Met dekgewasse kon hy grondbalans terugbring, gifstowwe uitskakel en ’n kerngesonde wins verdien. Die Oos-Vrystaatse winde wat ongenaakbaar stof kan opskop, het sy oë oopgemaak. “Om te sien hoe ons landerye wegwaai, is skokkend.”

Daarom het Du Preez in 1992 met bewaringsboerdery begin in ’n tyd toe ander boere hom “die mal ou” genoem het. “ ’n Hele paar dinge het my laat wakker skrik. Buiten winderosie was die verspoeling op landerye, ondanks kontoerwalle, baie erg. Toe die aanbevelings oor gifstowwe vir stamruspe en Russiese koringluis in twee seisoene verdubbel, het ek ook geweet ons kan nie net aangaan soos ons aangaan nie.”

Hy het in dié tyd baie by die landboukundige John Fair geleer. “Baie omstrede omdat hy in daardie tyd vir boere gesê het hulle is besig om hul grond te verniel.” Die eerste ding wat Du Preez begin doen het, was om meerjarige weiding te vestig. “Ons het smutsvinger en lusern langs mekaar geplant sodat ons vir lang tye nie weer hoef te bewerk nie. Dit het gif en probleme met erosie dadelik uitgeskakel. Dit was dus ’n vinnige oplossing vir die ding wat my die meeste gepla het.”

Hy het toe verder met ander dekgewasse geëksperimenteer. Hy het ’n eenjarige mengsel van gras en klawer onder besproeiing geplant en ’n hawer-en-serradella-mengsel op droëland. Die verandering in die grond was gou duidelik – hoofsaaklik minder erosie, verdigting en versuring. Die grond het lewendiger gelyk en was sagter.

Hy het later sy melkery gestaak en oorgeskakel na kalwers wat hy op die weidings kon grootmaak en afrond. Die feit dat die westewinde nie meer die rooi stof uit sy lande waai nie en dat hy selfs in die lente (maermaak- en doodmaakmaande) genoeg reserwes het, maak Du Preez bly. “Ek voel tevrede met dit wat ons al kon regkry, maar ek dink ons kan nog beter doen. Eerstens moet boere besef dat dit belangrik is om koolstof en mikrobes terug te sit in hul grond. En dan moet hulle natuurlik oortuig word dat dit winsgewend is om so te boer.

“Ouens soos Danie Slabbert van Reitz, Izak Dreyer van Vrede en Cobus van Coller van Viljoenskroon bewys dat jy groter oeste kan afhaal en meer wins maak met bewaringsboerdery.”

Hoewel hy nie graan oes nie, het hy uitgewerk hoeveel wins hy op sy lande maak as hy kalwers daarop laat wei. Gegrond op die stoorkalfprys van 2018 was sy inkomste R11 825/ha. Nadat koste afgetrek is, was sy wins R7 954/ha.

“Dit klop menige gevestigde saaiboer se somme. In ’n gemiddelde seisoen kan saaiboere hier ’n wins van R6 000/ha maak as hulle ook oesreste deur vee laat benut.”