Liu is al meer as 25 jaar lank deel van inisiatiewe om meer as 3 miljoen hektaar in die Loessplato in Sentraal-China te rehabiliteer. Die plato, wat die Wei- en Geelrivier omvou, was eeue lank een van die vernaamste landboustreke in China. Teen die laat 1980’s kon die meeste van die boere in die omgewing nie meer ’n bestaan maak nie, en rehabilitasiewerk het in die vroeë 1990’s begin. 

Vandag is die plato 300% meer produktief as in die 1990’s, erosie bykans totaal stopgesit en die rivierlope herstel. Gemeenskappe se welstand word volhoubaar opgebou en die boerderye is weer winsgewend. 

Liu is tans betrokke by die Commonland-projek wat herlewingslandboubeginsels gebruik om ekostelsels te herstel. Dit is ’n nie-regeringsorganisasie van Nederland wat by projekte reg oor die wêreld betrokke is, onder meer in Afrika, Australië en Europa. 

Die projek het vier doelstellings, waaronder winsgewende kosproduksie, werkskepping en om opleiding en entrepreneurskap te stimuleer. Die vierde en uiteindelike doel van die projek is om hoop in gemeenskappe te bring waar dit verlore gegaan het weens gebroke en wanfunksionele ekostelsels. “Dit is noodsaaklik dat ons inheemse kennis en nuwe tegnologie integreer en deel van die hoofstroom maak. Ons besLiute vandag gaan die lewensgehalte van die geslagte in die toekoms bepaal. Ons het die hulpbronne, kennis en tegnologie tot ons beskikking om nou goeie besLiute vir die toekoms te neem,” sê Liu. 

Mnr. Pieter Kruger van die plaas Zandvlakte in die Baviaanskloof, wat al vir langer as drie dekades die ekostelsels op sy plaas met herlewingslandboubeginsels herbou, het in 2006 met onder meer die Commonlands-projek in vennootskap getree om die waterweë en ekostelsels op sy plaas te herstel en navorsing daaroor te doen. 

Liu word met die samewerking van Greenpop, ’n nie-regeringsorganisasie van Kaapstad wat gemoeid is daarmee om gemeenskappe met die grond en natuur te verbind deur inheemse bome te vestig, na Suid-Afrika gebring. ’n Gespreksgeleentheid sal tydens die sessie plaasvind om die opbou van veerkragtige ekostelsels en die bydrae daarvan tot die beperking van klimaatverwante probleme onder die loep te neem. Toegang is R50 vir studente en R100 vir volwassenes en kan by die deur betaal word. 

Vir meer inligting besoek http://festivalofaction.com/ of kontak mnr. Misha Teasdale by e-pos: misha@greenpop.org of 071 687 5262.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.