LandbouweekbladVKB, Dekalb SA en Standard Bank – saam met die Riemland-studiegroep en Graan SA – bring wêreldbekende sprekers, kenners en van die beste boere wat al die skoolgeld betaal het, byeen vir die eerste Suid-Afrikaanse konferensie wat net op herlewingslandbou toegespits is. 

Kom hoor hoe die natuur vir jóú begin werk wanneer jy chemiese, biologiese en fisiese stres op jou plaas verminder, die grond nie versteur word nie, dit bedek word en daar sover moontlik altyd lewende wortels in die grond is.

Jay Fuhrer is ’n wêreldbekende bewaringskenner wat vir die Amerikaanse departement van landbou se Natural Recources Conservation Service werk. Hy was in die jare negentig al een van die pioniers van die grondgesondheid-beweging van voorligters en boere wat besef het ’n nuwe manier van dink en boer is nodig om gronddegradering om te keer en boerdery weer op ’n winsvoet te plaas. Vanaf Noord-Dakota, waar Jay en die res van sy oorspronklike spanlede gestasioneer is, het dit vinnig in ’n nasionale beweging ontwikkel. Jay is ’n voorste kenner van die gebruik van dekgewasse en die integrasie van vee om grondgesondheid tot op die hoogste vlak te voer. 

Johann Zietsman, wat al wêreldwyd gekonsulteer het oor weiding, gaan wys hoe jy jou drakrag kan verdriedubbel en jou grond kan opbou. Hoe om produktiwiteit natuurlik te ontsluit (die wêreldbekende skrywer en kenner Roland Bunch), weerkundigheid en wat jy oor die volgende 10 jaar kan verwag (prof. Francois Engelbrecht van die WNNR), geïntegreerde insekbestuur (prof. Johnnie van den Berg), die ekonomie van natuurlike dienste (dr. Charlene Janion-Scheepers) en die uitdagings en vordering wat SA reeds gemaak het met bewaringslandbou (dr. Hendrik Smith) word ook deurgetrap.

’n Boerepaneel met Suid-Afrika se beste boere reg oor die land gaan hul lesse, uitdagings en suksesse deel. Kyk na die praktiese veldproewe van die vernuwende Riemland-studiegroep, die eerste demonstrasie van ultrahoëdigtheidsbeweiding en uitstallings wat wissel van hommeltuie tot presisietoerusting en verskuifbare veldtoerusting.

Die inspirerende Peter von Kets, wat al man-alleen oor die Atlantiese Oseaan geroei het, vertel hoe om stres te verwerk, en die OppieStoep-span Pietman en Andries gaan jou laat lê van die lag.

Die konferensie vind op 19 en 20 Maart plaas op Reitz in die Oos-Vrystaat. Dit word ook aangebied met die steun van die Riemland-studiegroep en Graan SA.

Vir die inskrywingsvorm (in beide Afrikaans en Engels), klik hier. Die volledige program (ook in beide Afrikaans en Engels) kan hier besigtig word.

Inligting

Datum en plek: Die konferensie word op 19 en 20 Maart 2018 by die VKB-feesterrein op Reitz gehou.

Besprekings: Dalene Ricketts: e-pos: DRicketts@Landbou.com; tel. 021 406 2385.

Verblyf op Reitz (waaronder kampeer): Danie van Aswegen: sel 082 534 8372.

Navrae: Jacolette Kloppers: e-pos: jacolette.kloppers@Landbou.com; tel. 021 406 2594.

Hou Landbou.com dop vir meer inligting oor die konferensie en sprekers.

Hoofborge: Standard Bank, VKB en Monsanto/Dekalb.
Ander borge: Imperial Isuzu, Cape Gate, Nulandis, Beyerskloof en KWV 5 YO Brandy.