Oorsig
In die jaar waarin die veerkragtigheid van die landbou en boere tot die uiterste beproef is, het Landbouweekblad se joernaliste en rubriekskrywers gewys hoe boere steeds die grense verskuif om oplossings vir energie, winsgewendheid en gladder bestuur te vind.

In die 1800’s was hierdie deel van Suid- Afrika in die somer propvol troppe wild wat agter die heerlike grasvelde en panne met water aangetrek het. Slabbert probeer dié ou natuurverskynsel met sy beweidingstelsel naboots.

“Om weer daardie trop-effek te kry, het ek na UHDSB oorgeskakel. In die tyd van die migrasies is die diere in troppe gehou deur leeus, luiperds en jagluiperds. My ‘roofdiere’ is die elektriese drade wat sorg dat my beeste in ’n trop bly.”

Hy gebruik Drakensbergers, wat volgens hom ’n baie sterk tropinstink het. “Die beeste vaar uitstekend met ultrahoëdrukstrookbeweiding. Ek kan ook in my stelsel sien watter tipe koei die beste vaar. Korter, voller geboude diere met groot rumens vaar beter as rankerige diere. Met verloop van tyd kan jy jou trop só selekteer dat jy net die tipe hou wat binne jou stelsel presteer.”

Slabbert het drie jaar gelede met UHDSB begin nadat mnr. André Lund, ’n oudboer en kundige op die gebied, hom gehelp het om ’n stelsel uit te werk. (Lund is vanjaar oorlede nadat hy Covid-19 opgedoen het.) Slabbert laat bewei stroke van 100 m x 10 m en verskuif die beeste elke uur.

“Omdat ons so vinnig skuif en die beweide veld dan ’n jaar lank laat rus, breek dit die parasiete se siklus. Die Drakensbergers is ook beter toegerus om parasiete af te weer. Hul velle, wat geskud kan word, en die lang sterte help baie daarmee. Ek gebruik nie dip- of entstowwe nie en ondervind nie probleme met bosluise op die beeste nie.”

Waar hy vroeër volgens die plaas se dra- krag van 4 ha per grootvee-eenheid met 100 koeie kon boer, boer hy nou met 500 koeie. Daar is steeds te veel kos en hy beoog om sy getal beeste tot 1 000 te vermeerder.

“Ek weet sommige boere is bang hulle gaan minder wins maak wanneer hulle herlewingslandboumetodes begin toepas. My kalfpersentasie is laer met ultrahoëdrukbeweiding as met selektiewe beweiding. Ek kry egter meer kalwers uit ’n laer persentasie met 500 koeie as uit die hoër persentasie met 100 koeie. Belading is die grootste winsdrywer in veeboerdery. Vir my gaan dit nie oor wins per dier nie, maar wins per hektaar.”

Die weidingkundige mnr. Frits van Oudtshoorn besoek Slabbert gereeld en is in sy noppies met die veld se verbetering in die afgelope drie jaar. Hy sê UHDSB maak die speelveld gelyk vir grasse. “Waar diere met beweiding die keuse gegee word, vreet hulle die lekker grasse eerste. Dit beteken hulle word uitgedun, terwyl die onsmaakliker grasse kans kry om te groei. Met UHDSB word alles egter gevreet en vertrap.” — WILLEM VAN DER BERG 

Navrae: Mnr. Danie Slabbert, e-pos: danieslabbert7@gmail.com, 082 339 9018.

Maak jou boerdery droogtebestand

In ’n land soos Suid-Afrika, waar droogtes ’n groot impak op boerderye het, kan herlewingslandboumetodes ’n mens se boerdery en grond meer bestand maak teen daardie taai tye, sê mnr. Dale Strickler. Hy is ’n bewaringsboer van Kansas in Amerika, waar die gemiddelde reënval sowat 300 mm ’n jaar is. Die meeste daarvan val in die somer.

“Wat ek en baie Suid-Afrikaanse boere dus gemeen het en wat ons boerderye die meeste beïnvloed, is die beperkte hoeveelheid reën wat in ’n kort tydjie van die jaar val. Wat ek en julle moet doen, is om ons grond meer droogtebestand te kry.”

Dit kom daarop neer dat grond se waterhouvermoë moet verbeter en elke druppel reën wat daarop val, opgeneem moet word, sê Strickler. Hoe meer organiese inhoud daar in die grond is, hoe beter is die waterhouvermoë. Om die organiese inhoud te verbeter, het jy wortels in die grond nodig – nie net seisoenaal nie, maar reg deur die jaar.

