Só het prof. James Blignaut, ’n hulpbronekonoom, op Landbouweekblad en die Riemlandstudiegroep se herlewingslandboukonferensie op Reitz gesê.

Mense dink dikwels aan die landbou net as ’n sektor wat dinge produseer om geld te maak, maar dis eintlik eerstens ’n voorsiener van ekostelseldienste, het hy gesê.

Ekostelseldienste sluit in die voorsiening van goedere wat direk uit die ekostelsel kom, soos hout en vleis, regulerende dienste soos die koolsuurgas wat plante uit die atmosfeer verwyder en die suurstof wat hulle vrystel, ondersteunende dienste soos die voedingskringlope in die grond wat ekostelsels beter laat funksioneer, en kulturele dienste, met ander woorde, die genot wat mense uit ’n mooi omgewing put.

’n Ekonomie kan ontwikkel word deur sy batebasis deur belegging te vergroot of die lekplekke te herstel deur praktyke wat heropbou. “Die probleem is ons is so besig om bates op te bou dat ons vergeet om te keer dat alles weer uitlek.”

In ’n wêreld wat ingestel is op vervaardigingskapitaal, finansiële, menslike en sosiale kapitaal, bly natuurlike kapitaal dikwels vergete. Gesonde ekostelsels produseer natuurlike kapitaal wat hernieubaar is, soos son- en windenergie, heraanvulbaar soos water, nie-hernieubaar soos olie en goud, en gekweekte natuurlike kapitaal soos mielies kan wees. Dit alles kan ekonomiese ontwikkeling bevorder.

’n Ekonomie wat net daarop ingestel is om sy batebasis te vergroot, kan verliese of lekke meebring. Blignaut het gesê Suid-Afrika het ’n lekkende stelsel. “Ons verloor voedingstowwe deur eutrofikasie (die verryking van riviere deur kunsmisafloop van lande), ons verloor bogrond en water deur erosie, en geleenthede om kos te produseer deur die manier waarop ons ons grond bestuur. Ons verloor mense deur hulle van die grond in die landelike gebiede na die stede te stoot.”

Hy meen herlewingslandbou is deel van die proses om die lekplekke reg te maak en die proses van verlies om te keer.

Blignaut is deel van ’n span wat maniere ondersoek om boere wat na herlewingsboerderypraktyke oorskakel, te ondersteun. Een van die projekte is Nepo, ’n bioversterkte mielie- en sojapapmengsel wat nie geneties gemodifiseerde organismes bevat nie, en boere wat volhoubare praktyke inspan, ondersteun. Die ander is ’n fonds wat boere wat na bewarings- en herlewingspraktyke wil oorskakel, deur hulp met finansiering aanspoor.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.