Die landbou, wat ’n derde van die aarde se oppervlak bedek, het gelei tot versteurde ekostelsels, grondverarming, verlies van biodiversiteit, uitloging van kunsmis, nitrifikasie van grondwater, versmoring van grondwaterekostelsels, dooie sones aan die kus, vrektes van klein organismes en die opbou van biologiese weerstand teen landbouchemikalieë.

Die moderne landbou en oorbeweiding kry die skuld vir die verwoesting van ’n derde van die planeet se bogrond in die afgelope 40 jaar. Elke jaar word 10 miljoen hektaar gevoeg by die tol wat gronderosie eis, wat 100 keer vinniger is as wat natuurlik voorkom.

Sonder enige verdere verlies van bogrond, word die geprojekteerde situasie vir Suid-Afrika in Tabel 1 getoon.

Terwyl die bevolking groei en verstedeliking toeneem, gebeur die teenoorgestelde met landbougrond.

Luidens die tabel sal die geprojekteerde bewerkbare grond in die volgende 20 jaar afneem omdat landbougrond eerstens gebruik moet word vir stede wat voortdurend uitbrei en tweedens sal ’n toenemende aantal plase opgeoffer moet word vir mynbou om energie en hulpbronne aan die groeiende bevolking te verskaf.

Tans moet elke boerdery-eenheid 1 520 lede van die bevolking onderhou, maar dit kan toeneem tot ’n geprojekteerde 3 472 in 2035. Waar daar tans 1,6 ha bewerkbare grond beskikbaar is om een lid van die bevolking te voed, sal daar 20 jaar van nou net 1,1 ha beskikbaar wees. Wat ons nog besit, is gevolglik uiters waardevol en moet tot elke prys bewaar word.

Tog bestaan daar vrae vanuit ’n oogpunt van bewaringsboerdery: In die lig daarvan dat bewaringsboerdery minder risiko inhou, hoekom bevorder finansiële instellings dit nie? Hoekom sien ons nie meer bewaringsboerderyprodukte op winkelrakke nie? Wat as jy bewaringsboerdery toepas, maar jou buurman doen dit nie?

Wat as jy om die een om een of ander rede jou bewaringsplaas, opgebou oor 20 jaar, moet verkoop en die nuwe eienaar begin bloot weer die lande omploeg? Kan ons die waarde van bewaringsboerdery bepaal sodat dit as ’n finansiële bate erken kan word? Kan ons wetlik die status van bewaarde grond beskerm? Behoort die uiteindelike resultaat van bewaringsboerery op ’n boer se balansstaat?

Waardekettingdeelnemers

In Tabel 2 wys resultate van navorsing deur Von Loeper, Drimie en Blignaut dat geen van die waardekettingdeelnemers, met wie onderhoude gevoer is, produkte gehad het wat bewaringsboerdery ondersteun nie.

Al vier die deelnemende banke was van mening dat goeie boerderypraktyke deur ’n boer outomaties produksievoordele en ’n beter balansstaat sal beteken. Dit sal weer tot ’n laer risikoprofiel vir so ’n boerdery lei en op sy beurt goedkoper krediet met beter rentekoerse meebring.

Op die argument dat hierdie proses moontlik tyd kan verg, was die algemene reaksie dat dit die natuurlike aard van boerdery is. Een bank het sy standpunt bevestig dat ’n verandering in produksiemetode, veral na bewaringsboerdery, waarskynlik tot ’n aanvanklike styging in koste en vermindering in opbrengs sal lei voordat enige opbrengsverhogings waargeneem sal kan word en die voordele op die bankstaat gaan weerspieël.

Nie een van die banke het ’n produk gehad wat ’n boer met ’n laer rentekoers tegemoet sou kom indien hy na bewaringsboerdery oorskakel. Versekeraars se bereidwilligheid om klimaatsrisiko teen ’n premie namens boere te neem, maak hulle noodwendig meer gevoelig vir boerderypraktyke, veral waar nuwe masjinerie en boerderypraktyke die risiko kan verminder.

Toe hulle gevra is of hulle bewus is van navorsing wat bewys dat bewaringsboerdery tot groter bestendigheid lei, het die versekeraars, soos die banke, geantwoord dat hul sakemodel outomaties boere sal bevoordeel wat beter boerderypraktyke toepas. Die deelnemende twee groothandelaars en voedselverwerkers, wat ook silo’s én meulens besit, was in die algemeen verward oor die term bewaringsboerdery aangesien hulle nie seker was hoe dit verband hou met organiese en GM-vrye boerderypraktyke nie.

In teenstelling met banke, wat toegewyde landbou-eenhede met kundige personeel het, koop die handelaars gewoonlik produkte van ander handelaars en landbou-ondernemings sonder dat dit nodig is om boerderypraktyke te verstaan. Al drie deelnemende kleinhandelaars het saamgestem dat daar baie min begrip by verbruikers oor bewaringsboerdery is en dat dit onwaarskynlik is dat dit in die toekoms sal verander.

