Dit is ’n volhoubare praktyk wat grondgesondheid verbeter, koolstofvaslegging verhoog en steeds winsgewende oeste lewer. Dr. Hendrik Smith, Herlewingslandboubestuurder van Graan Suid-Afrika, het op ’n geleentheid van die Ottosdal-geenbewerkingsklub gesê die grondslag daarvan behels die minimale versteuring van grond – op meganiese sowel as biologiese vlak.

“Daarna word die diversifikasie van gewasstelsels bygetrek, waar rotasiefases belangrik is, maar veral die gebruik van dekgewasse die grootste aandag moet geniet. Die doelwit is om uiteindelik so na as moontlik aan 100% grondbedekking regdeur die jaar te beweeg. As jy eers daardie beginsel regkry, raak beter grondpraktyke, soos geïntegreerde bestuur en die integrasie van ’n veekomponent, ook makliker,” het Smith gesê.

Hy meen herlewingslandbou skep ’n bewustheid van hoe die natuur werk en hou terselfdertyd veelvoudige voordele vir boere in. “Dit is ook ’n etiese beginsel wat ons sal moet toepas, anders gaan ons in die toekoms in die moeilikheid beland.” Die belangrikste faktor is om eerstens die toepassing vir ’n spesifieke stuk grond reg te kry.

“Die verskillende toepassings van herlewingslandbou kan binne ’n kwessie van ’n paar kilometer van mekaar begin verskil. Jou buurman se toepassing gaan van joune verskil, want faktore soos individuele doelwitte en maatskaplik-ekonomiese omstandighede wissel van plaas tot plaas. “Boere moet dus eerstens besef dat die impak op hul grond die belangrikste faktor is en om die grondgesondheid te herstel. Daar is nie ’n enkele stuk grond in Suid-Afrika wat nie weens intensiewe bewerking afgetakel is nie. Ons kan dit slegs omkeer deur die beginsels en praktyke van herlewingslandbou toe te pas.”

Boere wat al een of twee van hierdie beginsels toepas, het reeds ’n beperkte impak op grondgesondheid, maar dit is belangrik om ál die beginsels toe te pas om die volle voordeel te geniet. Smith sê daar is ’n drumpelvlak van grondorganiese materiaal van waar die herstel van grond ’n werklikheid word. “Sodra die drumpelwaarde van 2,2% grondorganiese materiaal bereik word, begin die magic gebeur. Die waterhouvermoë is beter en daar is meer water en voedingstowwe beskikbaar. Daar is minder siektes, en produksie begin toeneem. Al die dienste en funksies wat die natuur bied, kom dan gratis na vore en die boer kan dit benut.”

Dis egter nie maklik om van konvensionele praktyke na herlewingslandboupraktyke oor te skakel nie. “Ons probeer ’n ingewikkelde stelsel met verskeie fasette toepas. Die enigste manier om dit reg te kry, is om daaroor te praat. Luister na mekaar se oplossings en verhale, want dan begin elkeen meer verstaan.”

Smith het verwys na ’n 2015-studie deur die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika (DBSA) waarin landboupraktyke in die land se westelike en oostelike produksiestreke gemoduleer is. “Sy model dui daarop dat die volhoubaarheid van konvensionele praktyke oor twintig jaar sal afneem, terwyl herlewingslandbou aanvanklik afwaarts draai voordat dit toeneem. Eenvoudig gesproke bewys die studie dat die geld sal volg wanneer die ekologie verbeter.”

SÓ BEGIN ’n MENS

Smith het ’n aantal riglyne vir boere neergelê wat met herlewingslandbou wil begin.

  • Verbreed jou kennis oor die beginsels van herlewingslandbou minstens ’n jaar lank voor jy dit begin toepas. Ondersoek en ontwerp goeie gewasverbouingsbeginsels.
  • Ontleed jou grond en mik vir ’n gebalanseerde vrugbaarheid- en pH-status. Dit skep ’n gesonde grondslag.
  • Los probleme, soos verdigting en pH-status, op voordat jy begin. ’n Paar jaar se probeer met chemiese middels kan jou bankrot maak. Maak eerder staat op grondbiologie om probleme op ’n natuurlike manier op te los.
  • Maak die grondoppervlak gelyk.
  • Begin verkieslik met ’n multispesie-dekgewasstelsel om grond biologies te stimuleer en dit te bedek. Bedekking sal gronderosie keer en heeljaar lewende wortels in die grond plaas.
  • Die regte planter is nodig. Om koste te bespaar, kan een aanvanklik aangepas word.
  • Beperk jou risiko deur eers op 10% van jou beskikbare grond te begin. Pas herlewingslandbou so nougeset moontlik daarop toe.
  • Gebruik wisselbou, dekgewasse en vee om die maksimum impak op die grond te kry.
  • Besnoei die gebruik van kunsmis en ander landbouchemiese produkte namate die ekologie bo- en ondergronds herstel. Moenie net summier ophou met bemesting nie. Dit kan geleidelik verminder word namate herstel oor ’n tydperk van drie tot vyf jaar plaasvind.
  • Voorkom verdigting so ver moontlik.
  • Monitor jou vordering deur verskeie metodes.
  • Herlewingslandbou moet vir minstens vyf jaar toegepas word om die volle voordeel daarvan te ervaar.
  • Hou aan leer en aanpas. Boerestudiegroepe kan in dié opsig baie help.