Tien jaar ná die eerste Landbouweekblad-toer na Argentinië bied Landbouweekblad weer aan boere die geleentheid om die toplandbouland te besoek onder leiding van mnr. Danie Slabbert van die Riemlandstudiegroep by Reitz!

Met die klimaat wat toenemend van boere vereis om vernuwend en nader aan die natuur te boer, raak geenbewerking en herlewingslandbou ál gewilder in Suid-Afrika. Argentinië pas al 40 jaar lank geenbewerking toe. Volgens mnr. Hendrik Jordaan, wat betrokke is by die reëlings vir die toer, word sowat 95% van Argentinië se gesaaides met geenbewerkingsmetodes verbou. Soja, mielies, koring, sonneblomme, sorghum en katoen is die belangrikste gewasse wat in dié land geplant word. 

“Argentinië gaan vanjaar gebuk onder een van die ergste droogtes wat in die laaste tien of meer jaar voorgekom het. ’n Mens kan nou duidelik sien waar die voordele van geenbewerking lê,” sê Jordaan.

Slabbert is ’n kenner van herlewingslandbou danksy sy betrokkenheid by die Riemland-studiegroep. Hy sal op grond van van sy ervaring toerlede kan bystaan om die maksimum waarde uit die beplande besoeke aan plaaslike Argentynse boere te put.

“Dié boere kan as voorbeeld dien vir Suid-Afrikaanse boere omdat Argentinië ook ’n ontwikkelende land is met ’n soortgelyke klimaat, waar saaiboerdery in baie dele slegs moontlik is omdat boere geenbewerking toepas.

"Wat die Argentyne lankal besef het, is dat daar nie ’n standaardresep vir geenbewerking is nie. Dit is hoekom ons glo boere moet dit self sien en beleef en hul eie vrae moet vra,” sê Jordaan.

Argentinië lewer genoeg voedsel vir 400 miljoen mense en beoog om voor 2030 sy landbouproduksie met nóg 50% te verhoog.

Vir meer inligting oor die toer kontak gerus:

Hendrik Jordaan van Laurik International in Argentinië

Sy e-pos is: landbou@laurik.com.ar

Ook WhatsApp en Selfoon: +5491162745888

Ilze Nel-Marais van Boland Travel

Tel: +27 21 872 1581 E-pos: corporate3@bolandtravel.net

Die beplande reisplan:

Saterdag, 25 Augustus

Verlaat O. R. Tambo-lughawe in Johannesburg en arriveer om ongeveer 21:00 in Buenos Aires. Word op lughawe ontmoet en na u hotel vergesel. Oornag in hotel in Buenos Aires.

Sondag, 26 Augustus 

Verlaat die stad van Buenos Aires en besoek 'n gemengde boerdery in die omgewing van San Pedro waar met Aberdeen Angus en graan geboer word. Oornag in hotel in Rosario.

Maandag, 27 Augustus

Besoek die Argentynse Geenbewerkingvereniging om meer te leer oor geenbewerking, wat reeds in 1977 in Argentinië begin het. Ons besoek die Rosario-graanbeurs, waar sowat 80% van Argentinië se graan verhandel word. Besoek die Rosario-hawe, wat een van meer as 20 uitvoerpunte op die oewers van die Paranárivier is. Oornag in hotel in Rosario. 

Dinsdag, 28 Augustus

Besoek die Argentynse Instituut vir Landbounavorsing in Marcos Juárez waar daar proewe gedoen word op dekgewasse en organiese materiaal in die grond. Oornag in Marcos Juárez.

Woensdag, 29 Augustus

Besoek 'n tipiese saaiboerdery waar daar oor die afgelope 15 jaar geenbewering toegepas word. Ons sal hier geleentheid hê om met die boer te praat oor sy bewerkingsmetodes en sy vooruitsigte vir die toekoms. Oornag in hotel in Monte Maíz. 

Donderdag, 30 Augustus 

Besoek die Río Cuarto-landbouskou waar van Argentinië se voorste vervaardigers teenwoordig gaan wees. Oornag in hotel in Río Cuarto. 

Vrydag, 31 Augustus 

Besoek die Bio4-biobrandstofaanleg waar daar etanol uit mielies vervaardig word. Besoek die navorsingsstasie by Villa Mercedes waar 'n gemengde boerdery op 'n volhoubare geenbewerkingssisteem bedryf word. Oornag in hotel in San Luis.

Saterdag, 1 September 

Besoek die SER-voerkraal en besproeiingsplaas asook 'n kommersiële bees- en graanboer in 'n deel van die land waar landbouproduksie nie moontlik sou gewees sonder geenbewerking nie. Oornag in 'n hotel in San Luis.

Sondag, 2 September

Reis na die bergagtige omgewing van Mendoza waar meer as 1000 wynplase geleë is. Onder meer die gewilde Argentynse malbec word hier gepubliseer. 

Oornag in 'n hotel in Mendoza.

Maandag, 3 September

Besoek nog wynplase en vlieg terug na Buenos Aires. Oornag in hotel in Buenos Aires. 

Dinsdag, 4 September

Vertrek na Suid-Afrika.

Klik HIER vir die toerbrosjure.