Geenbewerking is slegs één van ’n aantal praktyke wat ’n boer kan toepas terwyl hy so na moontlik aan die perfekte boerderypraktyk probeer kom, sê Muirhead, een van die eerste Suid-Afrikaners wat bewaringslandbou op sy plaas Gourtan by Winterton in KwaZulu-Natal toegepas het. Die oorskakeling na herlewingslandbou was allermins vinnig, vertel Muirhead, maar die belangrikste beweegrede was om die invloed van gronderosie te beperk. “Sodra jy gronderosie weens vloedwater of winderosie kan begin meet, het jy al ’n groot deel van die oorlog gewen.”

Een van die grootste voordele van geenbewerking is die teenwoordigheid van ’n vorige produksiejaar se organiese materiaal om as skokbreker te dien teen harde reën en te keer dat die belangrike bogrond wegspoel. Hy sê verdigtingsprobleme op sy plaas is ook opgehef sedert hy begin het om ’n hoë koolstofinhoud, gekoppel aan meer grondbedekking, te bewerkstellig.

“Die oomblik toe ons die humusinhoud in ons grond kon opstoot, het daardie harde duimlagie bogrond in ons grond ook verdwyn. Dit kan tot vyf jaar kos om daardie humusinhoud perfek reg te kry, maar sodra dit gebeur, word jou grond soos ’n spons wat water doeltreffend opneem en dit behou, gereed vir jou volgende aanplanting.” Muirhead is nie heeltemal gekant teen die gebruik van ’n skeurtandploeg nie, mits die regte werktuig gebruik word.

“Daar is deesdae skeurploeë wat baie nouer werk en dus die grond minimaal versteur, selfs tot op ’n diepte van 500 mm tot 600 mm. Totdat die boer dus gewasse kan aanplant wat die opbreekproses vír hom doen, stel ek voor hy kyk na so ’n werktuig om die grond los te maak, maar nie te veel suurstof toe te laat nie. Sodra jy jou grond oopmaak, gaan jou verdigting ook weer begin toeneem namate die koolstofbindings afgebreek word.”

Muirhead waarsku herlewingslandbou moenie beskou word as die alles-in-een-oplossing nie. “Herlewingslandbou het nie my produksie en winsgewendheid verhoog nie. Dit het wel albei elemente oor verskillende jare gestabiliseer. Jy gaan nie oornag 10 t/ha op ’n land kry wat gewoonlik 7 t/ha lewer nie. Jy gaan wel in droër jare dalk 4 ton mielies per hektaar stroop, waar jy 2 ton sou stroop.”