Die vraag na navorsing oor dekgewasse in die kernvrugtebedryf, en veral toegepaste navorsing,  neem toe. Mee. Sheila Storey, eienaar van Nemlab, en Angelique Zeelie, navorsings- en innoveringsbestuurder by die Fruitways-groep, het besef dit is belangrik om boere te betrek en om inligting onder mekaar uit te ruil om hierdie navorsing te bevorder. 

“Ons is albei reeds betrokke by navorsingsprojekte waar dekgewasse in appelboorde geëvalueer word,” sê Zeelie.  “Daar is heelparty innoverende boere in ons omgewing en ek glo hulle wil graag hul kennis oor dekgewasse aan die bedryf oordra.”

Nemlab, Fruitways en Landbouweekblad het daarom besluit om op 21 Augustus ’n werksessie oor dekgewasse in vrugteverbouing op Grabouw aan te bied. Boere wat deel van die studiegroep is sal onder andere daaraan deelneem.

“Dit is die gevolg van individue wat werklik volhoubare landbou ondersteun. Die volhoubare praktyke wat tans toegepas word, is van só ’n aard dat dit nie net winsgewendheid bevorder nie, maar ook die grond bewaar vir toekomstige generasies. Die koste om organiese materiaal aan te ry of om dit self op die boordvloer te produseer, sal onder meer bespreek word. Die werksessie gaan konsentreer op dekgewasverbouing en hoe dit grondchemie, grondfisika en biologie in die EGVV-gebied kan help bevorder, spesifiek vir kernvrugte,” sê Zeelie.

Zeelie en Storey was in die kol dat produsente gretig vir inligting is, en die werksessie was begin Julie reeds volbespreek. “Ons plaaslike produsente wil graag hul boerderypraktyke verbeter. Daar is groot belangstelling onder EGVV-boere, veral vanweë nuwe praktyke waarmee in die afgelope dekade begin is. Die bedryf is ontvanklik vir innovering en ons is opgewonde daaroor,” sê Zeelie.

Storey reken die oormaat inligting rondom herlewingslandbou en dekgewasse kan tot verwarring lei en speel ook ’n rol in die toenemende belangstelling. “Boere is bewus van die voordele, maar is gretig vir inligting oor hul spesifieke klimaat en gewasse om die raaiwerk uit die beginsels te haal. Produsente wil sekerheid hê, en sulke werksessies is ’n waardevolle hulpmiddel,” sê Storey.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.