Prof. Linus Franke van die Vrystaatse Universiteit sê Suid-Afrika het ’n dinamiese groep boere, landbounavorsers en voorligters wat die beginsels van bewaringslandbou beproef, met die boere aan die spits van dié vernuwing.

Franke en ander lede van ’n wye belangegroep het ná ’n werksessie in Bloemfontein oor die rol van koolstof in die grond en koolstofneerlegging in bewaringslandbou die insluiting van veeteelt as ’n vierde beginsel vasgestel wat onontbeerlik vir bewaringslandbou is. Dit behels die insluiting van onder meer beeste, skape en pluimvee in ’n plaasstelsel.

Volgens Franke lê Nederland klem op kringloop-stelsels.

Drr. Saskia Keesstra en Henk Wösten, omgewingsnavorsers aan die Nederlandse Universiteit van Wageningen, was twee van die buitelandse deelnemers aan die werksessie. Volgens hulle is daar voldoende moontlikhede om gesamentlike navorsingsprojekte aan te pak, aangesien landbounavorsing in Suid-Afrika en Nederland op ’n hoë peil gedoen word.

“Bewaringslandbou is ’n stelsel wat die minste meganiese grondversteuring (geen ploegbewerking) vereis, asook die handhawing van permanente grondbedekking van minstens 30% oesreste of dekgewasse en ’n variasie van plantsoorte van minstens drie oesgewasse,” sê Franke. “Dit bevorder die biodiversiteit en natuurlike biologiese prosesse bogronds, wat bydra tot die doeltreffender benutting van water en voedingstowwe.”

Volgens Franke het diereprodukte ’n baie groter koolstofspoor as plantaardige produkte. Die werkessie het gekonsentreer op die rol wat goeie beweidingsbestuur kan speel om landbougrond te laat verander van ’n bron van koolsuurgas tot ’n opbergplek daarvan. 

Lesse in Suid-Afrika geleer:

Die inskakeling van lewende hawe in gewasverbouingstelsels

Volgens Keesstra was Nederland in die verlede bekend om sy gemengde boerderystels waarvolgens dieremis as bemesting in landerye gebruik is. Deesdae het dié gebruik verval. Dit kan toegeskryf word aan spesialisasie, die optimale benutting van hulpbronne en streng regulasies wat meebring dat die meeste plase net oor bewerkbare landerye, boorde of lewende hawe beskik.

“Met verwysing na kringloop-landbou in Nederland is die Suid-Afrikaanse boere se praktyk om lewende hawe by hul jaarlikse gewasverbouing in te skakel, ’n interresante benadering,” sê Keesstra. 

“Ons het ons aanvanklik in die Bloemfonteinse werksessie gekonsentreer op die rol wat bewaringslandbou kan speel om klimaatsverandering te versag, asook op voorstelle hoe dié maatreëls op groot skaal deur kommersiële en deur kleinboere toegepas kan word.”

Deelnemers aan die werksessie was ten gunste daarvan om bewaringslandbou-praktyke aan te pas om uiteindelik herlewingslandbou oor ’n wye front toe te pas. Dié doelwit kan volgens haar in hanteerbare fases bereik word.

Die vernaamste lesse uit die werksessie was:

1.                 Volhoubare ekonomiese en omgewingsvooruitgang kan sonder subsidies bereik word.

Suid-Afrikaanse produsente kan nie soos hul Europese eweknieë op landbousubsidies staat maak nie. Derhalwe is dit van uiterste belang dat enige aanpassing in ’n boer se bestuurstelsel ekonomies lewensvatbaar moet wees. Volgens die boere wat aan die werksessie deelgeneem het, soos mnr. Danie Slabbert van die Riemlandse studiegroep by Reitz, kan dié doelwit ten beste verwesenlik word deur lewende hawe in boererye in te skakel. Die herkouers se mis verminder die behoefte aan kunsmis en die rooivleisproduksie verbeter die boer se kontantvloei. Die trapaksie van die diere vermeng die mis en oesreste in die grond, wat op sy beurt tot verhoogde vlakke van koolstof in die grond, grondgesondheid en bo- en ondergrondse biodiversiteit lei. 

2.                 Die oorgang na volhoubare boerdery is ’n uitgerekte proses: Elke stap na volhoubaarheid is in die regte rigting.

Die oorgang van konvensionele boerderypraktyke na herlewingslandbou is volgens die waarnemers ’n te groot stap vir die meeste boere. Derhalwe moet tussentydse stappe ook bevorder word. “Aangesien Suid-Afrika nie soos in Europa op subsidies kan steun nie, hang die oorgang na die verbouing van gesonder voedselprodukte en ’n verbetering in die gesondheid van die verbruikers van die bereidwilligheid en visie van elke boer af.”

3.                 Visie en die liefde vir die grond: ’n Goeie boer is die rentmeeste van sy grond.

Die meeste boere koester hul liefde vir die grond, maar kan ook in ’n maatskaplik-ekonomiese draaikolk vasgevang word deur hul voorgangers en bure na te volg. Alternatiewe strategieë wat holisties en vir plaaslike omstandighede aangepas is, is nodig om te toon dat herlewingslandboupraktyke ’n bereikbare kolletjie op die horison is wat deur almal bereik kan word. 

4.                 Maniere om toepaslike, maar holistiese oplossings vir elke plaas te vind.

Volgens Keesstra moet toepaslike oplossings met die samewerking van die boere opgestel word om die maatskaplike doelwitte te bereik, soos die versagting van die uitwerking van klimaatsverandering deur die neerlegging van koolstof in die grond en die verbetering van die biodiversiteit, terwyl die produsent steeds ’n goeie bestaan kan voer.

Keesstra sê ’n stelselbenadering moet gevolg word om volhoubare omgewingsbestuur te laat slaag. “Die kwessie van volhoubare omgewingsbestuur beteken nie net die beskerming van die omgewing en grondgesondheid nie, maar ook die maatskaplik-ekonomiese interaksie met die mense wat die grond bewoon.”

Volgens Keesstra sal ’n stelselbenadering gevolg word wat al dié aspekte in ag neem. “As wetenskaplikes weet ons reeds baie van omgewingsbestuur vanuit ’n biofisiese perspektief, maar meer aandag moet aan ’n maatskaplike benadering gegee word om die volhoubare ontwikkelingsmikpunte aan mense oor te dra.”

Mnr. Jack Vera, landbou-attaché by die Nederlandse ambassade, het die samewerking tussen instellings in Nederland en Suid-Afrika in sy openingsrede bepleit, sodat die vakkundige kennis en die toepassing daarvan in verbeterde omgewingsbestuur uit te brei. “Een van die belangrike aspekte daarvan is die verbetering van die grondgehalte. Die onderskeie wetenskaplikes kan maklik saamwerk, maar die toepassing van die kennis is die belangrikste,” het hy gesê. Een van die mikpunte is die instelling van ’n gesamentlike navorsingsprojek waarby verskeie belangegroepe en beleggers uit albei lande betrokke sal raak.