Biologiese waarde

Die internasionale rekeningkundige standaard (IAS 41) gee rekeningkundige standaarde vir landboubedrywighede. Daarvolgens behels sulke bedrywighede die bestuur van die biologiese transformasie en die oes van biologiese bates vir verkoop of vir omskakeling in landbouprodukte of in bykomende biologiese bates.

Die internasionale waardasiestandaard (IVSC) brei uit en sê biologiese transformasie behels die prosesse van groei, degenerasie, produksie en voortplanting wat kwalitatiewe of kwantitatiewe verandering in ’n biologiese bate meebring.

Die IVSC is ’n onafhanklike organisasie sonder winsoogmerk wat universeel aanvaarbare standaarde vir die waardasie van bates oor die wêreld heen in openbare belang saamstel en toepas. Dit definieer landbougrond as al die regte, belange en voordele wat verband hou met die landbou of bates wat met landboukundige bedrywighede geassosieer word.

Volgens die IVSC verskil die fisieke en ekonomiese kenmerke van landbougrond van dié van gewone eiendom. In stede kan die ekonomiese gebruik van ’n eiendom jare lank onveranderd bly. Dit kan selfs deur kontraktuele ooreenkomste gewaarborg word.

In die geval van die landbou is grond ’n medium wat in wisselende toestande die vermoë moet hê om volhoubaar te kan produseer. In die waardasie van landbougrond is die fisieke eienskappe van die eiendom dus van spesifieke belang.

Die markwaarde vir landbougrond is gevolglik die beraamde bedrag waarvoor dit op die waardasiedatum tussen ’n gewillige koper en ’n gewillige verkoper geruil behoort te word in transaksies sonder bevoorregting. Dit veronderstel die partye tree kundig, omsigtig en sonder dwang op, wat uit ’n deelnemer se oogpunt die hoogste waarde vir die bate sal oplewer.

Kundig, omsigtig en sonder dwang

Om te toets of boere die waarde van grond se organiese materiaal verstaan en hoeveel hulle bereid is om daarvoor te betaal, het mnr. Paul Overby, ’n boer en navorser van Wolford, Noord-Dakota, ’n peiling onder boere in Amerika gedoen. Twee situasies is geskets om vas te stel wat hulle bereid sal wees om te betaal.

Die eerste vraag was: “As jy twee stukke grond evalueer met die oog om te koop, en die grond is presies dieselfde afgesien daarvan dat een organiese materiaal van gemiddeld 3% en die ander organiese materiaal van gemiddeld 5% het, hoeveel sal jy meer betaal vir die een met 5% organiese materiaal?”

Tabel 3 wys dat vir 52,8% van die deelnemers die organiese materiaal, as aanduider van bewaarde grond, geen verband met die prys van die grond het nie. Vir 6,3% van die deelnemers was die bewaarde grond $400 per akker meer werd.

In opvolging van die eerste vraag, het Overby ’n verduideliking verskaf van die voedingstowwe wat vir ’n gewas beskikbaar gestel word vir elke persentasiepunt organiese materiaal, asook die bykomende waterinhoud wat deur elke persentasiepunt organiese materiaal opgegaar word.

Hy het opsetlik nie die dollarwaarde van óf die voedingstowwe wat beskikbaar gestel word óf die bykomende water gegee nie en toe gevra: “Gegrond op bogenoemde inligting, hoeveel meer sal jy betaal om ’n stuk grond te koop met 5% organiese materiaal as ’n stuk grond met 3% organiese materiaal?”

Soos getoon in Tabel 4 was daar ’n betekenisvolle verandering in die reaksie nadat die voordele van organiese materaal verduidelik is.

Die deelnemers wat met die eerste vraag nie omgegee het oor organiese materiaal nie, het van 52,8% tot 30,6% gedaal, terwyl diegene wat bereid was om $400 per akker te betaal, van 6,3% tot 11,1% gestyg het.

Laastens is deelnemers gevra om hul verwagting van betaling te evalueer as hulle self vir die verhoging van die organiese materiaal van hul grond verantwoordelik sou wees. Dit was ’n poging om die waarde te bepaal wat hulle aan organiese materiaal gee, selfs as hulle nie bereid was om iemand anders daarvoor te betaal nie. Die resultate in Tabel 5 stem betekenisvol ooreen met dié in tabel 4.

Overby het tot die volgende gevolgtrekkings gekom:

  • Boere het ’n basiese kennis dat grond met hoër organiese materiaal voorkeur behoort te geniet.
  • Boere verstaan en begryp nie die ekonomiese waarde van organiese materiaal volledig nie.
  • Opvoeding kan belangrik wees om boere te help om kennis in te win oor organiese materiaal en om die ekonomiese voordeel daarvan te verstaan.
  • ’n Waarde kan geheg word aan organiese materiaal en bewaringsboerdery. Wanneer boere dus ingelig is, sal hulle ekonomiese waarde verstaan en daarvolgens optree.
  • Waar daar ’n bekende ekonomiese waarde vir boere is, sal hulle praktyke in werking stel wat organiese materiaal op hul plase sal laat toeneem, wat tot die bewaring van hul grond sal lei.

