke beperk moet word as die wêreld hoop om die ergste uitwerking van klimaatsverandering vry te spring.

Volgens die tussenregeringspaneel oor klimaatsverandering (IPCC) sal pogings om aardverwarming te beperk, behels dat koolsuurgas uit die atmosfeer verwyder word, skryf me. Renée Cho in ’n blog op die Universiteit van Columbia se Earth Institute.

Al die grond op aarde bevat sowat 2,5 biljoen ton koolstof. Dit is meer as drie maal die hoeveelheid koolstof in die atmosfeer en vier maal die hoeveelheid wat in lewende plante en diere geberg word.

Cho skryf grond verwyder sowat ’n kwart van die gasse wat fossielbrandstof jaarliks vrystel. “Die meeste grondkoolstof word ysgrond en veen in die poolgebiede en klam streke soos die noorde van Europa, Asië en Amerika. Grond in warm of droë gebiede berg minder koolstof.”

Die vasvang van koolstof in die grond is ’n betreklik natuurlike manier om koolsuurgas uit die atmosfeer te verwyder. Dit het ook ’n kleiner impak op grond en water, benodig minder energie en is goedkoper. Boonop kan grond se vermoë om koolstof op te berg, verhoog word deur dit beter te bestuur.

Grond stoor koolstof deur fotosintese, die proses waardeur plante koolsuurgas uit die atmosfeer opneem en water en sonlig gebruik om die koolstof in blare, stamme, sade en wortels om te sit. Dit kan maklik ’n som met ’n nul-antwoord word as boerderypraktyke wat die grond versteur, soos bewerking, monokultuur, die verwydering van oesreste, oormatige gebruik van kunsmis en plaagbestrydingsmiddels en oorbeweiding die koolstof in die grond aan suurstof blootstel en dit in die atmosfeer vrystel. Die vernietiging van woude, die ontdooing van ysgrond en die dreinering van veen veroorsaak dat grond koolstof vrystel.

Cho skryf volgens navorsing wat in 2017 gedoen is, word daar geraam dat die wêreld se saailande en boorde tot 1,85 miljard ton koolstof per jaar bykomend kan opberg. Dis soveel koolstof as wat die wêreld se vervoerbedryf per jaar vrystel. “Daar is wetenskaplikes wat glo grond kan 20 tot 40 jaar aanhou om koolstof vas te vang voordat dit versadig is.”

Dit kan net reggekry word as die grond nie kaal gelos word ná die oes nie. Boonop kan dekgewasse wat nie geoes word nie, vergoed vir die verlies aan koolstof deur bewerking. Wisselbou en meerjarige gewasse wat diep wortels het, voeg ook meer koolstof by. Wisselweiding help om koolstof in die grond te hou deur kuddes na ander weiding te skuif om die ander toe te laat om te hergroei. Dit help ook dat die koolstof in die diere se mis versprei word.

Nie kitsoplossing

Wetenskaplikes aan die Universiteit van Kalifornië waarsku egter dat die moontlikhede van die grond as koolstofspens nie ’n kitsoplossing vir die gevolge van klimaatsverandering is nie. Hulle het 157 grondmonsters met behulp van radiodatering getoets, en gevind dat die koolstof in die grond baie oud is en dat dit grond “honderde tot duisende jaar” kan neem om groot hoeveelhede koolstof uit die atmosfeer op te neem.

Wetenskaplikes is verdeeld hieroor omdat daar nie genoeg inligting beskikbaar is nie.

Die groot hoeveelheid koolstof in die grond hou nietemin moontlikhede in, reken mnr. Ben Taylor, ’n ekostelselekoloog en doktorale student aan die Universiteit van Columbia. “Omdat die koolstofpoel so groot is, is daar baie potensiaal. Die feit dat ons so min verstaan van wat onder die grond aangaan, beteken aan die een kant dat die poel ons kan help, maar die moontlikheid bestaan ook dat dit ons kan benadeel.

“Daar is ’n groot hoeveelheid koolstof wat in die lug opgestuur kan word in veengrond en ysgrond. Dit kan selfs klimaatsverandering vererger.”

Cho skryf dat die vermindering van fossielbrandstofverbruik en meer energie van hernubare bronne die beste manier is om klimaatsverandering teen te werk. “Wetenskaplikes sal voortgaan om ondersoek in te stel hoe die berging van grondkoolstof ons kan help. Intussen bring grondbestuurspraktyke wat die koolstof in die grond verhoog, ander voordele, soos verhoogde voedselproduksie, biodiversiteit, beter waterhouvermoë en minder erosie en verwoestyning.”

Met meer mikrobes in die grond kan plante dieper wortelstelsels ontwikkel wat hulle in staat stel om droogtes beter te oorleef en minder kwesbaar vir plae te wees. “Hoër koolstofvlakke in die grond verbeter die gehalte van grond en water. Al die voordele kan help om ’n groeiende bevolking te voed en die uitwerking van klimaatsverandering beter te oorleef.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.