“Wortels in die grond sorg vir sowat 85% van grond se organiese inhoud. Maar dan moet dit lewende wortels wees. Die wortels van kontantgewasse, soos mielies en sonneblomme, is net vir ’n rukkie lewend in die grond. Grondmikrobes word deur wortels gevoed. Waar kry hulle kos wannneer daar nie lewende wortels in die grond is nie?”

Dit is waarom dekgewasse op lande uiters belangrik is, sê Strickler. Met dekgewasse kan jy sorg dat daar altyd lewende wortels in die grond is, selfs in die winter. ’n Verskeidenheid plante is ook belangrik. Verskillende soorte plante gee verskillende voedingstowwe af wat verskillende mikrobes voed.

Die verskillende wortelstelsels dien ook elkeen ’n doel. Vlakker bywortelstelsels hou die bogrond los en dien as ’n spons om vog op te vang. Penwortelstelsels sorg dat voedingstowwe dieper afgeskei word en dieper tonnels in die grond gevorm word. Dit beteken dat water en suurstof dieper grond bereik.

Die res van die organiese inhoud kom van die plantmateriaal bo die grond, mits jy die regte “masjien” het, sê Strickler. “Daardie masjien is diere, en mis is die biomassa van jou dekgewasse in ’n vorm wat in die grond opgeneem kan word en sorg dat die organiese inhoud verbeter.”

Bedekking op die grond is ook nodig. “Die UV-strale van die son maak die mikrobes in grond dood. Om dit te keer, moet jy die sonstrale van die grond af hou. Dit is nóg ’n doel van dekgewasse en die reste van dekgewasse wat ná beweiding agterbly. Dit gee skaduwee aan grond en skep ’n beter, koeler klimaat vir mikrobes om in te werk. Al daardie plantmateriaal wat op die grond lê, beskerm dit teen die son, maar dit keer ook verdamping.”

Daarom maak oorlêlande nie sin nie. “Terwyl daardie lande brand en die wind dit verwaai, is daar nie ’n enkele wortel wat voedingstowwe aan die mikrobes gee nie. Teen die tyd dat jy plant, is daar amper geen lewe in jou grond nie. Jy gaan duur betaal aan kunsmis om ’n ordentlike oes op sulke lande te behaal.” — WILLEM VAN DER BERG

Bewaringsboerdery: Sukses in die kelder

Die egpaar agter die bekende David & Nadia-wynhandelsmerk, mnr. David en me. Nadia Sadie, besit nie ’n enkele wingerd nie, maar maak duur wyne op stukke uitsoekgrond waar hulle bewaringsboerderypraktyke toepas. Die Sadies is ook vanjaar deur Tim Atkin, oorsese wynjoernalis, as sy jong wynmakers van die jaar aangewys in sy verslag oor die Suid-Afrikaanse wynbedryf.

Ongeveer die helfte van hul druiwe kom van die plaas Paardebosch in die Paardeberg-streek in die Wes-Kaap. Hulle huur dié plaas van 16 ha al sedert 2013. Die res van hul druiwe koop hulle reg oor die Swartland aan. Dit is nie bloot ’n koop-en-verkooptransaksie nie, maar hulle is betrokke by elke wingerd en probeer die eienaars oortuig van die waarde van bewaringsboerdery.

Eintlik doen die resultate die praatwerk, want die ou wingerde vaar baie beter onder dié aanslag, die arm, verweerdegranietgrond word opgepas, kosbare hulpbronne, soos water, word opgepas en die wingerde dra meer druiwe.

Dit was tydens hul oorsese reise dat David (wingerdboukundige en wynmaker) en Nadia (grond- en wingerdboukundige) besef het hoe spesiaal organiese en biodinamiese wyne is. “Dan is daar die kwessies oor die koste van chemiese middels, die karsinogeniese effek van glifosaat … ’n mens móét vrae vra,” vertel David.

In 2016 het hul reis na ’n omgewingsvriendeliker benadering begin. “Ons het tydens die droogte van 2016 tot 2018 gesien historiese bespuitingspraktyke is nie meer goed genoeg nie. Dit vernietig die gunstige grondmikrobes en ‘steriliseer’ dus die grond in ’n mate.”

