Hy het op die Suid-Afrikaanse Nasionale Saadorganisasie (Sansor) se kongres buite Pretoria gesê die oplossings is reeds daar. Talle proewe op verskeie plase het al bewys herlewingslandbou werk – nie net om grond weer vrugbaar te maak en koolstofvlakke in die grond op te bou nie, maar ook om winste te verhoog.

Die verskeie praktyke sluit in geenbewerking, die aanplant van wisselbou- en dekgewasse, tussenrygewasse en vee wat die gewasse onder ultrahoëdrukbeweiding benut. Van die proewe word onder meer al die afgelope vier jaar by Ottosdal gedoen en 17 gewasse is al in 289 proewe getoets.

“Hoe groter die verskeidenheid plante bokant die grond, hoe groter is die verskeidenheid wortels onder die grond wat koolstof vaslê en mikro-organismes voed. Die beginsels wat van toepassing is, is die minimum grondversteuring, plantverskeidenheid en deklae.” Hendrik sê baie mense is nie bewus van die “dieretuin onder ons voete” nie.

“Sowat 95% van die lewe op land is onder ons voete en meestal te klein om raak te sien. Dit sluit alles in van bakterieë, swamme en alge tot insekte en erdwurms. “Daar is meer lewe in ’n teelepel vol grond as wat daar mense op aarde is.” Hendrik sê ’n ander manier om dit te beskryf, is dat daar 15 ton lewende organismes in elke hektaar grond is.

Dit is gelykstaande aan die gewig van 20 koeie of 1,5 kg se organismes in elke vierkante meter grond. Met tradisionele grondbewerking gaan daar 13 ton bogrond per hektaar per jaar verlore. Dit is gelykstaande aan 2 ton grond vir elke ton mielies wat geproduseer word.

Deur ’n kombinasie van al die beste bewaringspraktyke toe te pas, waarborg hy gunstige resultate. Die kombinasie van gewasverskeidenheid, dekgewasse en hoëdrukbeweiding het ’n gunstige invloed op grondgesondheid.

Dit verseker goeie bestuur van onkruid en plae, werk aardverwarming teen, water word doeltreffender benut, koolstof word in die grond teruggeplaas, hoër opbrengste is moontlik en dit het ’n gunstige invloed op bioverskeidenheid.

Waar vee betrek word, sê Hendrik proewe wys daar kan met die verskeidenheid somerdekgewasse per hektaar 13 ton plantmateriaal vir weiding beskikbaar wees, waarvan die vee 3,8 ton/ha vreet, 1,8 ton word vertrap en 9,3 ton bly as ’n deklaag agter ná beweiding.

“As die regte stelsels benut word, word die ekostelsel met sowat 500% verbeter, opbrengste kan met 120% verbeter, terwyl 20% minder produksiemiddele nodig is, risiko’s word met 10% verminder en doeltreffendheid met 300% verbeter,” sê hy.