Beskerming

Vroeër kon die mensdom wegkom met die uitputting van landbougrond deur bloot na nuwe, onbewerkte grond te skuif. Mettertyd het dit duidelik geword dat grond beperk is, maar dit het ook duidelik geword dat grondbewaring nooit bewerkstellig sou kon word deur op die vrywillige pogings van boere staat te maak nie.

In 1946 is die Wet op Grondbewaring (Wet 45) in werking gestel. Dié wet is later as onvoldoende beskou aangesien dit hoofsaaklik gemik was op die herwinning of herstel van grond pleks van die bewaring daarvan. Dit het egter voorgeskryf dat met elke oordrag van landbougrond, die nuwe eienaar in besit van ’n goedgekeurde bewaringsplan vir daardie spesifieke eiendom moet wees.

Die tekortkominge van die wet van 1946 het gelei tot die opstelling van ’n nuwe wet (Wet 76), wat in 1969 aanvaar is. Die belangrikste kenmerk van dié wet was om vrywillige samewerking tussen die regering en boere met die oog op grondbewaring te bewerkstellig.

Dié wet het boere in staat gestel om stappe te doen sonder om vir die regering se toestemming te wag en om ’n aktiewe rol in die uitvoer van gepaste grondbewaringsmaatreëls te speel. Dit het grondbewaring aangespoor deur finansiële bystand (subsidies/toelae) vir sekere aksies aan te bied, maar het ook op strafregtelike sanksie vertrou om die nakoming van voorskrifte te verseker. Die verpligte bewaringsplan wanneer plaaseiendom oorgedra word, is egter weggelaat omdat dit lang vertragings by die aktekantoor veroorsaak het.

In 1983 het die Wet op die Bewaring van Landbouhulpbronne (Wet 43) die wet van 1969 vervang. Die doelwit daarvan was om die benutting van die natuurlike landbouhulpbronne van die republiek te beheer om die bewaring van die grond, waterbronne en plantgegroei te bevorder en om onkruid en indringerplante te beveg.

Om dié doelwitte te bereik, kan die minister maatreëls voorskryf waaraan grondgebruikers moet voldoen. Sulke maatreëls hou onder meer verband met die bewerking van onbewerkte grond. Onbewerkte grond sluit in grond wat gedurende die vorige tien jaar op geen tydstip bewerk is nie, met inbegrip van gevestigde meerjarige voergewasse, soos Eragrostis. Dit is ’n sterk argument vir geenbewerkingspraktyke sodat grond wat “op geen tyd gedurende die vorige tien jaar bewerk is nie” die status van onbewerkte grond kan geniet.

Erkenning

Grondbewaring word deur die wet erken en beskerm. Bewaarde grond kan geklassifiseer word as ’n biologiese bate binne die raamwerk van internasionale rekeningkundige standaarde. Dit kan gewaardeer word volgens die finansiële voordele wat dit skep ten opsigte van organiese materiaal. Dit het ’n markwaarde as die gewillige koper en gewillige verkoper kundig, omsigtig en sonder dwang optree en kan maklik gespesifiseer word binne die raamwerk van die rekeningkundige beroep.

Die landbou se “kredietgeriewe” in die natuur is beperk en haas uitgeput. Gevolglik moet ons ons natuurlike oortrokke rekening dienooreenkomstig beperk en enige bewaringsboer se bewaringsresultate as ’n bate op sy balansstaat erken. 

Op geen tydstip in die geskiedenis het boerderypraktyke só ’n groot impak op die omgewing gehad as in die laaste 100 jaar nie

Die landbou beset wêreldwyd 13 keer meer grond as in enige ander era in die mensdom se bestaan. Die landbou is stellig die grootste bydraer tot biodiversiteitsverlies. Wêreldwyd word 70% van alle vars water vir die landbou gebruik, met geen surplus vir toekomstige ontwikkeling nie.

Die landbou stel tot 25% van koolsuurgas wêreldwyd vry. Amerika, as voorbeeld, gebruik 17% van al sy energie om voedsel deur die waardekettings te kry. Dit is tot 1 500% meer energie as wat die voedsel self bevat. Die landbou gebruik jaarliks 2,5 miljoen ton plaagdoders, maar verloor nogtans 40% van oesgewasse weens plae, siektes en onkruid.

Dr. Philip Theunissen is ’n forensiese rekenmeester en landbou-ekonoom van Bethlehem.

Bronne:

Uitgawe 1: A roadmap to valuing agricultural properties (including biological assets). IVSC Perspectives Paper. Tangible Assets / Business Valuation. Junie 2019.

Paul Overby. Can an Increased Understanding of the Value of Soil Organic Matter by Farmers Encourage the Sustainability Contribution of US Farmland? A Critical Analysis. Wolford, ND, University of Wisconsin Sustainable Management Master’s Degree Program.

MA Rabie. South African soil conservation legislation. Comparative and International Law Journal of Southern Africa, Volume 07, Uitgawe 3, Nov. 1974.

Wolfgang Johann von Loeper, Scott Drimie en James Blignaut. Value Chain-Induced Constraints Limiting Scale of Conservation Agriculture in South Africa, 2019.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.