Hulle behandel steeds kweek met onkruiddoder, waarna hulle kafbale om elke wingerdstok pak. Kweek wat steeds deurkom, word uitgehaal. “Dit is moeilik om oornag van die gifaspek weg te beweeg, maar sodra ons die kweek op die plaas uitgeroei het, wil ons geen onkruiddoder meer gebruik nie.”

Dit is duur praktyke – materiaal en arbeid kan tot R40 000 per ha beloop. Daarom gee hulle voorrang aan hul enkelwingerdwyne – Hoë-Steen, Skaliekop en Plat’bos. Dekgewasse is ’n ander belangrike praktyk.

“Ons kla nie oor arm grond nie, want dit gee kompleksiteit aan wyn, maar ek dink as ’n mens die gisopneembare stikstof (YAN) ’n hupstoot kan gee, kan dit net goed wees. Goeie loofgroei is nodig om dit reg te kry.

“ ’n Mens sou dink grond gaan oor opbrengs, maar grond beïnvloed ook die gehalte van die druiwe wat kelder toe gaan en hoe goed die gisting is, wat weer bepaal hoe goed jou wyn is. Natuurlike gisting ontbloot watter tekorte daar in die grond is.”

Aangesien hul praktyke so duur is, kom die Sadies op ’n hektaarprys met die produsente ooreen wanneer hulle druiwe koop. Sekere wingerde het hulle al meer as R100 per liter vir die wyn gekos. Dis hoekom wynliefhebbers moet besef ’n topwyn gaan ook daaroor om boere op hul plase te hou. — LUCILLE BOTHA

Navrae: Web: www.davidnadia.com, 072 375 4336.

Onkruid: dekgewasse vervang gif

’n Eenvoudige proef met dekgewasse in ’n jong Forelle-boord met die doel om onkruid te onderdruk, het al in die eerste seisoen belowende resultate opgelewer. Onkruidbestryding in appel- en peerboorde op die plaas Ouplaas naby Greyton kos tot R450 per toediening en moet in sommige boorde tot ses keer per jaar toegedien word.

Mnr. Guy Emslie, vrugteproduksiebestuurder op Ouplaas, sê dié R2 600 per ha per jaar is te veel. Om hierdie koste te verminder, het hy en mnr. Daan Brink, ’n grondkundige by Two-a-Day, besluit om ’n eenvoudige en goedkoop dekgewasproef in die somer en winter in ’n jong Forelle-boord te begin.

“Ons het vier verskillende mengsels in ’n paar rye gesaai. In hierdie stadium lyk die tef baie belowend. Dit het goed gegroei, baie materiaal geproduseer en die onkruid in die werksry goed onderdruk.”

Brink sê jy moet oordeelkundig besluit oor die hoofdoelwit van jou dekgewasse. “ ’n Mens is altyd in die versoeking om te veel op een slag te wil doen . . . Ons hoofdoelwit is om onkruid te onderdruk en om organiese materiaal te produseer. Dit kan ons met die oog meet, want ons kan sien of onkruid onderdruk word of nie. Ons kan ook maklik meet watter proef die meeste organiese materiaal lewer met die insette wat toegedien is.

“Ná die eerste proef het ons reeds goeie lesse geleer en vordering gemaak.”

Les 1. Plant dekgewasse doeltreffend. Brink het die saaiproses bestuur en dit per hand gedoen. Saad wat in die Forelle-boord gesaai is, is met ’n ou roller vasgerol. In ’n aangrensende boord met baie klipperige grond het hy die saad laat uitsaai en net so gelos om te sien wat die verskil sal wees.

“Dit verskil soos dag en nag. ’n Doeltreffende plantaksie wat goeie saad-grond-kontak verseker, is baie belangrik vir plantestand en groei- kragtigheid.”

Die dekgewasse is op 7 November 2019 gesaai. Twee derdes van die saad is sonder kunsmis gesaai, en die ander derde is met 50 kg KAN (28)/ha gesaai. Twee weke ná opkoms is 50 kg KAN (28)/ha toegedien op een van die derdes wat toe nog geen bemesting gekry het nie.

Les 2. Staan hulpbronne aan dekgewasse af. Die koste van die saad, saaiproses en kunsmis was goedkoper as om onkruid te probeer doodspuit, indien die opbrengs van organiese materiaal teen dié koste verreken kan word.

Die spuitkoste van die onkruid beloop sowat R2 600/ha per seisoen. Daarteenoor beloop die koste van dekgewasse sowat R3 000/ha. Die 50 kg KAN (28) kos sowat R300/ha. Die dekgewaskoste is sowat R2 500/ha, maar sonder die nadele wat aan die gebruik van onkruiddoder verbonde is.

