Die boodskap was duidelik: Sorg vir jou grond en jou grond sal vir jou sorg.

Mnr. Adrian Bignell van Bignell Ranching in Zambië sê daar is tien bestanddele wat bewaringsboerdery laat werk. "Die eerste is organiese materiaal. Die ander nege ook."

Hy sê dit het eers gelyk asof hulle organiese materiaal elke jaar net verdwyn het. "Blote bewaringsboerdery is nie voldoende om organiese materiaal te vermeerder nie. Deesdae behaal ons groot sukses met dekgewasse."

Dit het mnr. Cobus van Coller van die plaas Libanon by Viljoenskroon nie baie tyd gekos om by dié resep van ‘‘bedekking + minimumbewerking + ’n veelvoud van dekgewasse + integrering van vee = wins’’ uit te kom nie.

Die onsigbare waarde van gewasdiversiteit deur die jaar het na vore gekom toe mnre. Simon Hodgson, hoofbestuurder van AGT Foods, en Geroge Lenferna van die SA Vereniging vir Byeboere, verduidelik het hoe dekgewasse voordelige insekte, soos perdebye en bye, lok en só die heelplaaslegkaart voltooi.

Mnr. Steve Groff, Amerikaanse boer en ‘‘dekgewasafrigter’’ het konferensiegangers aangemoedig om met geduld te werk om hul grond te verbeter met sy opmerking dat grondgesondheid ’n lewenslange onderneming is, en nie iets wat jy oornag kan bereik nie.

As boer streef hy na verskeidenheid en om sodoende mettertyd minder kunsmis en plaagbekampingsmiddels te gebruik. Hy probeer hoëwaardegewasse kweek wat ook met voedingstowwe gepak is. ‘‘Ek wil wins behaal, nie uit gierigheid nie, maar om te oorleef en nog lank hier te wees.’’

Die hou in die maag het egter van mnr. Guy Thibaud van die KwaZulu-Natalse departement van landbou en landelike ontwikkeling gekom, met sy ontstellende waarskuwing dat as ons aanhou om die grond te plunder, die natuur dit sonder vergoeding sal onteien.

Die sprekers by die jaarlikse konferensie van die geenbewerkingsklub van KwaZulu-Natal was, van links, mnre. Michael Esmeraldo van Netafim, Adrian Bignell van Bignell Ranching in Zambië, Simon Hodgson van AGT Foods, Cobus van Coller van Libanon by Viljoenskroon, Tony da Costa van Manjoh Ranch, Nigel, dr. Colin Forbes van die plaas Athole, Amsterdam in Mpumalanga, mnre. Bright Mashiyana en Guy Thibauc van die KwaZulu-Natalse departement van landbou en landelike ontwikkeling, George lenferna van die SA Vereniging vir Byeboere, Bill Berry, agronomie-konsultant, Steve Groff, boer en dekgewasafrigter van die Amerikaanse deelstaat Pennsilvanië, en Egon Zunckel, boer van Bergville. Foto: Amelia Genis