Die velddae word aangebied deur die Overberg Renosterveld-bewaringstrust (ORBT) en sy vennote, Landbouweekblad, die Wêreldnatuurfonds (WWF) SA en die Universiteit van Kaapstad (UK).

Die velddae wat op plase by Heidelberg en Napier plaasvind, is unieke geleenthede om ’n lente-oggend saam met renosterveldkenners deur te bring en meer te leer oor navorsing wat onlangs daar gedoen is.

Grondeienaars kan leer hoe om die natuurlike landskappe op hul plase te beskerm en te bestuur tot voordeel van mense en die natuur.

Albei velddae sal informeel wees en genoeg geleentheid bied om vrae te vra en die bestuur van renosterveld, veral ten opsigte van die beweiding daarvan, die gebruik van vuur en bestuur van waterlope, te bespreek.

Die velddag op Dinsdag, 18 September vind op mnr. Dirk van Papendorp se plaas Voorstekop by Heidelberg plaas. Die geleentheid begin om 09:30 met koffie in Voorstekop se skuur. Van Papendorp en dr. Odette Curtis-Scott, direkteur van die Overberg Renosterveld-bewaringstrust, sal die gesprek inlei, waarna almal die studente se navorsingspersele in die veld gaan besigtig.

Mnr. Luke Gallant en prof. Samson Chimphango van die UK gaan die doelwitte en resultate van die smaaklikheidstudie bespreek. Me. Zoë Poulsen (UK) gaan die resultate van haar beweidingsnavorsing bespreek en mnr. Keir Lynch (ORBT) gaan praat oor die werk wat in die gebied gedoen word en hul ‘‘droom’’ vir die landskap. Laastens gaan mnr. Riaan van der Walt die resultate van die ondersoek oor wilde varke in die Kinkoriviergebied bespreek asook aanbevelings oor bestuursingryping.

Die dag word rondom 13:00 met ’n ligte ete in die veld afgesluit.

Velddag by Napier

Die velddag op Woensdag, 19 September, vind by Schietpad en Agri Dwala plaas. Almal wat die dag wil bywoon, kom om 09:30 by Agri Dwala bymekaar vir koffie waar mnr. Keir Lynch van ORBT die dag sal inlei.

Die program vir die dag by Agri Dwala en Schietpad is grootliks dieselfde as die dag op Voorstekop, behalwe dat mnr. Keir Lynch ook interessante resultate van ’n endemiese varswaterondersoek by die rivier by Schietpad sal bekend maak.

Navrae en besprekings: Bespreek asseblief vóór 13 September by Sharon King, admin@overbergrenosterveld.org.za.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.