Les 3. Die verspreiding van materiaal tot op die bankie kan ’n probleem wees. “Ons wil die organiese materiaal as ’n deklaag gebruik om onkruid ook op die bankie te onderdruk. In die middel van die somer is dit oestyd, en arbeid is nie beskikbaar om gekapte materiaal agter die bossiekapper tot op die bankie te kry nie.” — JOHAN VAN DER MERWE

NAVRAE: Mnre. Guy Emslie, 072 256 5110; Daan Brink, 082 529 2842.

Ultrahoëdrukstrookbeweiding: Systap slaggate só

’n Algemene klagte oor ultrahoëdruk- strookbeweidingstelsels is dat diere te veel kondisie verloor, en nadat heelwat geld op infrastruktuur uitgegee is, gooi boere die handdoek in. Jy kan egter diere in ’n goeie, produserende kondisie hou en die stelsel se reusewaarde suksesvol ontgin, meen die Karooweidingspionier, boer en skrywer André Lund.*

Ultrahoëdrukstrookbeweiding (UHDSB) se belangrikste kenmerk is die nabootsing van die groot wildmigrasies wat voorheen in Suider-Afrika voorgekom het. Dink aan UHDSB as ’n spansport tussen ’n veewagter en sy vee. Dit het ’n rustigheid in die kudde tot gevolg namate wedersydse vertroue toeneem. Dit maak UHDSB die aangenaamste werk op enige plaas. As daar fout kom met iets soos veedruk wat te laag is, onvoldoende weiding of te min water, sal die diere van hulle laat hoor.

Lund het 20 jaar gelede sy navorsingsprojek, die Karoo-weidingeksperiment, op sy plaas, Elandsfontein, by Beaufort-Wes begin. Hy het ál die bekende veldbestuurstelsels – van laedruk, hoëdruk tot UHDSB – geëvalueer in ’n omgewing waar met Merino’s, Nguni’s en Boerbokke geboer word.

Sy navorsing het getoon dat ’n weidingstelsel eers nie-selektief raak wanneer biomassa voor die voet benut en getrap word. In Karootoestande is dit teen 5 000 kleinvee-eenhede of 700 grootvee-eenhede (GVE) per ha.

UHDSB het bo verwagting presteer in ’n ekstensiewe, droë gebied. “Die hoeveelheid reën is dus nie ’n bepalende faktor vir sukses nie. Dit gaan eerder oor hoe doeltreffend die beskikbare reën benut word, ’n groot knelpunt op vee- en saaiplase.”

Vir ’n eeu en langer het boere ’n verskei- denheid veldbestuurstelsels en grondbewerkingspraktyke gevolg, net om vandag met grond te sit wat só arm aan koolstof is dat hulle nie meer winsgewend daarop kan boer nie.

Terwyl die res van die wêreld met nuwe oë na bewaringsbewerkingspraktyke kyk, praat die meeste Suid-Afrikaanse veeboere steeds oor ligte beweiding, hoëdrukbewei- ding en hoë-intensiteitbeweiding. Nie een kom naby aan werklike nie-selektiewe beweiding nie.

Ongelukkig lyk dit of daar al hoe meer stories is van boere wat UHDSB aanpak en dan binne ’n jaar tou opgooi. Van die vernaamste redes is ’n swak bestuurstelsel. By navraag is dit gewoonlik duidelik dat die veedruk te laag is en dat die vee heeltemal te min per dag geskuif word.

Probeer eers om die dier versigtig saam met die ander diere na die volgende weiblok te skuif. As dit nie help deur dit ’n paar maal te herhaal nie, moet sulke diere liefs uitgeskot word. Hulle belemmer eenvoudig die kuddesamehorigheid.

Daar is wel boere wat UHDSB probeer bestuur in oop kampe met ’n enkelkragdraad. Daarvoor is ’n baie groot kudde beeste nodig omdat beheer oor die diere nie so doeltreffend is nie. My aanbeveling vir kleiner, ekstensiewe veeboerderye met miskien minder water is om ’n goed beplande strookstelsel toe te pas waarin veedruk makliker hoër of laer aangepas kan word.

* Mnr. André Lund, skrywer van Die Wonder van UHDSB in Engels én Afrikaans, is in Julie aan Covid-19 oorlede.