Om sy plaaswerkers te bemagtig, het McIntosh onlangs 85% van sy eierbesigheid aan van sy werkers verkoop. Van hulle is 51% vroue. Die ooreenkoms het dadelik van hulle aandeelhouers en sakebestuurders gemaak. Deur Checkers se betrokkenheid kan die eierbesigheid se model nou landwyd uitgebrei word.

Die onderskeie partye sê in ’n gesamentlike verklaring dat Farmer Angus-eiers al by twee Checkers-supermarkte in die Wes-Kaap (Constantia Emporium en Checkers in Millstraat, Stellenbosch) te koop is. Dit is ideaal vir verbruikers wat voedsame eiers sonder geneties gemodifiseerde organismes of glifosaat van vrylopende henne wil koop.

Die mobiele eierhuisies waarin die eiers aangebied word, word ook na ander takke in die Wes-Kaap en dan na die res van Suid-Afrika uitgebrei.

McIntosh se onderneming met sy ander aandeelhouers is dat hy uit die winste van die onderneming betaal sal word. Hy moet dus saam met sy mededirekteure, mnre. Thobelani Mngomezulu, Mawethu Xamle, Mbhekiseni Khoza, Thabani Lamula, Menzi Khoza, en aandeelhouers mee. Phello Ntlati, Neliswa Mbengana en Zanele Hlabisa, sorg dat daar wins is om self vergoed te word vir die verkoop van die onderneming.

Volgens die huidige winste lyk dit of die onderneming binne vier jaar afbetaal sal wees.

McIntosh en sy vennote het saam op dieselfde plaas in KwaZulu-Natal grootgeword.

Volgens Mngomezulu word sowat 96% van eiers wat te koop is, gelê deur henne wat in hokke aangehou word. “Ons henne word in mobiele eenhede gehou wat daagliks geskuif word om die grond op die plaas te bemes. Hulle loop bedags vry rond op weiding wat geen chemiese stowwe bevat nie. Hulle word net snags ter wille van hulle eie veiligheid in die mobiele eenhede toegemaak.”

Hy sê ook: “Ons produseer nie net die gesondste eiers nie, maar pas ook herlewingslandbou toe ter wille van grondgesondheid. As iemand met ’n groot liefde vir die natuur, glo ek dat herlewingslandbou noodsaaklik is om die gesondheid van landbougrond te kan herstel.”

McIntosh het in 2009 op Spier begin boer. Hy roteer varke, beeste en hoenders op die weiding vir natuurlike bemesting en om die ekostelsel te versterk deur koolstof in die grond terug te plaas. Hy was een van die eerste boere wat met koolstofkrediete vergoed is.

“Weens die manier waarop daar meestal in Suid-Afrika geboer word, eet mense nie die beste kos wat hulle kan koop nie. Dit is as gevolg van al die plaag- en onkruiddoders wat op gewasse gespuit en waarmee diere gevoer word.”

Hy meen deur Checkers se betrokkenheid kry verbruikers die geleentheid om plaaslike diereproteïene te eet wat nie skadelike bestanddele bevat wat mense se liggaam kan benadeel nie.

Een van die groot voordele van die manier waarop die aandeelhouding gestruktureer is, is dat daar ’n moontlikheid is om staatsfinansiering te bekom wat nodig sal wees om landwyd te kan uitbrei. Volgens McIntosh word die mobiele behuisingseenhede vir die hoenders al hoe gewilder en daar is ál meer kleinskaalse produksie-eenhede in die land.

Die departement van landbou het Farmer Angus genooi om ’n mobiele behuisingseenheid vir hoenders te bou waarin 12 000 eiers per dag geproduseer kan word. Hoewel daar nog oor die finansiering onderhandel word, glo McIntosh daar is reeds groot belangstelling. “Met werkloosheid wat een van ons grootste probleme is, is herlewingslandbou wat arbeidsintensief is, die ideale oplossing.”